Verlede maand
Bongani was reg; dié plan was nie ’n goeie idee nie
 ~ 

HAAI daar, Sonlanders. “Wraak van die Gebrokenes” is GWENDOLINE KORDOM se nuutste verhaal. Geniet nou die tweede hoofstuk!

DIE klein voorvertrek is kaal, behalwe vir ’n ou bruin rusbank teen die muur. Daar is geen behangsels teen die mure nie. ’n Papegaaibont lap is statig oor die bank gedrapeer, asof iemand ’n bietjie kleur by die leë vertrek wou inbring. John se oë dwaal oor die vuil, bont gordyn wat windskeef hang.

“Sit,” sê Cheslyn. Dan verdwyn hy in die gang af.

Die ander neem oorkant John stelling in. John plak hom op die punt van die bank neer. Sy oë beweeg nie ’n aks van hulle af nie.

Die lat met die kaalgeskeerde kop staar uitdagend na hom. Dan kruip ’n lui glimlag oor sy gesig.

Die klein pes probeer seker vrees inboesem. Hy laat hom nie so maklik intimideer nie. John probeer verveeld lyk terwyl hy wag en hoor ná ’n rukkie voetstappe in die gang.

Die oomblik toe Cheslyn instap, is John op sy voete. ’n Donkerkopman verskyn langs Cheslyn.

John moet sy oë ’n paar keer knip voordat die besef tot hom deurdring: Die ou langs Cheslyn is nie Charlie Majiet nie.

Teleurstelling en woede kolk deur hom.

John weet hoe die Charlie-vent lyk, want hy en sy suster, Haylee, moes tydens die hofsaak elke dag in sy afgryslike bakkies vaskyk.

Gelukkig was die media en al die ander se fokus op Haylee oor haar status as beroemde sangeres. Charlie het nie aan hom veel aandag gegee nie. Dít kan hy vanaand tot sy voordeel gebruik. John pryk ook deesdae met ’n kaalgeskeerde kop.

John besef hy sal moet pose hou, want niemand hier ken die werklike rede dat hy na Charlie soek nie. Daarom steek hy sy hand uit.

“John Blake. Ek neem aan jy is Charlie?” vra John.

Die man staar met leë oë na hom en dan na sy uitgestrekte hand. “Ek hoor jy soek business en jy ken vir Bongani. Jy’t guts om só casual op ’n ander ou se territory te beweeg.”

John trek sy hand stadig terug. “Ek soek nuwe kontakte en Bongani het my verseker jy is altyd keen vir nuwe besigheid. Boonop is my produk van die hoogste gehalte en ek waarborg jy sal meer klante as voorheen kry. Dalk kan ons saam ’n nuwe pyplyn aandurf. Die eerste vrag is verniet, as ’n teken van my goeie bedoelings,” sê John.

Cheslyn tree skielik na vore. “Toe ek hom vroeër geskud het, het ek net sy karsleutels gevoel. Hy het nie eens ’n sel gehad nie. Seker bang ons rob hom.”

Die grynslag op Cheslyn se gesig voorspel niks goeds nie.

“Hy ry in the weary hours of the night met ’n larney BMW hier rond asof die plek aan hom behoort. Gee jou sleutels. Jy weet seker jy gaan nie jou kar terugkry nie, nè?” sê Cheslyn en lag hardop.

Die res lag saam. Dan pluk Cheslyn ’n pistool uit en rig dit op John.

John se instink was reg. Die ouens het hom in ’n lokval gelei. Hy oorhandig die sleutels.

Bongani het hom gewaarsku om nie oorhaastig op te tree nie. Sy woede teenoor die regstelsel het egter sy gesonde oordeel oorskry.

En nou staan hy in ’n huis vol skollies wat hom dreigend omsingel.

“Daar is mense wat bewus is van dié ontmoeting. Hulle weet ek is hier,” sê John.

“Daai is ’n ou trick wat lankal nie meer werk nie.

“Hy koop tyd, Captain,” sê Cheslyn aan die man langs hom.

Captain haal ’n pakkie sigarette uit sy broeksak. Dan haal hy tydsaam een uit en steek dit aan.

“Die eerste mistake wat jy gemaak het, is om sonder ’n appointment hier aan te kom. Dít nog met leë hande en sonder ’n go-between person. Jy het duidelik nie ’n clue hoe dié goete werk nie. So, ek neem aan jy is ’n gatta?”

“As jy een is, het jy sopas jou eie death certificate gesign. Andersins bly daar net een rede oor: revenge. Almal soek mos altyd daai. Is jy hier vir revenge? ” vra Captain.

Voordat John kans kry om te antwoord, breek pandemonium buite los. Die ouens nael soos een man verby hom by die deur uit.

John volg hulle, maar moet dan koes. Skote reën. John vind skuilplek langs die muur en loer om hom rond toe die skote verstil.

“Hulle het vir Keanan geskiet. Kyk, daar lê hy!” hoor hy Cheslyn skreeu. Dan brand Cheslyn op die ander groep los.

In die harwar besef John dis die geleentheid dié waarop hy gewag het. Hy vlug in die teenoorgestelde rigting. Kort-kort kyk hy oor sy skouer om seker te maak hy word nie agtervolg nie.

Ná ’n ewigheid bereik hy die hoofstraat. Dan beweeg hy tot in die skaduwees totdat hy seker is daar is genoeg afstand tussen hom en die skollies.

Terwyl hy na asem soek, beweeg sy oë oor die hoofstraat. Hier en daar sien hy bewegende figure. Hy weet dis onveilig om dié tyd van die nag alleen hier rond te dwaal.

Hierdie tyd is bekend vir rowers, prostitute en bergies. Hy sien nog kans vir die bergies en prossies, maar die rowers is ’n ander saak. Hy kort ’n selfoon en moet dringend een in die hande probeer kry.

Hy kan nie polisie toe nie. En wat van sy motor? Wat presies daar gebeur het, weet hy nie.

Ook nie wie die ouens is wat Keanan geskiet het nie. Heel moontlik ’n rival gang. Of dalk wou hulle sy motor steel en Keanan het probeer keer. Dalk was die ouens reeds daar toe hy daar aangekom het.

John besef nou hoe dwaas hy was. Watter nugterdenkende mens ry ná middernag in ’n bendegeteisterde gebied rond op soek na ’n dwelmhandelaar? Duidelik iemand wat van sy trollie af is.

Waarom het hy nie daarop aangedring dat die saak heropen word nie? John sug. Hy soek geregtigheid en enige normale mens in sy posisie sou dieselfde voel.

Iewers moet hy iemand met ’n selfoon in die hande kry en dan sorg dat hy by die huis kom. Van daar kan hy nuwe planne beraam om Charlie te laat boet.

John sien ’n Engen-garage en begin drafstap. Dit neem ’n paar minute om ’n petroljoggie te oortuig om hom sy selfoon te laat gebruik.

Die jong man oorhandig dit huiwerig en sê: “Daar is nie airtime op nie. Meneer moet maar koop.”

“Dít ook nog.” John wonder wat hom nou te doen staan.

“Meneer kan ’n please call me stuur,” sê die petroljoggie asof hy pas vir Kilimandjaro ontdek het.

John laat nie op hom wag nie. Ná die derde please call me lui die selfoon hard en eentonig in sy hand.

“Dis John. Ek het dringend jou hulp nodig. Maak dat jy so gou moontlik by my uitkom,” sê John.

“Wil Meneer dalk in die kamertjie wag?” bied die petroljoggie ná die oproep aan.

“Nee dankie. Ek wag sommer hier. Dankie vir jou hulp,” sê John.

  • Ná ’n ewigheid sien John die grys Opel Astra aankom. Hy is by die motor nog voordat dit behoorlik stop. Die bestuurder gluur na hom. John wonder of dit die regte besluit was om dié man te bel.Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters