19 dae gelede
Brent kry eers ’n verrassing en toe... ’n skok
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag gaan ons voort met Broederliefde, ’n nuwe verhaal uit die pen van GWENDOLINE KORDOM. Geniet nou hoofstuk 3.

OP DIE hoek gaan Brent staan en trek vinnig sy lyf teen die heining plat.

Tokkie is reg. Hy kan nie baklei om sy lewe te red nie. Maar in sy dae op straat het hy iets wys geword. As jy nie kan baklei nie, moet jy vinnig kan dink.

Hy spring ligvoets oor die muur en versteek hom in ? donker kol.

Die ou se voetstappe word ál hoe harder. Brent kan nou die sirene van ? polisievoertuig in die verte hoor.

Vanaand word hy gevang. As die ou hom nie voor dán vrek maak nie. Hy moes verder as dit gedink het, maar die Kate-vrou verkeer in lewensgevaar.

Hy wou haar waarsku en vra om pad te gee. Sy gedagtes stol. Hoekom hoor hy nie meer die voetstappe nie? Hy let ook op dat die hele buurt nou wakker is. Binnekort sal die mense van die erf waarin hy skuil, seker ook uitkom.

Brent kom gebukkend uit sy skuilplek. Hy moet hier weg voordat die polisie hom vang. Hy is oor die heining en het skaars die grond aan die ander kant geraak, toe hy voel hoe die ou hom van agter beetkry.

Hy druk iets hards en kouds in Brent se sy.

“Hou jou bek of jy vrek,” sis die ou in Brent se oor. Hy sou in elk geval nie raas nie, al kon hy.

Daarvoor is die geluid van die sirene te naby. Hy word terug in die donker erf tot in die agterplaas gedwing.

Verbaas kyk Brent in die halfdonker hoe die ou met die balaklawa met die agterdeur se slot vroetel. Toe die deur oopswaai, swaai hy om na Brent.

“Gaan in!” beveel hy. Brent kyk vir oulaas agter hom. Hy is amper spyt Rudy het nie iemand as ? skaduwee agter hom aangestuur nie.

Niemand gaan hom nou meer red nie. Hy steek sy voet oor die drumpel en verstaan skielik hoe daardie dooie ou moes voel. Presies soos hy nou voel. Soos ? lam ter slagting.

DIE geluid van skreeuende bande laat Kate van die bank opvlieg. Sy is besig om die veiligheidshek oop te sluit toe Michael Stander na die voordeur aangedraf kom.

“Mevrou Human, is u oukei?”

Nadat hy die deur agter hulle gesluit het, lei hy haar na die voorste vertrek.

“Ek het die naaste patrollievoertuig in kennis gestel. Hulle fynkam die gebied op soek na die ou en sal ook van die buurt se mense ondervra. Kan u my net weer ? beskrywing van die verdagte gee?”

“Kort, donker, geskeerde hare, met wakker donker oë en ? reguit neus. Lig van kleur. Hy is ? mooi jong man en lyk heel ordentlik.

Dalk wou hy net iets te ete gehad het. Ek weet nie. Dis moeilik om te sê. Daar is nóg iets. Hy het vir my bang voorgekom, asof hy enige oomblik iemand agter hom verwag.

Dalk was hy bedwelm. Dalk nie. Hy het met sy oë na die voordeur beduie, asof hy wou hê ek moes hom inlaat. Ek het geskrik, maar besef nou ek het glad nie bang gevoel nie.

“Dalk wou hy ? boodskap oordra.

“Dalk is hy ’n getuie in my man se moord. Julle moet hom kry, asseblief. Daardie klong weet beslis iets.”

“Of dalk is hy net as ? lokaas gebruik om u in die hande te kry. Het u hom al voorheen hier rond gesien?” wil Michael by haar weet.

“Nee, dis die eerste keer, maar ek het heeltyd die gevoel gekry dat ek dopgehou word.”

“Is daar iemand by wie u kan gaan oornag, of dalk ? rukkie woon. Of verkies u liewer dat ek u na ? plek van veiligheid neem?”

Kate skud haar kop.

“Ek weier om na ? safe house te gaan. Ek besluit nog of ek by Charles se broer of by my vriendin sal inwoon. Hoekom doen jy nie liewer waarvoor jy betaal word nie?” vra Kate sarkasties.

“Kry dan vir u ? tassie gereed. Ek sal agter u aanry. Ons sal hulle kry, mevrou Human. Dis net ? kwessie van tyd,” antwoord Michael geduldig.

“Dis wat jy gister ook gesê het. Intussen het ? week verby gegaan. Of wil julle eers hê die skurke moet my keelaf sny?” wil sy weet.

Hy verkyk hom aan die swart van haar oë en bedink hom liewer. Tog verstaan hy haar woede.

As sy maar net weet hoe moeilik dit vir hom is om die stukke bymekaar te pas om dan net weer in ? doodloopstraat te eindig.

Al die inligting word per ongeluk na die verkeerde ondersoekbeampte gestuur. Wanneer hy dit wel opspoor, is die spoor reeds koud.

Hy weet presies wat aan die gang is, maar in daardie korrupte departement sal hy nooit ? regte antwoord kry nie.

“Mevrou Human, u het my woord dat niks met u sal gebeur nie. Die skurke is nie die gewone tipe misdadigers nie. Hulle weet van tonele skoonmaak en onder die radar bly.

“Ek wou nie eers iets sê totdat ek iets konkreets gevind het nie.

“Die kringtelevisiekamera by die Engen waar jou man was, wys hoe ? wit Toyota Corolla ná hom vertrek. Ons kon twee van die ouens se gesigte op die skerm vasvang. Een is dié van ene Rudy Cooper, ? glibberige kalant.”

“Aangesien julle iets weet, behoort julle seker binnekort met arres­tasies te begin.”

“Rudy se voetsoldaatjies neem gewoonlik die misdade op hul skouers.

“Ons kan hom wel tydens die kaping in die omgewing plaas, maar om die nodige bewyse teen hom te kry, kan tyd neem. Die wit Corolla waarmee hulle gery het, is ? gesteelde voertuig.

“Ons het dit kaal gestroop aan die ander kant van die stad gevind. Ek dink die ouens kyk te veel crime shows en steel ál die idees daar.”

Kate is vinnig op haar voete.

“Ek dink ek kry maar my tasse reg. Hierdie gesprek is nutteloos.”

Sy gee hom nie kans om te reageer nie en verdwyn in die gang af.

DIE ou pluk in een beweging die balaklawa van sy gesig af.

Brent staar oopmond na hom.

“Ruan, waar de hel kom jy nou vandaan?!” blaker hy dit uit.

Voordat Brent kans kry vir nóg vrae, voel hy hoe Ruan hom teen sy bors vasdruk.

Brent wil lag en op dieselfde tydstip aan die grens gaan.

Kan dit moontlik wees dat die Here só goed is vir hom? Hier het hy verwag om te sterf en nou staan hy in sy broer se omhelsing. Hy voel hoe Ruan hom laat gaan.

“Jy moes nooit weggegaan het nie, Ruan. Kyk in wat het ek verander. Ek is ? gemors. My hart is ? gemors. Ek kyk toe hoe mense seergemaak word en doen niks nie.”

Brent staar soos ? dooie voor hom uit. Dan voel hy sy hand in syne.

“Voordat jy verder praat, wil ek iets weet. Wat de hel soek jy by daai weduwee se huis? Brent, moet my in hemelsnaam nie sê jy’s saam met die mense wat haar man vermoor het nie.”

Toe Brent knik, gryp Ruan hom aan sy skouers en skud hom hard.

“Weet jy wat dit beteken? Ek het so gehoop jy is nog op straat en ek het myself vertel dat dit nie jy is wat ek saam met Rudy sien nie.”

Brent skrik hom boeglam vir die koue kyk in sy broer se oë.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters