22 dae gelede
Bianca skrik oor dit klink asof die ou haar dophou
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Die misdaadverslaggewer Bianca van Eck kry ’n oproep wat eers onrus­barend is, maar toe haar belangstelling prikkel. Die ou weet persoonlike goed van haar. Sy wil hom in sy maai stuur, maar die joernalis in haar laat haar verder luister. Geniet hoofstuk 3 van CHRISTO MEYER se “Sondes van ’n Drug Dealer”.

VOORDAT Bianca gaan stort, maak sy eers dubbel seker die voor- en agterdeur is gesluit en al die vensters is op knip.

Sy aktiveer ook sommer die alarmstelsel ingeval dit haar dalk later ontgaan. Daar was die laaste ruk verskeie inbrake hier in Derde­rivier en dis kommerwekkend dat geen verdagtes tot op hede al in hegtenis geneem is nie.

’n Onskuldige kind is ook verlede maand deur ’n dwaalkoeël in die kop getref. Die aanvallers is steeds op vrye voete.

Elke keer wanneer Bianca by die polisie navraag doen, kry sy dieselfde antwoord: “Die sake word ondersoek. Ons sal laat weet sodra daar ’n deurbraak kom.”

Intussen leef almal in vrees.

En niemand weet wie is volgende nie.

Bianca woon alleen en sal nie daarvan hou om as gevolg van haar eie nalatigheid onverhoeds betrap te word nie. Sy besit wel ’n vuur­wapen, maar sy hoop sy hoef dit nooit te gebruik nie.

Sal sy dit oor haar hart kry om die sneller te trek en iemand te skiet? Sy weet darem nie.

Sy het ook ’n boerboel wat nie sal skroom om haar te beskerm as daar gevaar dreig nie. ’n Kollega het op ’n dag met die hond hier aangekom.

“Vriendin, laat ek vandag vir jou ’n ding leer. Enige vrou wat alleen bly, het ’n hond soos hierdie nodig.

“Hy sal jou nooit in die steek laat nie. As daar gevaar dreig, sal Kopdoek jou beskerm.”

Sy het lekker gelag vir die vreemde naam vir ’n hond.

Toe Bianca klaar gestort het, trek sy haar nagklere aan. Daarna deursoek sy haar woning vir ’n lafenis.

Sy is nie ’n gewoontedrinker nie, maar vanaand het sy iets sterker as tee of koffie nodig. Sy het ’n lang dag agter die rug.

Iewers moet nog iets te drinke wees. Ná ’n ruk kom Bianca op ’n bottel rooiwyn af. Sy kry dit onder in ’n boks tussen Marno se ou klere.

Hoe dit daar beland het, kan sy nie onthou nie. Was dit hy of sy wat dit daar gebêre het?

Wanneer laas het sy haar lippe aan alkohol gesit? Marno het nog geleef en dis sowaar al meer as 11 maande sedert sy dood.

Sy dink nog aan hom, miskien nie meer so gereeld soos voorheen nie, maar hy maak nog nou en dan sy verskyning in haar gedagtes.

Die eerste twee maande sonder hom was die ergste. Dit het gevoel asof die wond in haar binneste nooit gaan genees nie.

Sy het nagte aaneen met ’n klomp onbeantwoorde vrae gewroeg. Oor sekere goed wonder sy steeds, maar sy het geleer om vrede te maak met die verlede.

Sy draai die bottel oop, skink haar glas driekwart en neem haar plek voor die televisie in.

Die oorgeklankte telenovela is nou nie juis een van haar gunstelinge nie. Tog ken sy talle vroue wat mal is daaroor.

Haar selfoon lui. Sy laat sak haar glas, sit dit versigtig op die koffietafel neer. Wie is so lastig?

Sommige mense het darem geen respek vir ander se privaatheid nie. Kan sy nie eers haar drankie in vrede geniet nie?

Bianca loer na die skerm van haar nuwe Samsung. Onbekende nommer. Vir ’n oomblik wil sy dit ignoreer.

Haar nuuskierigheid kry egter die oorhand. Sy besluit dan om tog te antwoord en te hoor wie dit is.

“Hallo?” ’n Stilte volg. “Hallo, kan jy my hoor?” vra sy geïrriteerd.

Steeds geen reaksie. Wie kan dit wees?

Hoekom sal iemand bel en niks sê nie? Sy wag nog ’n paar sekondes voordat sy dooddruk.

Haar dag was bedrywig. Eers moes sy Bishop Lavis toe om ’n storie te gaan doen oor ’n gesin wie se wendyhuis onverklaarbaar aan die brand geslaan het. Die arme mense het alles verloor.

Hulle was gelukkig om ongedeerd daarvan af te kom. Asof dit nie erg genoeg was nie, moes sy haar van daar na ’n huis in Kraaifontein haas waar ’n polisieman eers sy vervreemde vrou en daarna homself met sy dienspistool om die lewe gebring het.

Die man kon glo nie aanvaar die skeihof is sy voorland nie. Laatmiddag is Bianca Stellenbosch toe om oor ’n plaasaanval te rapporteer.

Sy is pootuit, dan het mense nog die vermetelheid om haar foon onnodig te laat lui.

’n Paar minute later lui haar foon weer. Dis weer ’n onbekende nommer. Sy drink eers die glas leeg voordat sy antwoord.

“Hallo?”

“Hallo, Bianca.” Haar hart gee ’n ruk. Wie is hierdie man met die growwe stem?

“Wie is jy?” vra sy kortaf.

“Daai issie nou important nie. Sê my, geniet djy djou wyn?”

Bianca skrik. Hoe weet die man sy sit en drink? Hou hy haar dop?

As hy op die werf is, sou Kopdoek tog geblaf het. Wat gaan hier aan?

“Ek … wat wil jy hê?”

“My liewe Biancatjie, issie norag om soe ongeskik te wiesie. Ek wil ma’ net gesels.”

“Ek het niks vir jou te sê nie.”

Sy wil die oproep beëindig, maar die joernalis in haar besluit daarteen.

“Nou is djy regtag lielik met my. Issit omdat djy vir Marno mis?

“Het djy nie vroeër na hom verlang toe djy op jou eie gaan shower hettie?

“Dit moet sieke eensaam wies, niemand om jou rug te was nie.”

Bianca raak bekommerd. Hierdie man weet te veel van haar. Wie is hy?

“Het djy jou tong ingesluk, Biancatjie? Of wil djy nie met my oor djou liefdeslewe praat nie?

“Dis mos al ’n jaar vandat Marno oorlede is. Ek kan ma’ net dink wat djy alles deurmaak.

“Djou fonteintjie is sieke al kurk­droeg. Djy moet net sê wanne’ ekke vi’ jou kan kom uithelp.”

Sy vererg haar. Die man raak nou vieslik. Sy hoef nie langer na sy los praatjies te luister nie.

“Los my uit en moet asseblief nie weer bel nie. Ek–”

“Nie soe haastig nie, Bianca. Mag ’n mens nie eers ’n ou grappie met djou maak nie?”

“Grappie? Is dit wat jy dit noem?”

Hy gee ’n laggie. “Oukei, oukei, moenie so opgewonde raak nie. Hou djou onderklere aan.

“Ek het eintlik ’n sappige storie vir jou. ’n Scoop, soos djy dit sal noem.”

Sy laaste sin prikkel onmiddellik haar belangstelling.

“ ’n Storie ... um ... waaroor gaan dit?”

“Luister mooi, want ekke gaan vir djou ál die inligting gee wat djy kan gebruik vir ’n storie soema op die voorblad.

“Ek is ’n nice ou en daarom gaan ek dinge vir jou en die polisie baie maklik maak.

“Dit gaan oor ’n moord wat ek gepleeg het ...”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters