Verlede maand
Boeta Solly gee Andries inligting wat hom verstom
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

“Gebeure Rondom ’n Hofuitspraak” is CHRISTO MEYER se jongste skryfstuk. Geniet nou die sesde hoofstuk!

‘JOU gevoellose, sarkastiese, lae stuk gemors,” skel Andries.

Hy skrik vir sy eie stem. Waar kom al dié woede skielik vandaan? Is dít hoe hy van nou af gaan optree? Op almal gil wat iets sê waarvan hy nie hou nie?

Sy woorde val egter op dowe ore. Die man met die growwe stem het klaar die foon doodgedruk.

Dit wil voorkom asof hy aspris vir Andries getart het en Andries het sowaar in sy strik getrap. Die bliksem lag nou seker lekker.

Andries vererg hom so dat hy voel hoe sy wange warm word.

Die vent sal hom ’n hartaanval gee. Dis die laaste ding wat hy nou nodig het.

Die idioot! Het hy dan geen respek vir die dood nie? Kan ’n man nie eens in vrede oor sy vrou rou nie?

As Andries die domkop nou in die hande kry, wurg hy sowaar die laaste bietjie lewe uit hom sonder om hom oor die gevolge te bekommer.

Wie gee die vark die reg om so ’n vieslike voorstel te maak?

Andries sal nooit ’n verdagte in die hof verteenwoordig as hy nie absoluut in daardie persoon se onskuld glo nie. Met Carol Bonthuys was dit dieselfde.

Hy het geglo hulle het ’n sterk saak en dat hy die hof kon oortuig Carol het nie haar man met voorbedagte rade doodgemaak nie.

Hy hou nie daarvan om sy eie en die hof se tyd te mors nie, al bied iemand hom ook hoeveel geld aan. Geld is nie alles in die lewe nie.

Carol Bonthuys het ’n regverdige kans verdien om haar kant van die saak te stel. Watter prokureur wat sy sout werd is, sal die persoon wat hy die liefste gehad het, se moordenaar se onskuld probeer bewys? Dis malligheid.

Daai verdomde Growwestem moet sy kop laat lees.

Andries haal diep asem, oordink sy opsies. Sy rooklus is skielik weg.

’n Gedagte kom by hom op. Moet hy nie liewer ...?

Vinnig skud hy sy kop. Nee, hoe kan hy dit hoegenaamd oorweeg? Hy kan hom nie nou tot die drankbottel wend nie.

Dit sal alles net vererger. Drank los nie probleme op nie.

Hy mag nie dieselfde foute as sy pa begaan nie. Drank het sy pa se lewe verwoes en hy het toe al besluit hy gaan nie dieselfde paadjie loop nie.

Hy moet klou aan daardie belofte vir ál wat hy werd is. Nie net vir homself nie, maar ook vir Julia se nagedagtenis.

Moet hy die polisie in kennis stel? Om wat vir hulle te sê? Dat ’n man met ’n growwe stem met hom die gek geskeer het?

Hy is nie so seker dis ’n goeie idee nie. Die polisie sal reken hy is nie by sy volle positiewe nie en dit toeskryf aan Julia se dood.

Hy besluit om liewer met die hoofredakteur van Snuffel, Solomon Sauls, oftewel boeta Solly, in verbinding te tree.

Boeta Solly se foon lui net twee keer voordat hy antwoord: “Naand, Andries, ek sou vir Bianca vra om jou môre te bel. Ons weet van jou vrou.

“Onse koerant het oral oë en ore. Snuffel se leuse is nie verniet ‘Ons weet van alles’ nie.”

Andries knyp sy oë toe om nie kwaad te raak nie. Hy het nie lus vir los geselsies nie.

Hy vertel vir boeta Solly van die man met die growwe stem, dat hy die een was wat bevele uitgedeel het toe hulle sy vrou ontvoer en hom vasgebind het.

“As ek net kan uitvind wie hy is, sal dit my help om vas te stel wie Julia vermoor het. Dit sal my nader aan die waarheid bring.”

“En as jy weet wie die moordenaar is, wat gaan jy dan doen, Andries?

“Die reg in eie hande neem? Ek glo jy is slimmer as dit.”

“Geregtigheid moet geskied. Julia se dood kan nie ongesiens verbygaan nie.”

“Dis te verstane, maar jy het hier met gevaarlike mense te doen.

“Moenie try om ’n held te wees of om detective te speel nie,” raai boeta Solly hom aan.

“Jy is ’n damn goeie lawyer. Jou reputasie loop jou vooruit.

“As ek jy is, begin ek solank fokus op die reëlings vir die begrafnis. Laat die polisie hul werk doen en los die res vir die media.

“Die waarheid sal wel uitkom.”

“Gevaarlike mense?” vra Andries geskok. “Weet julle iets oor my vrou se moordenaars?”

“Ons het ’n bietjie gaan snuffel en uitgevind Clayton Bonthuys was nie net ’n professionele rugbyspeler nie. Hy was by dwelmhandel betrokke. Van sy beste vriende was bendelede.”

“Wat vertel jy my nou, boeta Solly? Clayton het dan so baie bewonderaars gehad.

“So baie jong seuns het hom as hul rolmodel beskou. Het hy in werklikheid ’n dubbele lewe gelei?”

“Ek wil jou vra om nie ’n woord hieroor te rep nie. Die koerant is besig met ’n ondersoek na al die beweringe.

“Ons sal eers die polisie betrek sodra ons genoeg bewyse het.”

Boeta Solly se woorde sit Andries se gedagtes op loop. Te veel stukkies van die legkaart is nog uitstaande. Te veel goed maak nie sin nie.

Een ding waarvan hy doodseker is, is dat hier ’n groot slang in die gras is. Hy gaan nie rus voordat daai slang se kop vermorsel is nie.

Lank nadat boeta Solly afgelui het, gaan Andries stort. Hy trek sy nagklere aan en klim in die bed.

Al twyfel hy of hy aan die slaap gaan raak, benodig sy liggaam rus.

Hy kan nie heelnag regop sit nie. Sy brein moet ook afskakel.

Hy draai van die een sy na die ander. Toe hy uiteindelik aan die slaap raak, droom hy van Julia.

In sy droom is hulle op hoërskool, saam in gr. 12. Dis kort voor die matriekafskeid.

Albei is so gelukkig. Hulle lag uitbundig en al waaroor hulle praat, is die onbekende toekoms.

“Ek en jy gaan nog saam oud word,” sê Julia.

Andries gooi sy arms om haar en druk haar styf teen hom vas.

“Dis ook my hart se begeerte,” sê hy, “om die res van my lewe met jou deur te bring.”

“Jy moet nooit my hart breek nie, Andries, want ek sal altyd getrou wees aan jou.”

“Ek sal jou nooit seermaak nie,” belowe hy.

Hand aan hand loop hulle in die rigting van die rivier.

Dan, skielik, is daar ’n ander toneel in die droom. ’n Toneel wat hemelsbreed van die vorige een verskil.

’n Morsige toneel.

Een waar daar oral bloed is. Op die vloer, teen die mure, op die meubels, oral.

Iewers kan die angswekkende gil van ’n vrou gehoor word. Hard en oorverdowend.

Andries probeer hom losruk uit die droom, maar kry dit nie reg nie. Die gille gaan net aan en aan.

Hy skrik natgesweet wakker en besef dit was die hele tyd Julia wat so gegil het. As dit net ’n nare droom was, waarom het dit dan so werklik gevoel?

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters