21 dae gelede
Bianca se vriend vergesel haar na die moordtoneel
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die wenk wat ’n selferkende killer aan Bianca van Eck gee, klink te goed om waar te wees. Waarvoor sal hy self bos los? As dit waar is, kan sy nie dié sappige storie deur haar vingers kan laat glip nie. Geniet hoofstuk 4 van CHRISTO MEYER se “Sondes van ’n Drug Dealer”.

‘WAT sê jy daar?” vra Bianca benoud.

“Jy het wát gedoen?” Vir ’n oomblik is sy stomgeslaan. Sy asem diep in, blaas dit stadig uit.

“Djy hou jou verniet doef, Bianca van Eck. Djy brand sieke om te wiet wie die slagoffer is, nuh?”

Dit voel vir Bianca asof haar ore haar bedrieg. Dit wat sy so pas gehoor het, kan tog nie waar wees nie, of kan dit? Sulke goed gebeur mos nie in die regte lewe nie.

Van wanneer af neem ’n moordenaar ’n joernalis in sy vertroue? Van wanneer af blaker ’n moordenaar sy doen en late aan iemand van die media uit?

Dis heeltemal ongewoon en klink te goed om waar te wees. Hy behoort tog te weet daar kan gevolge wees. Of put hy genot daaruit om haar vir die gek te hou?

“Ek het nie tyd vir jou speletjies nie, hoor. As jy niks beter het om te doen–”

“Ek is doodernstig,” val hy haar in die rede. “Djy wiet van Kenneth McKenzie, die druglord wat bail gekry het vir die verkragting van ’n skoolkind? Wel, hy sal nooit weer die kans kry om enige kind leed aan te doen nie. Daarvan het ek doodseker gemaak.”

Wie dink die man is hy? Sy is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie.

Dis sy manier om haar van die huis af weg te lok. Nee, sy weet hy is besig met ’n siek speletjie. Sy gaan nie toelaat dat hy van haar ’n gek maak nie.

Aan die ander kant, wat as hy die waarheid praat? Wat as hy werklik vir Kenneth McKenzie vermoor het? Wat as …?

“As djy my nie wil glo nie, klim in jou kar en ry na die McKenzie-woning. Dis jou keuse, doen met die inligting wat jy wil.”

Haar gedagtes gaan op loop. Wat staan haar te doen? Gevaarligte begin flikker in haar brein.

Sy luister altyd na haar voorgevoel en haar voorgevoel vertel haar sy kan nie hierdie inligting net so ignoreer nie. Sy dink hard en diep.

Dan kom sy tot ’n besluit. Daar is net een persoon wat sy kan laat weet: Ron Skiepers.

Hy is een van die min mense wat sy vertrou. Ook in sy dae in die polisie kon sy enige tyd op sy nommer druk.

Baie van sy vorige kollegas was korrup. Kop in een mus met bendeleiers, dwelmbase en ander misdadigers. Dis die rede waarom Ron uit die polisiediens bedank het. Hy het keelvol geraak van al die korrupsie en kollegas wat hom in die rug gesteek het.

Sy het al die respek in die wêreld vir Ron Skiepers. Hy was die knapste ondersoekbeampte met wie sy al ooit te doen gehad het.

Hy laat hom deur niemand omkoop of ’n gat in die kop praat nie. Hy het nog altyd aan reg en geregtigheid geglo. As alle polisiemanne maar so toegewyd en doelgerig soos hy kon wees, sou Suid-Afrika ’n beter land gewees het om in te woon.

Hy is deesdae ’n privaat speurder.

Ron Skiepers en Bianca ken mekaar van skooldae af. Op ’n tyd was hulle goed bevriend. Maar hul vriendskap het versuur toe Ron een middag hier by haar huis opdaag en haar meedeel hy vermoed Marno, haar man, is by misdaad betrokke.

Sy kon dit nie glo nie. Enigiemand anders ja, maar nie haar Marno nie. Hy sal nooit so iets doen nie, het sy geglo.

“Watter soort misdaad?” wou sy nogtans weet.

“Mensehandel. Volgens betroubare bronne is Marno van Eck lid van ’n sindikaat wat jong meisies ontvoer en vir groot bedrae geld as seksslawe aan buitelanders verkoop.”

Bianca wou nie glo Marno is by so iets betrokke nie. Daarvoor was hy te ordentlik.

“Jy is verkeerd,” het sy op Ron gegil. Dié keer het jy die kat aan die stert beet. Hoe durf jy my man van sulke walglike dade beskuldig?

“Jy sit nie weer jou voete hier nie.”

Min het sy geweet Ron was al die tyd reg. Marno het ’n dubbele lewe gelei. Hy wás lid van ’n sindikaat. Sy het haarself verwyt omdat sy, ’n oopkop-joernalis, nooit iets vermoed het nie.

Sy skakel Ron Skiepers se nommer en is effens verbaas toe hy so vinnig antwoord. Sy het getwyfel of hy ooit weer iets met haar te doen wou hê nadat sy hom as ’n leuenaar uitgemaak het.

“Bianca van Eck, dis nou wat ek ’n verrassing noem. Waaraan het ek hierdie eer te danke?” Hy klink nie kwaad of moerig nie.

“Naand, Ron, hoe gaan dit daar?”

“Seker maar goed. Maar ek dink nie jy het gebel om na my welstand te verneem nie ... Iets waarmee ek kan help?”

Dis een van Ron Skiepers se eienskappe. Hy draai nie doekies om nie.

“Ek ... ek het jou nooit verskoning gevra omdat ek jou nie wou glo oor Marno se skandes nie. Dit het alles net so onwerklik geklink.

“En jy weet dis moeilik vir ’n vrou om haar trots te sluk en te erken sy was verkeerd. Ek is regtig jammer, Ron. Hoop jy kan my vergewe.”

“Water onder die brug. Ek het lankal daarvan vergeet. ’n Mens moet vorentoe kyk, nie agtertoe nie.”

Sy vertel hom alles oor die vreemde oproep.

“Ek weet nie wat om te doen nie, Ron.”

“Jy kan nie alleen soontoe gaan nie, Bianca. Dis te gevaarlik.

“Jy weet nooit of dit dalk ’n lokval is nie.

“Wag vir my, dan gaan ons sommer met my kar tot daar.”

Bianca sug verlig. Sy het geweet Ron sal met die regte antwoorde vorendag kom.

Nou moet sy vinnig iets betaamliks gaan aantrek. Ron Skiepers kan haar nie in haar nagklere kom aantref nie.

Sowat 15 minute later klop Ron Skiepers aan haar deur.

“Laat ons maar gaan kyk of daar ’n verrassing op ons wag en of dit alles net ’n vals alarm is.”

“Dink jy ons moet die polisie laat weet?” vra Bianca.

“En wat vir hulle sê? Dat ’n onbekende man jou laat weet het hy het vir Kenneth McKenzie vermoor?

“Soos ek die polisie ken, sal hulle jou uitlag. Kom ons gaan kyk maar eers self.”

Bianca klim aan die passasierskant van Ron Skiepers se motor in.

Hy trek stadig weg. Daar word nie veel gepraat nie.

Sy besef weer hoe lief sy is vir wat sy doen. Dis koud en donker en sy is op pad na ’n toneel, onseker of daar ’n misdaad gepleeg is.

Dís wat die hongerte vir nuus aan ’n joernalis doen.

’n Halfuur later hou hulle in die straat voor Kenneth McKenzie se huis stil.

Daar is ander voertuie ook en toe Bianca die vlamme gewaar, is sy oortuig iets vreesliks het hier plaasgevind.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters