Verlede maand
Ashley beveel sy holborsel om die vroue vas te bind
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Dis Vrydag en ek kan reeds weer die naweek ruik. Vandag bring ons julle die spanningsvolle slothoofstuk van die nuutste pennevrug van onse SALMON SMITH – die “punt-van-jou-stoel”-verhaal “Mandy se Berk”. Geniet dit!

ANTIE Martha en Mandy kyk in die yskoue en wrede oë van die twee skurke voor hulle.

Hulle sien die vuurwapens wat op hulle gerig word en maak gelyk hul monde oop om te gil.

“Hei, hou djulle bekke, of djulle is vrek!” sis Ashley en loop tot voor Mandy.

Hy gluur haar woedend aan. “Djy, tief! Vat djy my vi ’n mase p**s? Waa’s daai parcel?”

“E-ek het nie m-meer daai p-parcel nie, A-Ashley!” stotter Mandy vreesbevange.

Ashley kyk verbaas na Mandy en toe na Jampas.

“Hoe ken die tief my regte naam?”

Dan kyk hy weer na Mandy.

“Hoe ken djy my naam en waar is my f*kk*n parcel?!” bulder hy.

“B-Bradley h-het my gesê en hy is met die parcel hier weg!”

Dit lyk asof Ashley se oë vuur spuug.

“Wie de donner is dié Bradley?!”

Hy haak af en klap Mandy dat sy doer trek.

“F*k Vrouemaand! Vandag bliksem ek twee vroue dat hulle k*k!”

Antie Martha gaan aan die tjank.

“Meneer, asseblief, los my dogter uit. Laat ons net in vrede, asseblief!”

Ashley lig sy hand dreigend.

“Hou djou bek, Antie, of ek klap djou uit djou geloof uit!”

Hy pluk Mandy van die vloer af op.

“Djy, tiefetjie, djy gaat nou vir my sê waar ek daai Bradley-mannetjie in die hande kan kry.”

Ná nóg ’n paar warm klappe knak Mandy en sy los bos oor waar Bradley bly.

Toe sy klaar is, kyk Ashley haar so uit die hoogte aan.

“Het djy regtig gedink dat ek lief is vir djou!” spoeg hy dit uit. “Djy moet djou kop laat lees. Djy steek dannie ee’s lekker nie!”

Antie Martha se kop ruk op na haar meisiekind.

“Mandy?!” hyg sy dit geskok uit.

Die trane stroom oor Mandy se wange terwyl sy grond toe kyk.

“M-Moeksie … e-ek en hy het vanmiddag daar by die r-rivier ougat gemaak. Hy’t gesê dat hy lief is vir my en met my wil trou,” snik sy.

“M-my kind … hoe kon jy?!” gaan Martha gal af.

Ashley se hoonlag weerklink deur die huis. “Djulle plaasmeire is ook maar lekker dom! Djulle val mos vir enige mooi Kaapse outjie!”

Toe hy hom klaar uitgelag het, kyk hy na Jampas.

“Jampas, gaan haal die tou daar in die boot! Ons moet die twee tiewe vasbind. Dan bly djy hie’ by hulle terwyl ek daai Bradley-gemors gaan soek. As hulle vir djou probleme gee, maak hulle saggies vrek en ek sal met Bradley afreken!”

Ashley kook van binne terwyl hy in Alwynstraat in die selfbouskema afry – die straat waar Bradley Geduldt bly. Hy wonner wie die Bradley-ou is wat so alles van hom weet.

As hy hom in die hande kry, gaan hy eers alle inligting uit hom uit wurg.

Ashley ry ál hoe stadiger toe hy naby die adres kom.

Voor nommer 44 hou hy stil. Hy sien dat dit ’n netjiese facebrick-huisie is met ’n goed versorgde tuintjie.

Die skobbejak loer vlugtig in die rondte. Dit lyk na ’n stil buurt met niemand in sig dié tyd van die dag nie. En dít pas hom perfek.

Die gemors haal sy pistool uit en kyk hoeveel patrone daarin is.

Hy druk weer die pistool agter sy broek in en spring uit die voertuig.

Die merchant loop met afgemete treë na die voordeur.

Hy klop liggies aan die deur.

Ná wat soos ’n ewigheid voel, maak ’n ou vroutjie die deur oop. Sy kyk hom ondersoekend aan.

“Kan ek help, my tjent?” vra sy en loer verby hom na sy voertuig.

“Middag, Ouma. Is Bradley dalk tuis?” vra hy en loer oor haar kop in die huis rond.

“Nee, my tjent. Hy’s al vroeg va’mirrag hier weg en het noggie weer huis toe gekom nie.”

Ashley klem sy hande in vuiste saam.

“Die vuilgoed!” swets hy saggies.

“Hoe sê my tjent nou?”

Ashley besef dat die ou vrou hardhorend is; dalk seniel ook. Sy moet seker Bradley se ouma wees. Hy kry skielik ’n blink gedagte.

“Ouma, ek is ’n vriend van Bradley. Ek moet eintlik iets vir hom hier optel. Kan ek maar gou in sy kamer gaan kyk?”

Tot sy verbasing maak die ou vrou pad vir hom om verby te kom

“Nou maar goed, my tjent. Gaan loer dan maar daar in sy kamer.”

Hy mol vinnig vir die kamer en maak saggies die deur agter hom toe. Toe begin hy die kamer van ’n kant af omdolwe op soek na sy kosbare parcel.

Minute later steek Bradley uit by Mandy se huis. Toe hy die voordeur oopstoot, kyk hy vas in die loop van ’n pistool.

Uit die hoek van sy oog sien hy Mandy en antie Martha op die voorhuisvloer met hul voete en hande vasgemaak.

“Jy ka’ maar inkom, mannetjie!” sê Jampas en trek hom by die voorhuis in. Jampas loer vlugtig na buite en maak die deur toe.

“Wie is djy?” vra Jampas en druk die pistool in Bradley se gesig.

“Ek is Bradley en ek kom met die boodskap dat jy Mandy en haar ma onmiddellik moet losmaak!” kondig hy saaklik aan.

Jampas vererg hom vir die arrogante ou hier voor hom.

“Wie’s djy om hie’ vi’ my te ko’ ve’tel wat ekke moet doen?!”

“Ek is Bradley Geduldt, die karate champion hier in die Wes-Kaap.”

Dié woorde bring die skurk vir ’n wyle van stryk. En dís net waarvoor Bradley gewag het. Hy tref Jampas met ’n goed gemikte karate skop teen die kant van sy kop.

Die skurk steier eenkant toe en sy vuurwapen val kletterend op die vloer.

Terwyl hy nog sy balans probeer behou, takel Bradley hom met mening.

Grootoog kyk Mandy en haar ma toe hoe Bradley sy beste karate-moves uithaal en die skurk gou-gou droomland toe stuur.

Mandy gooi haar arms om Bradley se nek en druk haarself styf teen hom vas nadat hy hulle losgemaak het.

“Ek is so jammer, Bradley, dat ek so naar met jou was! Jy is regtigwaar my hero!” snik sy dit uit. Sy soen hom vol op sy mond.

Bradley is heel in sy noppies.

“Van nou af gaan ek jou nooit weer onder my oë laat uitgaan nie,” laat hoor hy en soen haar terug.

“Bradley, daai Ashley-gemors het vir jou gaan soek daar by jou huis! En hy het ook ’n gun by hom,” sê antie Martha bekommerd.

“Moenie worry nie, Antie. Ek het vir die polisie die tip-off gegee,” sê hy. “Hulle het hom daar in my kamer gaan arresteer. Daai drug-huis daar in die ou skiem is ook geraid en hulle’s nou op pad hierheen om dié skurk ook te kom haal.”

“Dankie, my kind, vir alles! Ek sal jou ewig dankbaar wees,” sê antie Martha met trane in haar oë.

Mandy druk haar weer styf teen Bradley vas. “En ek wil jou girlie wees en jy moet my berk wees!” sê sy oorstelp van geluk.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters