20 dae gelede
Brandon vind uit hoekom Jane en Kevin aangeval is
 ~ 

HALLO, Sonlanders!

Brandon laat Jane verstaan dat hy haar uitgefigure het – en presies wat hy van haar optrede dink. Lees lekker aan die vierde hoofstuk van ’n splinternuwe verhaal uit die pen van GWEN KORDOM. Die titel is Vergelding.

JANE sukkel om die tiener se slap lyf in die motor te kry. Ná sekondes wat soos ure voel, slaag sy uiteindelik daarin.

Sy vries toe ligte van ’n huis aan die oorkant van die straat aanslaan. Presies wat sy nou nodig het – ’n ooggetuie.

Jane skuif vinnig agter die stuurwiel in. Sy trek met ’n stink spoed weg toe die huis se voordeur oopswaai.

Sy jaag in die straat af totdat sy die uitgang vind. Dan stop sy ’n paar meter verder en haal die spuitnaald uit haar baadjiesak.

Sy draai na agter en spuit die geel vloeistof in die jong man se nek. Nadat sy in haar truspiëel seker gemaak het daar is niemand in die omgewing nie, trek sy stadig weg.

Sy voel trots op haarself. Teen môre sal mense soos Boena weet van haar.

Sy sal ’n merk los. Een wat ’n duidelike boodskap dra. Dan moet sy van haar motor ontslae raak.

Brandon Doeries ag homself ’n man wat dinge gedoen kry. Hy is van daardie tipe mense wat nie rus voordat sy taak voltooi is nie.

Dit is ook die rede hoekom hy sedert 06:00 op die telefoon besig is met ’n oud-kollega, Willy Scheffers. As daar nou iemand is wat hom met inligting kan help, is dit Willy.

Boena se familie is waar hy begin het. Hy het geweet iewers sal iemand ’n leidraad weggee wat Boena se whereabouts openbaar.

Sy gut sê vir hom Boena kruip hier in Witfontein reg onder die polisie se neuse weg. Dis wat ’n slim skelm sou doen.

Boena is ’n ou kalant. Van die tipe wat korrupte polisielede aan sy kant het. Dis hoekom die soektog na hom ook nie ’n prioriteit was nie en ’n onervare speurder die hoofondersoekbeampte was. Die inbraak by die Meyer- woning was ook nie ’n random voorval nie. Dit was beplan.

Jane se liefdevolle man, Kevin, was glad nie die man wat sy gedink het nie. Die aanval op Kevin was ’n wraakaanval.

Kevin en sy vriende was destyds tydens hul hoërskooljare direk verantwoordelik vir die dood van Boena se pa.

Jonas Olifant was die opsigter van die skool. Kevin en sy maats het met hul poetse en geterg gedurig in die hoof se kantoor beland. Eendag het een van hul poetse te ver gegaan en die oom se dood veroorsaak.

Hulle het blykbaar op hom afgekom waar hy aan die agterkant van die skoolgebou besig was om die buitevensters te was. Hulle het aan die leer begin woel en dit het hom van die boonste verdieping laat tuimel.

Die skool het dit as ’n fratsongeluk afgemaak.

Dis eers heelwat later dat een van die betrokkenes met die sak patats na vore gekom het.

Die ouers van die seuns het goeie prokureurs gekry en daar het niks van die saak gekom nie. Dit het Brandon net twee dae geneem om die inligting in die hande te kry. Hy wonder hoe die ondersoekbeampte dié stukkie history gemis het.

Brandon wonder hoe Jane daaroor gaan voel. Die vergelding wat sy soek, is ook iets waarna Boena gesoek het. Hy kry ook die gevoel iemand agtervolg hom en hy is amper doodseker dis Jane self.

Hy sal later in die dag met haar kontak maak. ’n Klop aan sy voordeur laat Brandon die lêer eenkant toe skuif. Dis die sekuriteitswag, Themba, met die koerant. Sy oog vang onmiddellik die hoofopskrif: Lyk van tiener langs hoofstraat gevind.

Terwyl hy vir hom koffie skink, dwaal sy gedagtes na die berig. Iets omtrent daardie berig hinder hom.

Nadat hy sy koffie gedrink het, gryp hy sy selfoon en skakel Jane se nommer.

“Dis Brandon. Ontmoet my oor ’n uur by dieselfde plek as laas.”

’n Uur later gee Brandon nie eens aandag aan Jane toe sy deur die swaaideure van Billy se Pub stap nie. Ook nie toe sy plaasneem nie. Dis eers toe sy sit en hom in die oë kyk dat hy stip na haar staar.

“Ek het geweet jy is moeilikheid die oomblik toe ek my oë op jou lê,” sê hy kalm.

“Waarvan praat jy?”

“Moenie jou dom hou nie, Jane. Die lyk van die tiener wat halfkaal in die hoofstraat gevind is. Die lyk met die letter J op die bors uitgekerf,” sis Brandon.

“Lyk ek vir jou na iemand wat in staat is om so iets te doen?” vra Jane, maar hy sien die vrees in haar oë.

“Hou op met die verdomde speletjies. Ek het jou duidelik onderskat. Jy kan vandag se betaling hou.”

Hy skuif die lêer na haar toe.

“Daarin sal jy die nodige inligting vind oor die presiese rede hoekom jou man vermoor is. Ek en jy is klaar.”

Toe Jane hardop lag, vang dit Brandon onkant.

’n Krieweling trek in sy rug op toe haar oë vernou.

“Nie so vinnig nie, meneer Doeries. Ek en jy is eers klaar wanneer jy Boena aan my uitlewer. Dít was die ooreenkoms.

“Of jou reputasie lê aan skerwe. Ek weet van die dinge wat jy in die verlede gedoen het.”

“Ek het die prys daarvoor betaal, so jy kan my met niks dreig nie. Wees dankbaar ek lewer jou nie self aan die polisie uit nie.”

Haar hand sluit om sy pols toe hy opvlieg.

“Asseblief, ek smeek jou. Help my om Boena te vind.”

“Wil jy hom ook vermoor soos die tiener? Die feit dat hy in dieselfde area as Boena woon, versterk my vermoede.

“Jy is besig met ’n gevaarlike speletjie, Jane. Wie ook al se seun dit was, kom vir jou. Ook Boena as hy uitvind jy soek hom.

“Jy is ’n lyk op twee bene. En as jy dink jy kan links en regs self skollies uithaal, dink weer.”

“Gaan jy my oorgee?” vra Jane,

“Nee, jou demone sal jou self na die regte plek neem. Ek voel jammer vir jou. Jy is soet aan die buitekant en bitter binne.

“Kry ’n sielkundige en probeer só oor Kevin se dood kom.”

Jane staar lank na Brandon toe hy wegstap. Sy gryp die lêer en storm uit. Twee slu oë volg haar vanuit ’n hoekie in die pub.

Boena staar die twee met ’n grim agterna. Met sy kaalgeskeerde kop en donkerbril is hy byna onherkenbaar. Dan staan hy op en stap na waar Billy, die eienaar, die hele scenario staan en dophou.

“Gee ’n double van jou beste whisky en maak dit snappy. Ek het ’n job wat wag.”

Billy struikel oor sy voete om die bestelling te kry. ’n Man soos Boena laat wag jy nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters