28 dae gelede
Bianca is sterk op pad na die berugte Perdjie de Ridder
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders!

“Gebeure Rondom ’n Hofuitspraak” is CHRISTO MEYER se jongste skryfstuk. Lees gerus nou die negende hoofstuk.

‘DAAR is iets wat ek wil hê jy moet opvolg,” val boeta Solly met die deur in die huis toe Bianca van Eck by sy kantoor instap.

Hy is nie ’n môre-hoe-gaan-dit-tipe koerantredakteur nie. By hom gaan dit net oor werk en niks anders nie. Hy sien Bianca het ’n nuwe haarstyl, maar hy gaan haar nie komplimenteer nie. Dis net hoe hy is.

Hy beduie Bianca moet sit. Sy trek die stoel oorkant hom uit en maak haar tuis.

Die honger vir ’n nuwe storie kan op haar gesig gesien word.

Dis die een ding van haar wat hom die meeste beïndruk – haar wil om elke keer uit te gaan en haar beste te gee.

Sy staan nie terug vir ’n uitdaging nie.

As iemand soos sy eendag by hom kan oorneem, sal die koerant in goeie hande wees. Sy het ambisie.

“Ek het ’n anonieme oproep ontvang,” gaan boeta Solly voort en neem dan ’n slukkie van die koffie wat hy by die garage op die hoek gekoop het.

“Dit gaan oor Perdjie de Ridder.”

Bianca se wenkbroue lig.

“Praat jy van dié Perdjie de Ridder, die vermeende dwelmbaas?” vra sy.

“The one and only. Volgens my bron was Perdjie en Clayton Bonthuys goed bevriend.”

“En jy wil hê ek moet gaan uitvind wat Perdjie hieroor te sê het. Reg?”

“Jou raaiskoot is in die kol, maar dis nie al nie. Volgens die bron het hy nog inligting, maar hy wou nie te veel oor die telefoon sê nie.

“Hy sê Perdjie vertrou hom en dat Perdjie hom sal doodmaak as hy moet uitvind hy praat met die media.”

“Interessant. Soos dit vir my klink, is iemand in Perdjie se binnekringe gatvol vir sy dinge. Ek wonder wat gebeur het.”

“Ek het hom probeer druk vir meer inligting, maar hy was taamlik vaag. Hy’t wel genoem hy wil dit nie op sy gewete hê as een van sy familielede opeindig soos Julia Boggelblaar nie.”

Bianca trek haar asem skerp in.

“So, Perdjie het iets met Julia se dood te doen?”

“Dit wil so voorkom, maar ons het geen bewyse nie. Ek het Perdjie se nommer hier, maar ek dink nie ’n phone call gaan veel oplewer nie.

“Jy kan hom bel en ’n afspraak maak om iewers te ontmoet. Ek glo jy sal meer dinge wysraak in ’n face-to-face meeting.

“Dalk gee sy lyftaal iets weg. Sien jy kans?”

Bianca lag. “Watse tipe vraag is dit? Ek sien kans vir enige iets.”

“Wees net versigtig,” waarsku boeta Solly. “Perdjie de Ridder is ’n gevaarlike man. Hy laat nie met hom mors nie.”

“Ek laat ook nie met my mors nie,” sak Bianca selfversekerd af. “Weet jy miskien wat Perdjie se regte naam is?”

Boeta Solly haal sy skouers op. “Geen idee. Almal noem hom Perdjie.

“Blykbaar omdat sy humeur so kort is. Hy klim glo vinnig op sy perdjie.”

“Laat ek maar aan die werk spring en kyk wat ek kan uitrig. Perdjie lyk vir my na ’n perd van ’n ander kleur.”

Bianca verlaat die kantoor. Boeta Solly kyk haar agterna. Die adrenalien pomp wild deur sy are.

Hy sukkel om sy opgewondenheid in bedwang te hou. Hy het ’n goeie gevoel oor dié storie. As dit breek, gaan dit almal laat gons.

Die ander koerante gaan jaloers wees op hom. Perdjie de Ridder moes lankal ontbloot gewees het, maar die man is te glibberig.

Daar is selfs gerugte dat hy hoëkoppe in die polisie betaal om sy onwettige bedrywighede toe te smeer. Boeta Solly maak staat op Bianca om dié geraamtes uit die kas te laat val ...

OP DIE balkon van ’n dubbelverdiepinghuis met ’n pragtige uitsig oor die stad staan die skatryk Perdjie de Ridder. Hy is meer as twee meter lank en sy breë skouers is die resultaat van baie ure in die gym.

Hy is net 32, maar reeds gevestig as ’n suksesvolle dwelmhandelaar.

Perdjie is getroud met die pragtige Fiona, maar volgens hom is die lewe veels te kort om net met een vrou te slaap. In sy hand hou Perdjie ’n glas duur whiskey.

Dis deel van ’n versameling wat hy verlede jaar as verjaarsdaggeskenk by Clayton Bonthuys ontvang het. ’n Versameling waarvoor Clayton ’n klein fortuin betaal het.

Clayton was ’n goeie sakevennoot en dis eintlik ’n jammerte dat hy nie meer hier is nie. Hy het heelwat buitelandse dwelmkontakte geken en saam het hulle goeie geld gemaak.

Dit pla Perdjie nie in die minste dat dit skaars 10:00 is nie. Hy het nie ’n baas aan wie hy moet rapporteer nie en kan doen wat hy wil net wanneer hy wil.

’n Alkoholis sal hy nooit word nie. Daarvoor het hy te veel om voor te leef. Maar as hy die dag iets het om te vier of sommer net wil ontspan, is net die beste goed genoeg.

Hy weet nie hoekom nie, maar vanoggend verlang hy na sy tweelingsuster, Erica. Hy het maande laas van haar gehoor.

“Jy speel met vuur,” het Erica met hom geraas toe sy uitvind hy verkoop dwelms. “Jy trek ons goeie familienaam deur die modder.”

“Dis ’n maklike manier om geld te maak,” het hy verdedigend gesê.

“Ek het mense wat die werk vir my doen. Jy het niks om oor te worry.”

“As jy gevang gaan word, is jy op jou eie. Ek trek Australië toe.

“Jy gaan my nooit weer sien nie.”

Erica is sak en pak weg. Dit was sewe jaar gelede en hy het niks weer van haar gehoor nie.

Hy probeer om nie aan die oproep van vroeër te dink nie.

Hy gaan nie toelaat dat dit sy dag bederf nie. Daar kom vanaand ’n groot besending dwelms uit Johannesburg en hy moet gefokus bly.

Die kleiner handelaars het reeds hul bestellings by hom geplaas. Van môre af word die dwelms oral in die Kaapse Vlakte versprei.

Bianca van Eck moenie krap waar dit nie jeuk nie. Watter reg het sy om hom uit te vra oor sy verbintenis met Clayton Bonthuys?

Dan wil sy boonop ’n onderhoud met hom voer. Is die vrou mal?

Hy praat nie met die media nie.

Waar kom sy in elk geval aan haar inligting? Net sy lyfwagte weet van Clayton se besoeke.

Hulle weet egter nie waaroor die gesprekke gegaan het nie. Het een van sy vertrouelinge hom verraai? As hy uitvind wie dit is, gaan daar tragiese gevolge wees.

Sy selfoon lui en toe hy op die skermpie kyk, sien hy dis dieselfde nommer waarvan Bianca vroeër gebel het. Hy vloek.

Vir wat is die vrou so knaend? As sy wil uitvind wie Perdjie de Ridder regtig is, sal hy haar wys. Mense wat in sy pad staan, word uit die weg geruim.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters