19 dae gelede
Boena voel iets is nie reg toe hy oor die drumpel tree
 ~ 

HALLO, Sonlanders!

Brandon en Jane slaan elk hul eie rigting in – en hulle besef nie iemand het in die shadows gesit en hulle afgeluister nie. Lees nou die slothoofstuk van GWEN KORDOM se splinternuwe verhaal, Vergelding.

HY LUISTER na die wind. Die hartseer klank daarvan vat hom terug na ’n tyd toe sy pa gelewe het.

Die sinkdak van hul tweevertrek-huisie in Pakkiesdorp het altyd geraas onder die druk van die wind. As kind was hy vreesbevange dat die dak op hulle sou inval.

Sy pa sou iewers in die nag op die dak klim en van die boustene op die hoeke van die dak neerlê.

Ná sy pa se dood het alles verander. Sy ma het begin suip en hom en sy sussie aan hul eie lot oorgelaat. Telkens moes hy by die bure aanklop vir kos.

Later moes hy die skool los om na sy sussie te kyk. Hy het begin steel sodat hulle aan die lewe kan bly.

Kort voor lank was hy onder ’n groep laities wat steel en roof en dit het sy leefwyse geword.

Op ’n dag luister hy toe ’n gesprek tussen sy ma en ’n polisieman af.

Tot sy skok moes hy uitvind sy pa se dood was nie ’n ongeluk nie. Vier seuns ’n paar jaar ouer as hy was verantwoordelik vir sy dood.

Hy het wraak gesweer. As hy die dag oud genoeg is, sal hy hulle kry. Drie van die vier het na die stad verhuis. Een het agtergebly.

Kevin Meyer het gekry wat hy verdien – en nou sal sy maergat- vrou ook boet. Hy sit al langer as ’n uur versteek in die agterplaas van die Meyer-woning.

Toe die ligte afgeskakel word, tree Boena uit die donker. Vanaand sal Jane Meyer uitvind wie Boena werklik is.

Hy sluip na die agterdeur. Dan glip hy die handskoene oor sy hande. Die geloei van die wind doof sy gevroetel aan die slot uit. Hy voel hoe dit meegee en glimlag. Dié job is amper te maklik. Sy hand sluit oor die handvatsel, maar iets hou hom terug. Hy wag.

Op daardie oomblik tel die wind op. Dit bondel los blare van die grond af en laat dit verby sy voete sweef.

Hy glo nie aan bonatuurlike tekens en al daardie bollie wat sy ma hom as kind wysgemaak het nie. Daarom verstaan hy nie die skielike krieweling in sy rug nie.

Boena verstyf. ’n Warm gevoel deurtrek sy lyf en die haartjies op sy voorarms lig.

Hy skud sy kop en trek sy asem in. Dan laat hy dit stadig uit.

Hy doen dit ? paar keer totdat hy voel hoe sy liggaam ontspan.

Die deur is oop en hy is met een tree in die kombuis. Die reuk van skoonmaakmiddels hang in die lug. Daar is nog ’n reuk, maar hy ken dit nie.

Hy is nou in die gang. Iets voel nie reg nie. Het die gevoel iets te doen met die feit dat hy alleen is? Laas was dit hy, Tandjies en Kappa.

Boena steek vas voor die kamerdeur. Dan vat hy aan die deur en is verbaas toe dit oopswaai.

In die skemerlig sien hy ’n bult onder die duvet. Liewe Jane is vas aan die slaap.

Miskien moet hy eers van sy klere ontslae raak voordat hy langs haar inkruip. Die beweging aan sy regterkant betrap hom onkant.

Dan brand iets teen sy nek en hy verstar.

Die oomblik toe Boena die vloer tref, is Jane gereed. Sy skakel die lig aan en gryp die toue op die kas. Sy het genoeg tyd om hom vas te bind voordat hy wakker skrik.

Dit gaan ’n interessante nag word. ’n Gehamer aan haar voordeur laat Jane vries van die skok.

“Jane, dis Brandon. Maak oop die deur.”

Jane kners op haar tande. Wat de hel soek Brandon Doeries dié tyd van die nag op haar drumpel?

Sy kyk vinnig rond en gryp dan ’n serp uit die laai. Dit bind sy oor Boena se mond. Sy sleep hom tot teen die bed. Dan buk sy af en skuif hom onder die bed in.

Dit is nie ’n maklike taak nie. In ’n desperate poging gaan sit sy en trap die laaste deel van sy lyf in. Sy staan vinnig op en skuif die mat reg. Dan storm sy in die gang af.

“Jane, ek weet jy is daar. Maak oop die deur!” skree Brandon.

Jane pluk die deur oop en gluur hom aan. “Is dit nodig om die hele buurt wakker te raas? Wat de hel soek jy?” vra Jane.

“Waar is hy?”

Brandon beur verby Jane in die gang af.

Paniek borrel in Jane­ op. Sover as wat sy loop, skakel sy ligte aan.

“Van wie praat jy?”

“Boena. Dit het my eers agterna getref – dit was hý in die hoek by Billy se Pub vandag.

“Het jy geweet dit is hy wat daar sit? Jy beter die waarheid praat, want die polisie is op pad. Dié vergelding-stront stop vanaand, Jane,” sê Brandon.

Jane se oë vernou. “Ja, ek het besef dis hy. Ek het geweet hy kom vir my en het myself daarop voorberei, so jy beter nie in my pad staan nie, Brandon.”

“Het jy dan niks gehoor wat ek vandag gesê het nie, Jane? Ek is nie van plan om jou oor te gee nie. Wanneer die polisie hier opdaag, sal ek sê jy het my gebel vir hulp.

“Ek sal saam met jou staan, Jane. Doen die regte ding.

“Om Boena dood te maak sal nie vir Kevin terugbring nie. Al wat jy daaruit sal kry, is tronkstraf. Ek smeek jou.”

“Wéét jy hoe magteloos ek gevoel het toe hulle Kevin voor my oë doodsteek? Daar was niks wat ek kon doen toe hulle soos diere my klere van my lyf skeur nie.

“Daardie oomblik het iets in my gesterf.

“Jy weet nie wat ek moes verduur nie. Ek weet nou hoe mense soos Boena voel wanneer hulle misdaad pleeg.

“Alles gaan oor mag ... en ék het nou die mag om te besluit of hy lewe of sterf,” sê Jane en gee ’n humorlose laggie.

Daar is ’n wilde kyk in haar oë wat Brandon rillings gee. Die vrou het stapelgek geword.

Enige verkeerde woord en dinge kan vanaand lelik skeefloop. Hy sien die mes wat sy styf vashou.

Hy steek sy hand uit na haar.

“Gee die mes voordat die polisie hier opdaag, asseblief.”

Hy hoor die naderende sirenes en sien die vrees in Jane se oë.

Dan plaas hy sy hand op haar skouer. “Gee die mes, Jane.”

Sy oorhandig die mes en hy versteek dit vinnig onder sy trui.

“Boena lê onder my bed. Jy beter hom daar gaan uithaal.”

Brandon storm in die gang af en is net betyds terug toe die eerste beampte oor die drumpel tree.

“Die man wat julle soek, lê vasgebind in die hoofslaapkamer,” sê Brandon.

Hy trek Jane teen sy bors vas. Hy sien nie slu kyk in haar oë of hoe sy glimlag nie.

Dié is maar net die begin, dink sy.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters