20 dae gelede
Brent vind hom die middelpunt van moeilikheid
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag gaan ons voort met Broederliefde, die nuwe verhaal uit die pen van GWENDOLINE KORDOM. Geniet gerus hoofstuk 2.

BRENT weet nie waar dit alles gaan eindig nie. Sy ouer broer Ruan het hom op ’n jong ouderdom geleer ry en dis daardie driving skills wat gehelp het dat hy telkemale vir Rudy uit tight corners kon kry. Die gedagte aan sy ouer broer laat hom vorentoe strompel.

Brent volg stil Rudy se opdragte. Terwyl hy seker maak die man se sakke is leeg, probeer hy om nie na die dooie se gesig te kyk nie. Hy kry dit egter nie reg nie. In die dowwe lig staar die man se dooie oop oë na hom.

Here, wat doen ek? Ek’s mos nie só grootgemaak nie. Brent vlieg op en strompel na die wagtende motor.

What kind nou met jou, huh? Djy weet mos djy’s die driver.”

Tokkie gluur Brent aan totdat hy bewend agter die swart Ford Kuga se stuurwiel inskuif. Hy is 20 en sy hele lewe lê nog voor hom. Maar kyk waar sit hy vanaand. En dit deur sy eie ongehoorsaamheid.

Brent ervaar ’n aaklige gevoel van onheil terwyl hy die motor aan die gang kry. Sy ouers is godvresende mense. Sy pa die pastoor van die Ligtoring Kerk. Van kleins af is hy oor die Here geleer. Sy ma se woorde kom skielik by hom op.

“Brent, maak nie saak wát jy doen of waar jy is nie. Onthou, God is altyd met jou.”

Dieselfde ma wat toegekyk het hoe sy pa hom uit die huis verjaag toe hy met sy stout weë begin het.

Hy wonder oor Ruan en of hy nog in die army is...

Wonder Ruan oor hom? Sal hy eendag na hom kom soek? Hulle twee het nog altyd ’n noue band gehad. Maar Ruan het ná die eerste jaar in die army stil geword. Tot op die punt dat hulle niks meer nuus van hom ontvang het nie. Dit voel soos jare gelede dat hy sy broer laas gesien het.

Ruan sal glad nie beïndruk wees met sy lewenswyse nie. Hy dink weer aan die lewelose man wat hulle daar in die vlei gelos het. Die ou het heeltyd oor sy vrou, Kate, aangegaan.

“Here, vergewe my,” prewel Brent.

Die man lyk nog so jonk. Min of meer dieselfde ouderdom as wat Ruan nou moet wees. Ek het hom nie doodgemaak nie, dink Brent.

Doen dan die regte ding, seun.

Brent skrik en die voertuig swenk na regs. Hy pluk aan die stuurwiel en kyk dan verskrik rond. Daardie stem? Was dit in sy kop?

“Jy moenie sleg ry nie. What kind met jou, huh?” vra Tokkie.

In die truspieël sien Brent hoe Rudy met skrefiesoë na hom kyk.

“Is jy weer besig met jou old ways? As ek uitvind jy roek weer, is daar pêre.”

“Nee, boss. Ek roek nie. Was net ingedagte,” keer Brent vinnig.

“Ek het vir boss gesê die laitie het nie die plak vir dié goed nie. Boss moes hom in die lab gelos het.” Brent draai sy blik na Tokkie, wat hom met ’n grynslag aanskou.

“Vir jou moer ek,” sak Brent af.

“Wie, jý? Baklei dan soos ’n sissie met jou sagte hande! Tsek, jy! Ek trap vir jou!”

“Hou op met julle stront!” klap Rudy se stem van agter. “Ek het ’n job vir jou, Brent. Ek wil hê jy moet tydsaam deur die dooie ou se belongings gaan. Ek sien hy was ’n dokter en het nogal gespog oor sy baie geld. In Soneike bly ryk mense. Spoor sy vrou op. Sy is ons next target.”

Brent voel hoe sy maag ’n draai gee. Hy hou glad nie van die toon in Rudy se stem nie. Dit beteken net een ding. Moeilikheid!

KATE Human staar met dowwe oë voor haar uit. ’n Week is verby sedert Charles se gedenkdiens by die Tygerberg Hospitaal. Huldeblyke het van oral ingestroom. Charles was ’n gunsteling onder sy pasiënte en baie geliefd onder sy kollegas.

Nou sit sy hier. Stoksielalleen in hierdie kasarm van ’n huis.

Die polisieondersoek is nog aan die gang. Tot op hede is daar niemand vasgetrek nie. Die gebied waar Charles se liggaam gevind is, is tot in die fynste besonderhede vir leidrade gefynkam. Elke keer moet sy hoor hulle volg elke leidraad op. Word wetsbeamptes deesdae net betaal om op hul agterent te rus? Self hul motor kon nóú nog nie opgespoor word nie.

Volgens die ondersoekbeampte Michael Stander het die skurke hul spore deeglik probeer uitwis, maar hy is amper seker forensies sal met iets vorendag kom. Hoe slaap hierdie hartelose monsters snags? Het geen van die lot dan ’n gewete nie? Sy bid sonder ophou vir geregtigheid vir haar man.

Kate vlieg op van die rusbank toe ’n harde klop teen die sitkamervenster val. Slapeloosheid het haar na die voorhuis gedwing. Die voorvertrek is in donkerte gehul. Sy kyk in die gang af. Die lig uit die gang moes seker iemand van buite se aandag getrek het. Dis net ná middernag. Sy moes na Jennie geluister en vir ’n rukkie daar gaan woon het. Maar hoekom moet sy? Sy het die reg om te woon waar sy wil. Hoekom moet hierdie varke oor haar doen en late besluit?

As die polisie hul werk reg doen, hoef sy nie heeltyd in vrees te lewe nie, maar deesdae beheer die skollies mos alles. Sy kry al ’n ruk die gevoel dat sy dopgehou word – reeds sedert die oggend wat sy die nuus oor Charles ontvang het. Sal die ouens so vermetel wees om háár ook op te spoor en leed aan te doen? Hulle behoort teen dié tyd te weet die polisie is op hul spoor.

Sedert die begrafnis was sy ook nog nie werklik alleen nie. Charles se ouer broer, Christo, het deur die hele ordeal haar hand vasgehou. Selfs aangebied dat sy vir ’n rukkie by hom in Durbanville bly. Sy het egter sy aanbod van die hand gewys.

Dis vanaand die eerste aand dat sy alleen is. Jennie, haar goeie vriendin, is vanoggend huiswaarts.

“Dié groot huis gee my die creeps,” was haar afskeidswoorde.

Sy wou hê Kate moet eerder by haar intrek in haar tweeslaapkamerwoonstel in Goodwood.

Kate was net op pad om seker te maak ál die deure is gesluit toe sy voetstappe buite die venster hoor.

Sy raap haar selfoon van die koffietafel op. Terwyl haar bewende vingers op die skerm tik, hoor sy duidelik hoe iemand na haar roep.

Haar hart slaan tamboerslae in haar binneste. Tog beweeg sy soos ’n robot na die venster en pluk die gordyn in een beweging oop.

Haar gesig verstar. Die jong donkerkop-ou aan die buitekant ken sy nie. Hy beduie met sy oë na die voordeur. Loer dan oor sy skouer asof hy enige oomblik iemand agter hom verwag.

Die gil skeur onverwags oor haar lippe. Die ou se oë vergroot en dan spring hy om en nael vir die voorhek. Hy gee haar ’n laaste kyk voordat hy oor die staalhek klim en verdwyn.

Kate bel Michael Stander.

Brent hardloop al langs die heining af. Honde blaf oral en spoor hom aan om vinniger te hol. Dan sien hy iemand in een van die erwe aan sy regterkant.

’n Swartgeklede figuur klim oor die heining en kom op ’n drafstap agter hom aan.

Sy kar is vier blokke verder in die donkerte geparkeer... maar hy weet nie of hy dit gaan maak nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters