18 dae gelede
Brent maak ’n besluit wat sy lewe kan change
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag gaan ons voort met “Broederliefde”, ’n nuwe verhaal uit die pen van GWENDOLINE KORDOM. Geniet nou hoofstuk 4.

‘WAARVAN praat jy, Ruan?”

Ruan gryp Brent aan die arm en stuur hom die donkerte in tot in ’n slaapkamer aan die einde van die gang.

“Dit lyk asof jy die huis goed ken. Wie se huis is dié, Ruan?”

“Die huis behoort aan ’n vriend van my. Sit daar op die bed.”

Brent gaan sit, sy oë pieringgroot.

“Die ou van die huis is nie op die oomblik hier nie. Ek pas die huis vir hom op.”

Brent moet ’n paar keer sy oë knip toe Ruan onverwags die kamerlig aanskakel en oorkant hom in ’n stoel gaan sit.

“Hoe weet jy van Kate en haar man?” wil Brent weet.

“Behalwe dat ek dit al heelweek op die nuus sien, het die afgestorwene se broer my gehuur om die moordenaars uit te wis. Ek is ’n laksman.”

Brent vlieg op.

“Jy is wát?! Wat van die army? Weet Mammie en Daddy hiervan? Weet hulle jy is ’n killer?!”

“Hou jou bek en sit! Wat jy gedoen het, is niks beter as wat ek doen nie! Besides, wat dink jy doen mens in die army? Ek werk tans vir ’n organisasie wat misdaad bekamp.

“Of ten minste probeer. Dan doen ons ook privaat opdragte, soos in hierdie geval. Wat ons doen, is veronderstel om Saps se werklas te verlig, maar soos dinge nóú aangaan, weet ek nie.

“Die mensehandelsindikate word groter. Meer en meer onskuldige mense sterf by die dag. Dinge eskaleer. Die ou in beheer van die organisasie doen werwingswerk in die weermag en die navy. Hy het my binne ’n jaar opgeraap.

“Ek mag nie eintlik veel hieroor praat nie, Brent. Ek wil net hê jy moet probeer verstaan wat ek doen en hoekom ek verdwyn het.”

“Nou is jy hier. Weet Mammie jy is terug?” vra Brent.

“Ja, sy het gevra ek moet jou opspoor. Mammie is kláár, Brent, en dis alles oor jou. Ek sal kyk wat ek kan doen om jou uit hierdie gemors te kry. Daarna moet jy huis toe gaan.”

Brent is weer op sy voete.

“Ek gaan nie terug huis toe nie! Daddy het my soos ’n hond van sy jaart af gejaag terwyl Mammie gestaan en toekyk het! Sy het niks gedoen om hom te keer nie!

“Jare moes ek toekyk hoe hy haar met ander vroue in die kerk verneuk! Noem homself ’n pastoor terwyl hy die kat in die donker knyp en Mammie laat ál die dinge toe! Sy is mos verleë vir hom! En waar was jy?”

“Om my te blameer gaan nie die situasie verbeter nie, Brent. Hoekom dink jy is ek weg army toe? Om weg te kom van al daai dinge. Maar ek het intussen iets geleer.

’n Man bly verantwoordelik vir sy eie lewe. Om vir Daddy of vir my vir jou foute te blameer, maak nie van jou ’n man nie. Jy was 14 toe ek daar weg is. Het ek jou dan niks geleer nie, Brent? Hoekom het jy steeds gekies om die verkeerde paadjie te loop?

“As jy gebly het, sou ek nie,” antwoord Brent met sy oë op die vloer.

“Jy kon nie vir ewig op my steun nie, Boetie. Dan sou my lesse mos niks beteken het nie. Jy het die strate survive. Dis nie almal wat dít kan sê nie. En jy gaan ook dié ding survive. Hoekom was jy by daardie huis, Brent?”

“Om haar te waarsku. Rudy is van plan om Kate te ontvoer. Hy soek daai mense se geld.

“Ek wou haar sê om te vlug of iewers te gaan skuil.”

“Het jy haar man doodgemaak?”

“Nee, ek wou dit juis keer, want ek kon sien hy was ’n decent man. Daar was egter nie tyd om aan ’n plan te dink nie. Ek het in daardie laaste oomblikke uit desperaatheid die pistool by Rudy gegryp en langs sy kop verby gemik. Ek wou hom net ’n skraapwond gee sodat die ander kon dink hy is dood. Maar daar langs die vlei is dit donker. Hy het ná die skoot agteroor geval.

“Ek het genuine gedink hy is dood. Hy was toe nie en die ander twee het dit agtergekom. Rudy het hom twee skote deur die bors gegee.”

Brent sak op die bed neer en gryp sy kop tussen sy hande vas.

“Moenie worry nie, Brent. Ons gaan die ding fix. Jy gaan my help om Rudy in ’n lokval te lei. Vanaand nog.”

“Is jy mal, Ruan?!” wil Brent weet. “Rudy sal my vrek maak. Ek’s jammer, maar ek gaan jou nie help nie.”

“Ek het jou nie gevra nie. Dis ’n opdrag,” sê Ruan met ’n besliste toon in sy stem. “Ons sal wag totdat die polisie die vrou na ’n plek van veiligheid neem. Dan sit ons my plan van aksie aan die rol. Ná vanaand sal jy nooit weer hoef te worry oor Rudy nie. Dis ’n belofte, Brent.”

Brent staar na Ruan. Hy ken hom en hy weet Ruan sal nie vir hom lieg nie. Hy onthou die dag toe Ruan weg is.

Dit was een van die swaarste dae wat hy al ooit beleef het. Skielik was hy alleen. Daar was nie meer ’n broer in die nabyheid nie. Wanneer hy geval het, was Ruan daar om hom op te tel.

As die boelies hom op laerskool geslaan het, was dit Ruan wat hulle uitgesort het. Ruan het hom geleer ry en krieket speel. Met hom oor die dinge van die lewe gesels.

Ruan was meer as net ’n broer. Hy was en is nog altyd sy rolmodel. En nou is hy hier. Hy het steeds daardie trotse houding aan hom wat Brent so bewonder het. Ruan se donker hare is in dieselfde styl as syne geskeer, nes toe hulle kinders was.

Brent glimlag. Ruan is hier en hy gaan Rudy vanaand uitsort. Skielik voel hy nie meer bang nie.

“Nou maar goed dan. Laat ek hoor wat die plan is ...”

DIS 02:00 toe die donkergroen Jetta naby Mimosastraat optrek en stilhou.

Rudy draai na Brent en vra: “Jy is seker die vrou se swaer het haar hier weggevat en niemand anders is in die huis nie?”

“Ja, boss. Ek is doodseker,” antwoord Brent.

“Jy het mooi gedoen, Brent.”

Brent sluk swaar aan die knop in sy keel.

Hy kon vir Rudy oortuig daar is juwele in die hoofslaapkamer. Hy kon hom ook oortuig dat die polisie nie bewus was van hom wat in die huis rondgesnuffel het nie.

Al waaraan Rudy op hierdie oomblik dink, is die juwele. En uitgevreet soos wat hy is, sal hy nie toelaat dat die ander ouens die rooftog sonder hom doen nie.

“Right, ouens. Laat ons beweeg,” sê hy aan die ander twee op die agtersitplek. “Brent, wanneer ek die message stuur, moet jy solank die kar aan die gang kry. Ek soek niks mistakes nie, ouens. Kry vir julle elkeen ’n paar handskoene.”

Brent staar by die voertuigvenster uit. Hy is bang Rudy lees die waarheid in sy oë. Ruan wag daar binne in die huis vir hulle. Brent het seker gemaak dat Tokkie ook by is. Hy kon aan Ruan ’n deeglike beskrywing van Tokkie gee.

Nou moet hy net sy cool hou totdat die drie die motor verlaat.

Brent staar die drie agterna toe hulle uiteindelik in die pad val en wonder in sy enigheid of hy hulle ooit weer sal sien.

Hy hoop vir sy eie gemoedsrus nie so nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters