8 dae gelede
Brandon is mooi moeg van Jane se afsydigheid
 ~ 

SONLANDERS, ons skop dié nuwe week af met GWENDOLINE KORDOM se “Storie 19”. Slaan jul tande nou gerus in die eerste hoofstuk. Geniet!

‘KAN ons gesels?”

Jane plaas die vurk in die bord, tel die papierservet op en klad dit dan teen haar mond.

Haar fokus is gerig op die man in die stoel oorkant haar.

Dis Brandon Doeries, ’n voormalige speurder in die SAPD en ook gebrandmerk as “The Fallen One” oor dade wat hy in sy loopbaan gepleeg het.

Tog is dit hy wat hom oor haar ontferm het in die donkerste tyd van haar lewe. Haar oë vind syne.

Brandon is aantreklik met ’n onweerstaanbare glimlag wat menige vrou se knieë laat knak.

Hoekom laat hy dan nie haar hart vinniger klop nie?

Dit is immers maande ná haar man, Kevin, se dood. Brandon het ’n gereelde gas geword.

Hy verras haar ook die hele tyd. Soos vanoggend toe hy haar vroeg uit die vere gejaag het vir ? oggenddraf net om die sonsopkoms op die koppies buite Witfontein te aanskou.

By hul terugkeer het hy ’n heer­like brekfis berei.

Nou sit hulle hier in die hoek van haar voorhuis by ’n tafel wat hy spesiaal gedek het. In die middel van die tafel pronk ’n vaas met die mooiste rooi rose.

Die idilliese set-up werk egter nie vir haar nie. Dit het ook nie die uitwerking waarvoor Brandon gehoop het nie.

Hoeveel keer is hulle al hierdeur? Brandon Doeries is duidelik nie ’n man wat maklik tou opgooi nie. Hy het haar in sy visier en dit alleen laat haar angstig voel.

“Jane, ek en jy kom al ’n rukkie aan en ek het gehoop op meer as net soentjies en drukkies teen hierdie tyd. Ons is volwassenes en nie tieners wat nou eers leer vry nie.

“Waarom kan ons nie dié verhouding na die volgende stap neem nie? Wat keer jou?

“Ek sien hoe jy na my kyk en weet jy voel ook iets. Of is ek verkeerd?”

Jane se mahoniebruin oë verdonker, maar sy swyg – te bang haar woede sal die verkeerde woorde laat uitspring.

Tipies man. Die bederfies was toe nie verniet nie.

“Wanneer jy in daardie bui verander raak ek bekommerd, Jane­. Ek wil jou nie druk nie, maar ek is ’n man en kan net soveel hanteer.

“Boonop lyk dit asof die terapiesessies help, so hoekom probeer jy nie ’n normale lewe lei nie?

“Wat is meer normaal as ’n man en vrou ...” Brandon laat die res van die sin in die lug hang.

Jane snap wat hy bedoel. Haar stilswye het die gewenste effek.

Brandon vlieg op en stamp byna die rose van die tafel af.

“Weet jy wat, Jane. Ek is moeg van jou stilstuipe en moeg van jou. Vlieg in jou maai!”

Toe hy by die vertrek uitstorm, staar Jane hom agterna. Dan gryp sy die bord en storm na die kombuis.

Daar gooi sy die bord met die half geëte spek en eiers in die vullisdrom. Sy gryp haar kop toe donker emosies deur haar woed.

Dokter Brummer, haar sielkundige, se stem dring deur haar gedagtes.

“Jane, wanneer jy met ’n uitbarsting of negatiewe emosie bots, probeer jouself eers kalmeer. Bring jouself terug na jou onmiddellike omgewing.

“Fokus op die eerste drie dinge wat jy sien en voel. Doen dan die asemhalingstegniek totdat jy kalm word.”

Niks wat dr. Brummer voorgestel het, werk op hierdie oomblik nie. Hy was reg – sy hou alles binne totdat dit oorkook.

Dis nie ál nie. Daardie donkerte wat sy saam met die uitbarstings ervaar, wil haar nie los nie al veg sy hoe hard daarteen.

Sy is moeg. ’n Onsigbare krag het ’n houvas op haar. Dit bring haar telkens terug na die aanval.

In daardie aanval het sy haar eggenoot, Kevin, verloor. Sy moes ook in daardie aanval gesterf het.

Daar is dalk ’n rede dat sy lewe. Iemand moet standpunt inneem teen hierdie sinnelose dade.

Dalk as sy toegee aan die donker kant, sal daar genesing kom. Sy weet ook waar sy moet begin.

Boena is dalk in die tronk, maar die res van sy makkers saai nog steeds verwoesting in Pakkiesdorp, Witfontein, en die aangrensende dorpe. Sy bly weg van koerante, maar soms vang iets haar oog.

Dan weet sy niks het verander nie.

Sy wil ’n normale lewe lei, maar kan dít nie ignoreer nie.

Brandon Doeries verstaan nie al hierdie dinge nie. Hy was eens op ’n tyd ’n wetstoepasser en die dinge wat sy beplan, bots daarmee.

“Ek is jammer, Brandon,” fluister Jane. Dan stap sy met afgemete treë na die hoofslaapkamer.

Enige vorm van aksie begin gewoonlik met ’n plan en daar is ’n duisend planne in haar kop.

Brandon Doeries trek sy motor in die gemerkte spasie in. Sy selfoon lui, maar hy ignoreer dit. Jane kan in ’n dam gaan spring as dit sy is. Hy is moeg van haar.

Hy is byna op die drumpel van sy deur toe hy die vrou gewaar.

Sy moed sak in sy skoene. Dis Sylvie, sy eks.

“Brandon, my liefie, ek wag al die hele oggend op jou. Waar loop jy so vroeg rond?”

Brandon se kakebene sluit. Wat het sy kom en gaan met haar te doen? Van wanneer af explain hy homself aan ’n vrou?

Hoekom kan Sylvie nie die boodskap kry nie? Die vrou wat sy hart begeer, wil hom nie hê nie en die een wat hy verafsku, maak ’n oorlas van haarself.

Wanneer het sy lewe so gekompliseerd geraak?

“Gee pad,” blaf Brandon.

“Is dit nou die manier om met ’n dame te praat?”

Sylvie beweeg nader en plaas haar hande om sy nek. Brandon gryp haar aan die bo-arms.

“Lees my lippe – ek en jy is klaar. Los my verdomp uit of ek kry ’n interdik teen jou. Verstaan ons mekaar?”

Dan laat hy haar so vinnig gaan dat sy byna agteroor slaan. Sy staar met ’n omgekrapte gesig na hom.

“Dis daardie vrou van wie jy nie kan van wegbly nie. Die een wie se man vermoor is.

“Vandat jy by haar betrokke is, bestaan ek mos nie meer nie. Sy ken duidelik nie vir Sylvie Opperman nie. Haar soort eet ek vir brekfis op.”

’n Siddering trek deur Brandon. Sylvie saal ’n mal perd op as sy dink sy kan vir Jane Meyer aanvat.

Jane het ’n paar maande gelede ’n moord gepleeg.

Hoewel niemand weet dis sy nie, weet hy.

Sy het haar spore doodgevee en die polisie boonop op ’n dwaalspoor gelei. Sylvie beter van haar af wegbly. Maar hoe sal hy dit nogal regkry? Sylvie luister dan net na haarself.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters