17 dae gelede
Carlo is spyt dat hy aangebied het om te help
 ~ 

SONLANDERS, die verhaal “Die Plan” uit die pen van GWENDOLINE KORDOM gaan vandag voort.

Geniet nou die derde hoofstuk.

‘MY NAAM is Leila.”

Leila staar na haar redder terwyl dié sy wond verbind. Hy praat nie ’n dooie woord nie; gaan net verder met die taak.

Sy dink aan gisteraand en kan amper nie glo sy aanskou ’n splinternuwe dag nie.

“Ek is Carlo,” kom dit onverwags van sy kant.

Leila glimlag. Hy is nie so hardekwas as wat hy voorgee nie.

Carlo het gisteraand iemand gebel wat hulle iewers langs die pad opgetel het. Carlo het versoek dat die man hulle iewers heen neem waar niemand na hom sou soek nie. Hy’t haar ook toegelaat om sy selfoon te gebruik.

Die man het hulle na een van die strandhuise in Kleinbaai gebring. Leila het geprotesteer. Dis dan die plek waarheen Bishop haar gebring het.

Carlo het verduidelik dat hy op sy motor se registrasienommer gesoek sal word en dis in die volgende dorp, Duinefontein. Leila­ moes haar instink volg en hom vertrou.

“Hoekom wil iemand jou dood hê, Leila?”

Leila kyk vinnig weg toe Carlo intens na haar staar. Hoe verduidelik sy die situasie?

Sy weet Dino sal nie skroom om Carlo leed aan te doen nie. Dino is ’n monster.

“Ek let op jy dra ’n ring aan jou linkervinger. So, jy’s getroud?

“Dit kan tog sekerlik nie jou man wees wat na jou soek nie.”

Leila sug. “Die ou wat op ons geskiet het, werk vir my man. Sy naam is Bishop.

“Sjoe! Wat het jy aangevang dat jou man bereid is om jou dood te maak daarvoor?”

“Dis ’n lang storie,” sê Leila.

“Wel, ons het genoeg tyd, so ek wag in spanning.”

“Wanneer is jy van plan om my hier weg te kry?” vra sy. “Ons kan nie vir ewig hier bly nie.”

Skaars ’n dag later met ’n man wat sy beswaarlik ken en sy praat al van “ons”. Sy moet liewer op haar eie bene leer staan en minder van ’n man afhanklik wees.

Kyk waar het dit haar. Op hierdie oomblik moet sy seker vat wat in haar rigting kom.

“Dis nie asof jy my ’n keuse gegee het nie. Ons wag totdat die stof gaan lê. Eers dán sal ek jou hier wegneem. Dis seker onnosel om te vra of jy familie iewers het?

“Dis tog een van die plekke waar hy sal soek,” vra Carlo.

“Dino Maartens is bloot ’n gewetenlose, magsbehepte monster van ’n man. Ek haat hom!”

“Praat jy van dié Dino Maartens? Ek het al baie van hom gehoor.

“Sy suksesstorie word oor en oor vertel. Van ’n armgat-klong tot een van die grootste sakemanne in die streek.”

“Jy laat hom soos een of ander supermens klink.”

“Wel, hy is tegnies een. Daai ou het draadkarre verkoop toe hy skaars heuphoogte was. Toe later as verkoopsman begin werk by die grootste motorhandelaar in Kroonkop.

“Later die eienaar van daardie einste besigheid geword en vandaar sukkelende besighede opgeraap totdat hy byna al die besighede in Kroonkop besit het.

“Dan praat ek nie eens van sy vennootskappe met ander magtige sakemanne in die streek nie. In Duinefontein is hy welbekend. Ek kan amper nie glo wat ek hoor nie. Vertel my meer, asseblief.”

“Watter tipe werk doen jy?” vra Leila agterdogtig.

“Ek is betrokke in die media.”

“Geen wonder jy is skielik so nuuskierig nie,” sê Leila.

“Ek is in die bemarkingsafdeling. Sorg dat die koerant mense in die streek bereik en dat besig­hede gereeld daarin adverteer.”

“Ek het reeds te veel gesê en dink dis nie meer ’n goeie idee om my storie met jou te deel nie.

“Ek verbied jou om enigiets te plaas wat ek gesê het.”

Sy vlieg op. “Dankie vir jou hulp, maar dis beter as ek nou gaan.”

“Niemand kan jou help as jy nie jou kant van die storie vertel nie, Leila. Dit beteken ook nie dat ek jou storie as goedkoop sensasie beskou nie.

“Dis ernstige aantygings wat eers ondersoek moet word. Ek is ’n man met integriteit. Jy het hulp nodig en as ek jou kan help dan sal ek.”

Carlo verwens daardie laaste woorde. Hy verstaan nie homself nie.

Net gisteraand wou hy so ver as moontlik van haar wegkom en nou pleit hy by haar om sy hulp te aanvaar.

Is dit werklik wat Yvonne sou wou hê? Dat hy ’n wildvreemde vrou inneem en boonop glo?

Leila lyk op die oog af onskadelik en werklik bang.

“Okay, ek sal jou rofweg die storie gee. Ek is in die minder gegoede deel van Kroonkop gebore. Soos jy weet, is werk skaars hier rond as jy nie ’n graad of iets dergeliks het nie.

“Ek is een van daardie meisies wat nog altyd met ’n ryk, gesiene man wou trou en het toe by my voorneme gehou.”

“’n Vrou met ambisie. Skort niks daarmee nie,” sê hy.

“Dino kom uit dieselfde armoedige gebied as ek. Ek het nooit juis aandag aan hom gegee toe hy ’n nobody was nie. Eers later toe hy iets in die lewe bereik, het ek hom raakgesien.

“Ek het op ’n jong ouderdom my ouers verloor en is deur my ouma grootgemaak. Al het ons dit nie breed gehad nie, het Oumie altyd gesorg dat daar kos op die tafel is.”

“Ná matriek kry ek werk by die munisipaliteit. Dis hier waar my en Dino se paaie gekruis het.

“Teen daai tyd was Oumie oorlede. My enigste nabye verhouding was met drie vriendinne saam met wie ek grootgeword het. Cynthia, Natasha en Bianca.”

“Waar is hulle nou en hoekom kan nie een van hulle jou help nie?” vra Carlo.

“Hulle het gesterf in ’n motorongeluk so ’n paar maande gelede. Motor se remme het gefaal.”

“Hoekom kry ek die idee daar is iets sinisters aan die ongeluk?

“Het iemand aan dier kar gepeuter?” vra Carlo.

“Dis wat ek vermoed, maar ek het geen bewyse nie. Ek weet dis Dino se handewerk.”

“Hy klink na die een of ander mafiabaas. Geen wonder jy is so skytbang nie. Ek wonder of ek nie dalk te haastig was om jou te help nie,” sê Carlo.

“Ek sal verstaan as jy wil hê ek moet gaan. Kan jy my asseblief net help met kontant? En ek wil ook weer jou selfoon gebruik.

“Daarna sal ek uit jou hare wees,” sê Leila teleurgesteld.

Carlo oorhandig sy selfoon en ’n paar honderd rand aan haar.

“Ek is in die kombuis as jy my soek.”

Leila kyk of daar enige terugvoer op haar boodskappe was. Sy plaas die selfoon op die koffietafel neer.

Dan stap sy met geboë skouers na buite. Wat baat dit om tot siens te sê?

Sy weet dalk nie wat om volgende te doen nie, maar sy kan ten minste keer dat nog ’n persoon ter wille van haar sterf.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters