6 dae gelede
Antie Ruth maak Koos op haar eie manier ook wys
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Koos bly by antie Ruth en haar seun, die gangster-dikding Frankie die Dood. Frankie stel dit duidelik aan Koos dat hy welkom is vir solank as wat hy Frankie se instruksies volg. Een daarvan is om in die ways van Frankie se werksaamhede geskool te word.

Geniet nou hoofstuk 5 van EL­DRIDGE JASON se verhaal “Koos Jackpot”.

TOT Koos se groot verligting stuur Frankie die Dood hom darem nie na ’n regte skool nie.

Ook nie na sy dood toe nie. Altans, nog nie.

Nee, Koos ontvang sy opleiding by die Universiteit van Kroekwees, waarvan die hoofkampus Frankie se fort van ’n huis in Kleinvlei is.

Hier ontmoet hy sy lecturers Koppe, Tamatie, Green Eyes, Pretty en Lady Luck, wat niemand anders as Marsha, die bediende, is nie.

Koppe se job is om Koos alles te leer van die kuns van messteek – iets waarmee Koos aanvanklik nie baie gemaklik was nie.

“Hoekom moet ek leer messteek as ek net ’n gun soos jy kan gebruik?” vra hy toe.

Koppe is egter ’n man van min woorde.

Daar was meer spyker-tjappies op sy lyf as wat hy ’n woordeskat gehad het.

Een vlymskerp pangakyk van Koppe was genoeg om Koos nie verder vrae te laat vra nie.

“Die eerste ding wat jy moet onthou as jy ’n mes gebruik, is dat jy nie ’n chef in ’n fancy restaurant is nie.

“Jy try nie mense met ’n dish impress nie. Jy veg vir jou lewe,” dril Koppe oor en oor by hom in.

Van al die messe in die wêreld is Koppe se gunsteling ’n geroeste Okapi.

“As jy weet waar jy jou target wil hit, bloei hy binnekant toe, pappa,” verduidelik Koppe met ’n sadistiese grinnik op sy bakkies.

Koos was diep bang vir Koppe. Eintlik skytbang. Hy het gesweer Koppe het die duiwel se slypsteen onder sy kopkussing en maak daarmee sy Okapi skerp.

Tamatie is weer uitgetatoeëer met dollar signs – selfs tot op sy ooglede.

Tamatie is ’n dief. ’n Skelm. ’n Kroek sonder weerga. Iemand wat Koos baie herinner het aan Arsène Lupin, die TV-stuk wat hy so baie geniet het om te kyk.

Tamatie het hom al die truuks geleer van hoe om kamma-likes teen mense vas te loop en in die proses hul wallet te steel.

Maar so oldschool soos wat Tamatie is, is hy ook ’n dissipel van kredietkaartbedrog.

Sy langvinger-Bybel is ’n skimming device waarmee hy mense inloop.

Koos hou baie van Green Eyes. ’n Charmer soos min met sy groen oë en spiky hare.

Green Eyes is die Casanova van die Kleinvlei, die Don Juan van Klipbokstraat.

Mense noem Green Eyes agter sy rug ook die Vader van die Nasie omdat hy soveel kinders het.

Presies hoeveel kinders weet niemand nie.

Wat baie wel weet, is dat Green Eyes ’n wandelende, lewende STI-bom is.

Met sy gladde tong het hy Kleinvlei se girls se knieë lam gemaak. Soveel so dat nie een hom ooit aangegee het vir maintenance nie, want die Vader weet so lief soos wat Green Eyes was vir kindmaak, net so lief was hy om nie sy vaderlike pligte na te kom nie.

Lady Luck, oftewel Marsha, is ’n merrie van ’n ander kleur.

Harder as ’n koejawel en maak nie saak hoe Koos probeer het om Green Eyes se truuks op haar toe te pas nie, hy kon eenvoudig net nie die 33,3%-slaagsyfer behaal nie.

By Marsha het hy nie skooltjie-skooltjie gespeel nie, maar inderdaad regte skoolonderrig ontvang.

Dit is accounting op sy brood. Dag in en dag uit – totdat dit vir Koos begin voel het die syfers loop al by sy ore uit.

In hierdie tyd sien hy bitter min van antie Ruth en Frankie.

Frankie vergader die meeste van die tyd met sy leermeesters en skud net sy kop as hy in Koos se rigting kyk.

Antie Ruth is die meeste van die tyd by ’n biduur of by ’n doktersafspraak.

Een middag ná ’n sessie waarin Lady Luck weer al die sondes van die heelal uit hom gedril het, kry Koos antie Ruth op die stoep sit.

Krom skouers, benerige vingers, wange wat ingehol is ...

Koos is geskok om haar in so ’n toestand te sien.

Hy wil wegsluip, maar toe antie Ruth hom gewaar, wink sy hom met groot moeite nader.

“Frankie ... Frankie sê jy vorder goed,” sê sy moeisaam.

“Jy ... jy is nou al vyf, ses maande hier. Jou ouers moet jou seker baie mis.”

Koos staan net daar met ’n mond vol tande.

Green Eyes se tip: moet nooit ’n vroumens in die rede val nie. Laat sy die meeste praatwerk doen, want dit gee jou dan die minste van explaining om te doen.

“Mis jy hulle?” vra antie Ruth en gryp Koos se hand vas.

“Ja,” antwoord Koos ietwat kortaf.

Dit was nog ’n tip van Green Eyes: hou jou liegstories so kort as moontlik sodat wanneer jy oor en oor ’n ding gevra word, jy dieselfde kort antwoord kan verskaf.

“Ek is besig om dood te gaan,” gaan antie Ruth voort.

“Die dokters sê daar is niks meer wat hulle vir my kan doen nie.

“Die chemo help nie meer nie. Maar ek is reg om te gaan.

“Alles is wel met my siel.

“Maar ek kan nie gaan totdat ek seker is jy gaan oukei wees nie.”

Koos voel hoe ’n knop hom in sy keel kom tuismaak.

Antie Ruth ... sy het maar ’n sagte en spesiale plekkie in sy hart.

Was dit nie vir haar wat hom daar op ArtsCape se trappe gekry het nie, weet hy nie waar hy hom vandag sou bevind nie.

“Ek ken vir Frankie,” gaan antie Ruth hygend voort.

“Daai kind van my praat nie baie nie, maar ek weet hy hou van jou.

“Jy is soos ’n seun vir hom.

“Jy is anyway soos die kleinkind wat ek altyd wou hê.

“As ek die dag my oë toemaak ... dit klink miskien na die wens van ’n ouvrou ... maar ek sal graag hemel toe wil gaan.

“En jy kan ook maar vergeet van hemel sien solank as wat jy met Frankie deurmekaar is.

“Green Eyes en Tamatie ... wie de hel gee sy kind se naam Tamatie?

“Anyhow, daai is seker maar ’n saak tussen sy ma-hulle, binnelandse sake en die duiwel.

“Hulle leer jou nie om ’n goeie mens te wees nie.

“Hulle leer jou al die tips van hoe om ’n model-werker vir die duiwel te wees.”

Dit was op daai oomblik dat Koos besef het sy studies is gevaarlik.

Lewensgevaarlik.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters