Verlede maand
Awêh se mooi bos gladde hare laat Kêrrimstraat gons
 ~ 

HAAI daar, Sonlanders. “Awêh” is ELDRIDGE JASON se verhaal oor Awie en Harriette en hul seuntjie, Awêh Kleyn-Grootboom. Die tonge is los in Kêrrimstraat nadat dit rugbaar geword het dat Harriette swanger is. Dominee Salwing se oplossing is dat die twee so gou as moontlik moet trou. Geniet nou hoofstuk 2.

HARRIETTE se magie was so vinnig aan die groei, daar moes vinnig gespring word om tot trou te kom.

Sy en Awie wou ’n klein, intieme troue hê, maar hul ouers wou niks daarvan weet nie.

’n Groot troue móés dit wees, het antie Tryntjie dik gehou. Sy wou die skinderbekke eens en vir altyd stilmaak. Baie het ’n eier gelê dat dit nie Awie se kind is nie, dat Awie, wat skaars tot tien kon tel, nie al die birds and bees kon tel nie.

Oom Kissie moes maar ’n polis incash wat hy vir sy oudag wou hou.

Die Kleyns moes ook maar in die stilte African Bank toe sluip om ’n beskaafde bydrae te kan maak.

Op kort kennisgewing kon slegs Holy Hole Begrafnisdienste & Caterers die onthaal behartig en hoewel hul decor maar aan die sombere kant is, was antie Tryntjie baie impressed met hul spyskaart.

Hul To-Die-For seekos-buffet en Six-Feet-Under trifle het haar oë én maagspiere laat rek.

Dit was inderdaad toe die troue van die jaar met die plaaslike civic wat tjok-en-blok was met genooides en ongenooides.

Voor die onthaal het die gaste lekker gelag vir Awie wat sy vows vergeet het, maar Harriette het hom mooi begelei. Woord vir woord het hy die amperse resitasie agter haar opgesê: dat hy haar lief sal hê deur dik en dun, maak nie saak wat die skaal sê nie.

Harriette het op haar troudag gegloei in haar trourok wat sy in die Kaap laat maak het by ’n kleremaakster iewers in die Soutrivier.

Awie, in sy maroen troupak, het ietwat soos ’n clown gelyk, maar maroen was Harriette se gunstelingkleur, want Maroon 5 was haar gunsteling-bênd.

Geld vir ’n honeymoon was daar nie en kort ná die onthaal het Harriette en Awie in die Wendy agter in haar ma se jaart ingetrek.

Die plan was om die Maandag council toe te gaan om hul naam op die behuisingswaglys te gaan neerpen.

Awie het ’n EPWP-werkie losgeslaan terwyl Harriette vir eers huisvroutjie sou speel. Deur die dag het hy die strate skoongevee en smiddae ná werk moes hy die Wendy ook skoonvee. Harriette was te moeg. Selfs te moeg om kos te maak. Baie aande moes Awie maar ’n polonie-smoortjie aanmekaar slaan.

Vir Harriette was dit nie ’n mooie swangerskap nie. Sy het van haar gesig tot haar enkels verskriklik geswel. Vir haar én vir Awie was dit dus ’n groot verligting toe die babatjie die dag sy verskyning maak.

Maar ook nie sonder drama nie. Die dag toe Harriette pyne begin kry, was Awie kliphard aan’t sypaadjies vee.

Toe oom Kissie hom uitasem kom roep, het Awie sommer met besem in die hand huis toe gehol. Tyd vir ambulans bel was daar ook nie. Oom Kissie en antie Tryntjie het nie selfone gehad nie. Awie het nog nie die emergency airtime terugbetaal wat hy op die boek by Cell C gevat het nie.

Harriette moes toe maar by die huis kraam, want babatjie wou nie wag tot die dag dat sy ouers airtime gehad het nie. Antie Saaizella Kleyn het ook haar pligte nagekom deur waggel-waggel ’n hand te kom bysit.

Awie en oom Kissie het maar buite op die stoep gesit en wag dat die vroumense hul ding moet klaarmaak. So hier en daar het Harriette se gille die twee mans se ore laat tuit. Awie het grootoog na die gedoente geluister, noukeurig mental notes gevat van hoe Harriette gegil het van “nie weer nie” en dat hy wat Awie is maar kan vergeet van ’n tweede kind.

Oom Kissie het swaar gesug en Awie ’n bemoedigende kloppie op die skouer gegee.

“Seuna, nou weet jy hoekom ons net een kind het,” het die oom gesê en toe weer aan sy pyp getrek.

Ná wat soos ’n trippie na ’n Sassa-kantoor gevoel het, het antie Tryntjie na buite gekom.

Die sweet het van haar gesig gestroom, maar daar was ’n tevrede trek in haar oë.

“Dit is ’n seun,” het sy gesê terwyl haar boesem nóg groter geswel het van trots.

“En hy is blakend gesond. Ons sal ou Jan Tuisbly net moet vra om Harriette met sy kar hospitaal toe te vat. Sy en die baba moet uitgecheck word.”

Harriette, die baba en antie Tryntjie is toe alleen hospitaal toe.

Vir Awie en oom Kissie was daar nie plek nie. Ou Jan het immers in sy kar gebly wat propvol klerasie en beddegoed was.

Antie Saaizella het gekla van ’n rugpyn en is ook huis toe toe die kar hospitaal toe vertrek het.

Awie en oom Kissie het alleen agtergebly, tot Awie besef het hy het nooit uitgeklok nie en moes maar weer gaan werk. Later die dag, net toe die son al moeg was van water se siel uittrek, het Harriette-hulle by die huis opgedaag. Awie het nadergestorm om sy laitie vir die eerste keer te sien, maar Har­riette wou niks weet nie.

“Awêh slaap nou. Gaan jý hom weer aan die slaap maak as hy wakker skrik?”

Awie moes maar die aftog blaas – die eerste van vele in hul huwelik. So tussen winde uitvryf, worry oor die pryse van kimbies en tande kry, het Awêh mooi opgegroei. Die hele Kêrrimstraat was egter steeds aan die gons oor Awêh se pragtige bos hare. Lank en glad, in skrille kontras met sy ouers se pittekoppe.

Especially Awie se hare was uit die put van die hell-no.

Awêh het nie veel maatjies gehad nie. Daarvoor was die seuns te jaloers en geniepsig oor sy hare en die meisietjies wou te veel bollas maak vir hom. Om homself besig te hou, het hy begin om hom in boeke te verdiep.

Awie en Harriette was nie min impressed met hul seun wat homself leer lees en soveel boekekennis opgedoen het nie.

“Het julle geweet in Engels word ’n groep kraaie ’n ‘murder’ genoem? Dat tamatiesous in die 1800’s as medisyne verkoop is?

“Het julle geweet ...?”

Hierdie rympie het net nooit opgehou nie. Awêh was erger as ’n Chappies bubblegum-papiertjie en ongelukkig vir hom het sy ouers nie veel geweet nie. Hy was die meeste van die tyd al een wat die gesprek begin en geëindig het.

Kêrrimstraat se inwoners het ook geglo Awêh is te slim.

“Sy brein gaan ontplof. Hy gaan ’n brein-stroke kry,” het talle van hulle menigmaal gesê.

En asof die noodlot nie uitgesluit wou voel nie, het hy net ná Awêh se 10de verjaardag besluit om ook vir ’n slag saam te speel.

Daardie aand het vreemde puisies regoor Awêh se lyf uitgeslaan en hy het ’n koors ontwikkel wat g’n Panado-stroop of huisraat kon onderkry nie.

Dit was die begin van groot drama en tragedie ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters