28 dae gelede
Chaos bars los toe Zeno se woorde ’n werklikheid word
 ~ 

GENIET vandag hoofstuk 9 van nog ’n verhaal deur die ou hand SALMON SMITH. Hy roep dit “Die Vreemde Klong”.

PAST. Ockhuys probeer nog uitwerk hoe hy en Zeno sommerso vanuit die interrogation room hier buite op die kaal kol beland het sonder om by die deur uit te kom.

Hy besef Zeno het werklik magiese kragte. Hy het dít gebruik om hulle twee soort van te teleport – die verplasing van materie van een punt na ’n ander sonder om die ruimte tussenin fisiek te kruis. Dit kan deur sekere gateways gebeur.

Dít het wragtag snaaks gevoel. Byna asof hy deur ’n warrelwindtonnel ingesuig en hier uitgespoeg is.

Hy kyk verbaas af na Zeno, wat sy hand stewig in syne vashou.

Dís toe hy opmerk die klong staar stip na iets bokant hulle in die lug.

Past. Ockhuys ruk sy kop op. Dit voel of die bloed in sy are stol toe hy die vreemde maalkolk bokant Duiwelskloof gewaar. Dit lyk asof elektriese energie daar bedrywig is. Daar is weerligstrale en sparks.

Dis presies in die middel van ’n angswekkende onderstebo driehoek, wat oor die hele kloof strek. Past. Ockhuys bekyk die driehoek.

Die twee “horings” van die bergspitse vorm saam die boonste deel van die onderstebo driehoek. Dit lyk nou kompleet soos ’n bokkop.

’n Ysige rilling hardloop teen sy rug af toe hy besef dit lyk soos die duiwel se kop. Hy kyk vlugtig om hom rond. Hy sien die bedrywige soldate is nog onbewus van dít wat hier hoog bokant hul koppe aan die gebeur is.

“Die tyd het aangebreek,” prewel Zeno in Aramees. Past. Ockhuys voel hoe ’n knop in sy keel kom sit. Hy probeer dit afsluk, maar dis ’n hardnekkige knop.

“Vader, help ons,” prewel hy vinnig ’n skietgebedjie.

“Dít is hoekom ek hier is! Om julle te help!” reageer Zeno as antwoord op sy gebed.

“Daar is hulle!” hoor hulle skielik ’n bulderende stem vanaf die ge­boutjie waarin hulle nog sekondes tevore aangehou is.

Albei se kop ruk om daarheen. Kol. Van Deventer en sy twee ondergeskiktes storm geweer in die hand op hulle af.

“O hel, Zeno, ons sal moet vlug, anders skiet hulle ons!”

“Nee, húlle gaan nou halsoorkop moet vlug, want die tyd het aangebreek dat daai demone hier losgelaat gaan word!” stel Zeno hom gerus en beduie na die middelpunt van die draaikolk.

Past. Ockhuys kyk grootoog hoe die draaikolk afspiraal grond toe, amper soos ’n elektriese warrelwind. Tóé breek ’n harde, onaardse gebrul los. Dit weergalm tussen die klowe deur.

Eers toe raak die soldate bewus van die gedoente in die lug. Hulle steek viervoet in hul spore vas.

Al die ander amptenare se koppe ruk op. Dit lyk of hulle ook nou eers die snaakse gedoente gewaar.

Almal staar bewegingloos na die spiraal. Die punt is al byna op die grond in die middel van Duiwelskloof. Ontwortelde bome vlieg die hele wêreld vol toe die spiraalpunt die grond met ’n helse knal tref.

Toe die eerste onaardse monster in die spiraal aftuimel en op die grond val, is daar skielik beweging onder hulle.

“O, Jarra, die duiwel is losgelaat!” gil iemand hardop. Hy probeer naarstig om uit sy oorpak te klim en ploeg op die grond rond.

Almal skarrel in verskillende rigtings toe nóg dierasies op die grond neerval.

Grootoog en vasgenael kyk past. Ockhuys hoe die gedrogte die bome uit die pad hardloop – reguit op pad na hulle toe.

Hierdie gedrogte lyk vir hom kompleet soos daardie predator-gedaante wat Arnold Schwarzenegger destyds so laat les opsê het in daardie movie.

Hulle lyk net baie groter en meer aggressief.

“Vuur!” weergalm kol. Van Deventer se bevel oor die gebied.

Die soldate lig hul gewere en laat sarsies swaarkaliber-geweervuur op die aanstormende demone los.

Maar dit lyk asof die koeëls wegskram van die gedrogte, wat nou die eerste geboue bereik het.

Past. Ockhuys sien hoe die voorste linie monsters deur die geboutjie hardloop waar hy en Zeno minute tevore aangehou is.

Jy sien net houtpanele, glas en elektroniese toerusting die hele wêreld vol spat.

Eers toe die monsters die soldate die naaste daaraan vermorsel, besef kol. Van Deventer hul koeëls het geen uitwerking op die gedrogte nie.

“Bring die grofgeskut!” bulder hy. Tenke en swaar artillerie kom skielik van tussen die bome te voorskyn.

Nou is die gedrogte op hulle! besef past. Ockhuys. Hy kyk paniekbevange af na Zeno, wat daar so stil en kalm staan.

“O-ons s-sal hier moet wegkom!” stotter hy.

Zeno vat sy hand stewiger vas. “Nee, daardie gedrogte sal niks aan ons maak nie,” sê hy.

Tot sy stomme verbasing sien past. Ockhuys hoe die demone rondom hulle verbyhardloop en verwoesting saai sover hulle gaan – so asof die monsters nie van hulle bewus is nie.

Die gedrogte skeur die soldate sommerso middeldeur en stukke kadawer word oral rondgestrooi.

Selfs die grofgeskut wat nou op die vreeslike demone losgelaat word, spat soos vuurvonkies van hul groot, gepantserde lywe af.

Die paar helikopters wat rondstaan, disintegreer in vuurbolle soos die gedrogte dwarsdeur dit hardloop.

Van die demone swenk dorp se kant toe.

Tóé weet past. Ockhuys dit is nou die einde van Rustenville dié.

Met trane in sy oë sien hy kol. Van Deventer het ook nou boedel oorgegee. Hy en sers. Voight spring gelyk in een van die gepantserde voertuie en laat spat vir die bosse.

Hy maak sy oë toe. “Vader, red ons,” prewel hy saggies.

Skielik pluk Zeno aan sy hand. Hy kyk af na die klong.

Zeno beduie na die twee horingagtige spitse van die berge aan weerskante van die kloof.

“Daardie bakens gee daardie spiraalvormige portal krag,” sê Zeno in sy taal. “Ons moet die soldate aansê om daardie bergspitse weg te skiet met enige iets wat hulle tot hul beskikking het.

“As dit vernietig is, dan maak daardie portal outomaties toe.

“Dit sal die weerstand verswak van die demone wat reeds hier losgelaat is. Dan kan ons met hulle hier klaarspeel.”

Dit lyk asof daar nuwe lewe in past. Ockhuys ingeblaas is.

“Kom, ons moet kol. Van Deventer onmiddellik gaan inlig!”

“Wag, ek moet eers gou iets gaan doen,” sê Zeno en stap na een van die geboue wat nog staan.

In stille verbasing sien Ockhuys, hoe Zeno deur die gebou se muur verdwyn en toe ewe skielik weer hier langs hom verskyn.

Terwyl hy woordeloos na Zeno staar, voel hy hoe ’n rukwind hom oplig. Toe hy hom weer kom kry, staan hulle twee in die teerpad wat deur die bosse in Duiwelskloof loop – reg in die pad van kol. Van Deventer en sers. Voight se aankomende pantservoertuig.

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters