22 dae gelede
Brandon is vies dat sy kliënt hom so lank laat wag
 ~ 

HALLO, Sonlanders!

Ons skop die nuwe week af met die tweede hoofstuk van ’n splinternuwe verhaal uit die pen van GWEN KORDOM. Die titel is Vergelding.

JANE moes aan die slaap geraak het, want toe sy ontwaak, staan haar ouers langs die bed.

“Jane, my arme kind. Mammie is so jammer oor wat met jou gebeur het.

“Ek kan my nie indink waardeur jy moes gaan nie.”

Jane word styf teen haar ma se boesem vasgedruk. Toe is dit haar pa se beurt.

“My kind, ek is bly jy lewe en ek is so verskriklik jammer oor Kevin,” sê hy. “Ek wens daar was iets wat ek kon doen om dinge beter te maak.

“As jy enigiets nodig het, moet jy net praat, my kind.”

Jane knik en draai haar gesig weg. In haar gedagtes antwoord sy hom: Ja, Pa, daar is baie wat jy kan doen. Jy kan begin deur my te help om hier op te staan en die hele lot uit te roei.

Jy kan help deur te keer dat die hierdie haat in my hart my onderkry. Want die Vader weet wanneer ek hier opstaan, gaan ek iets doen.

Ek is nie meer dieselfde Jane van ’n paar ure gelede nie.

Die saggeaarde Jane is weg en in haar plek is ’n vreemdeling. Iemand gebore uit pyn en dis ’n pyn waarteen niemand haar gewaarsku het nie. Dit skrei ten hemele en soek na bloed.

Toe Jane ’n dag later ontslaan word, is haar ouers daar. Hulle dring daarop aan dat sy by hulle tuisgaan.

Die speurder bring goeie nuus. Hulle kon twee van die verdagtes opspoor. Die derde een, Boena, het die pad gevat, maar dis blykbaar net ’n kwessie van tyd voordat hy opgespoor word.

Jane kyk met leë oë na die bleskop-speurder. As hy ’n medalje verwag het, stel sy hom teleur.

’n Week later staan sy by die oop graf van haar geliefde Kevin.

Daar is geen emosie by Jane te bespeur nie.

Kort daarna is die hofsaak verby. Tandjies word gevonnis. Die jongeling, blykbaar Tandjies se broer, Kappa, sal in ? jeugfasiliteit aangehou word. Nie een van die twee het ’n woord oor Boena gerep nie.

Dié is steeds soek. Die speurder hou haar op hoogte.

Oproepe het blykbaar van oral gekom. Hy is al op ’n paar plekke gesien.

Daarna het dinge stiller geword.

Die speurder se fokus was op nuwe sake. Sy het nie verder gekarring nie.

Vier maande later staan Jane in haar kamervenster en tuur oor die donker nag. Sy het besluit om huiswaarts te keer.

Dit sou haar niks baat om in vrees te lewe nie. Sy is ook terug by die werk.

Nou kan haar lewe terugkeer na normaal. Maar Boena is daar buite en sy gaan alles in haar vermoë doen om hom te vind.

BRANDON Doeries kyk op toe ’n gryskopman deur die swaaideure bars en op ’n stoel naby die kroeg gaan sit. Hy kyk teleurgesteld weg. Nie die persoon wat hy verwag nie.

Billy se Pub is ’n bekende uithangplek in Witfontein, maar op ’n Maandagoggend gaan hier nie juis iets aan nie. Dis dié tyd wat hy verkies om sy kliënte te ontmoet.

Sy werk as privaat speurder laat hom wel nie soos ’n koning leef nie, maar dit betaal die rekeninge. Sit kos op die tafel.

Soms kry hy vreemde opdragte en voel die helfte van die tyd soos ’n stalker. Maar dis ook die enigste manier hoe hy inligting kry.

Om ander se bewegings dop te hou is sy brood en botter.

Brandon sug hardop. Sy kliënt is ’n uur laat. Hy beter vir Stanford, sy assistent, bel en inlig die kliënt is ’n no-show.

Hy klik sy tong terwyl hy in sy baadjiesak vroetel na sy selfoon.

Hy gaan in op sy laaste boodskappe en lees weer Stanford se boodskap. Die vrou se naam is Jane. Sy soek na iemand en het reeds ’n deposito neergesit.

Hoekom sal sy dan laat wees?

Dat ’n vrou met so ’n eenvoudige naam sy dag kom versuur. Toe kom ’n rietskraal vrou deur die swaaideure gestap.

Haar oë vee oor die vertrek totdat dit op hom fokus. Hy lig sy hand effens en sien hoe sy knik.

Dan kom sy aangewals en Brandon weet skielik nie waar om te kyk nie, want iets aan haar lyf hou sy oë gevange. Sy het omtrent opgedress vir die meeting.

Sy keel word skielik kurkdroog.

Sy sak in die stoel oorkant hom neer.

“Naam?” vra Brandon.

“Jane Meyer,” antwoord sy.

In die dowwe lig sien hy haar dik, krullerige hare is ligbruin. Sy dra geen grimering nie.

Sy is mooi, met mahoniebruin oë waarin ’n versteekte seer skuil.

“Hoekom het jy my so lank laat wag?” vra hy ná ’n lang stilte.

“Ek moes seker maak niemand agtervolg my nie,” sê sy.

“Hoekom sou iemand jou agtervolg? Is jy in die moeilikheid?” vra hy.

Die glimlag oor haar gesig is onverwags. Nie net versag dit daardie verleidelike oë nie, maar twee kuiltjies het boonop in haar wange verskyn. Hy beter koelkop bly.

“Kom ons gesels liewer besigheid. Jy wil hê ek moet iemand vir jou opspoor?”

“Ja, dis nogal dringend,” sê sy.

“Ek vra nie gewoonlik die hoekoms en waaroms nie.

“Ek wil net die nodige inligting hê sodat ek dit tot die beste van my vermoë kan gebruik. Stanford sê jy het daarop aangedring om my persoonlik die details te gee?”

“Ek en my pa het hom al probeer opspoor.

“My pa is ’n afgetrede polisieman en het van sy hulpbronne gebruik gemaak. Dit lyk asof die meeste van die ouens wat aan hom verbind is, self in die tronk of werklose dwelmverslaafdes is.”

“Maar ek weet daar moet iemand wees wat iets weet. Iemand het iets misgekyk, want dié Boena is ’n ou misdadiger.

“Hoekom niemand hom skielik in die hande kry nie, gaan my verstand te bowe. Die man is ’n dief en ’n moordenaar.

“Hy is die rede hoekom ek vandag ’n weduwee is. Die speurder het tot dusver nie veel moeite gedoen om hom in te bring nie. So, ek wil hê jy moet.”

“Boena? Hy was ’n hele ruk lank in die nuus, blykbaar hoofverdagte in ’n moordsaak. Hoe ken jy hom?” vra Brandon.

“Hy het my man vermoor en ’n maand gelede het hy van die radar af verdwyn.”

Jane druk ’n nota in sy hand.

“Dié is ’n lys van name verbind aan dié Boena.”

“Ek dink jy moet die speurder kontak,” sê Brandon, skielik nie meer seker of hy dié saak wil hanteer nie. Iets omtrent die vrou krap aan hom en sy instink vertel hom sy is moeilikheid.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters