4 dae gelede
Antie Magrieta smeer haar aan die hele gesin af
 ~ 

SONLANDERS! Oom Clive­ sê aan sy gesin hy het vroeër vir die gangster-dikding Ballie Bokser gewerk. Dis by einste Ballie se huis waar die euwels plaasgevind het waarvan Will nou beskuldig word. En volgens oom Clive is dit Ballie en sy manskappe wat Will vir die vieslike dade probeer frame. Maar hoe waar is dit? Geniet nou hoofstuk 7 van ELDRIDGE JASON­ se “Die Verhoor van Will E. Hoorie”.

ANTIE Magrieta is niks lekker nie. Dit gaan nou al vir ’n hele paar dae so.

Nadat die kinders hulle by hul pa geskaar het, het antie Magrieta besluit sy is klaar met hulle.

Sy maak nie kos nie, jaag niemand meer uit die kooi uit op nie en die kombuis lyk asof ’n orkaan dit getref het. Oom Clive het hom ook heel tuis in Will se kamer gemaak en koop net links en regs gatsbies en los entjies elke dag vir die kinders.

Sers. Eugene Konstabel, die ondersoekbeampte, het ook al ’n hele paar keer ’n draai kom maak om seker te maak dat Will sy borgtogvoorwaardes nakom. Maar of daar by die borgtogvoorwaardes gehou word, skeel antie Magrieta min. Daarvoor is dinge maar net te onwel met haar siel.

Die hele gedoente pla haar so dat sy nie eens meer lus is vir kerk toe gaan nie.

Sy sit haar dae maar om op die stoep waar sy die verte intuur en die een ná die ander swaar sug gee.

Só sit sy ook een oggend toe haar buurvrou suster Blompot Bekker by die voorhekkie verskyn.

Toe suster Blompot eers hul pavement special, Spotty, groet toe weet antie Magrieta suster Blompot is net daar vir leen of skinder.

“Lyk die winter is nou verby, nè?” praat suster Blompot meer met Spotty. Antie Magrieta gluur haar net aan.

“Ek sien Clive is weer terug. Is hy dan nie supposed om dood te wees nie?”

Antie Magrieta vlieg op. “Blompot, jy moet nou baie mooi vir my luister. Ek het nie suiker tot ander week toe nie en my yskas is leeg. Ek sê jou nou al.

“En wat Clive betref: Hoekom begrawe jy hom nie weer nie as dit is waar hy hoort?”

“Nee, nee, suster Magrieta, ek het nie bedoel om...”

“Nou wat het jy dan bedoel, ha?” vra antie Magrieta heavy op die aanval. “Skinder is ’n groot sonde, maar jy wil nie hoor nie.

“In die hel is daar ’n spesiale plek uitgesit vir jou wat so wil bek verkoop.”

Suster Blompot raak spierwit om die kiewe, vlieg om en march soos watse soldaat huis toe.

Agter antie Magrieta gee Will ’n kuggie.

“Wat?” blaf antie Magrieta. “Soek jy ook suiker?”

Will trap ongemaklik rond.

“Err... ek wou net sê ek moet nou hof toe gaan, Ma. Glo een of ander special sitting waar die landdros oor die saak wil praat.”

“Nou hoekom sê jy vir my?” kap antie Magrieta terug.

“Vat jou pa saam. Hy het mos vir OJ Simpson ook losgelieg.

“Laat hy jou loslieg, want die Vader weet, ek weet nie meer of jy so onskuldig is soos wat jy sê nie.”

Will blaas sy asem hard uit, skud sy kop en stap weg. Oomblikke later kom hy, Maggie en oom Clive na buite.

Oom Clive wil nog groet maar toe hy die onweerswolke in antie Magrieta se oë sien, kap hy ook maar al aan.

By die hofgebou stap die drie reguit na Dicky Lake, die staatsaanklaer, se kantoor. Dié kyk gesteurd op toe Will aan die deur klop.

Die irritasie-frons op Dicky se voorkop verdwyn egter toe hy oom Clive herken.

“Oom...” sê Dicky versigtig. “Uhm... van wanneer af kom spoke dan hof toe?”

Oom Clive gee ’n droë laggie. “Jy is Fiekie Lake se klong, nè?

“Magtig, jy het darem grootgeraak, met daai groot voorkop van jou en al. Toe ek jou mos nog laas gesien het, was jy net ’n paar bakstene hoog.

“Anyhow, hierdie is nie ’n reunion­ nie. Ek is hier om my seun se naam skoon te kry.”

Dicky kug. “Oom, met die lywige klagstaat teen u seun, gaan dit meer as Vanish vat om sy naam skoon te kry.”

Dicky knik in die rigting van ’n dik lêer. “Soos Oom kan sien, is daar heelwat sonde in die lêer van Will.

“Will se lys van oortredings kom al vir jare aan. Van karre met klippe gooi, shoplifting en nou hierdie ernstige klagte teen hom.”

“Ek wonder al jare hoekom hulle dit shoplifting noem,” antwoord oom Clive. “Ek mean maar, hoe tel jy dan nou ’n winkel op? ’n Hele winkel.”

Niemand vind die oom se grappie snaaks nie. Maggie raak nervous toe sy die docket sien.

Will staan en wens hy het liewers nie gekom nie.

Dicky staan stadig op. “Dit is vir die hof om te besluit, maar ten spyte van al die vorige setbacks kan ek Oom verseker ons het ’n stewige saak. Maar kom. Laat ons landdros Uys nie lank laat wag nie.”

Dicky skuur verby die drietal en stap vooruit na die landdros se kantoor. By die deur gekom, gee hy ’n paar vinnige kloppies en maak dan die deur oop.

Landdros Uys kyk gesteurd op. Lyk so streng soos môre die hele Sabbatdag. Will, Oom Clive en Maggie kom ook stilletjies ingesluip.

Dicky Lake pla Will. Die man is darem net veels te happy... en cocky.

“U Edele, die beskuldigde is hier, soos versoek deur u.”

“Moet die hele hof nou ons gesprek luister met die deur wat so wawyd oop staan?” grom landdros Q.N. Uys.

Dicky skarrel om die deur toe te maak.

Landdros Uys skuif die werk waarmee hy besig was, eenkant toe, sit agteroor in sy stoel en vleg sy vingers ineen.

Hy staar vir lank na oom Clive en draai dan na Will.

“Ek sien die dooies hier ronddwaal, maar ek sien nie jou regsverteenwoordiger nie.”

“Hy kon dit nie maak nie, Your Honour,” antwoord Will vinnig.

“Ek wonder selfs of hy dit in hierdie bedryf gaan maak.

“Is jy gemaklik daarmee om sonder jou regsverteenwoordiger voort te gaan?”

Will knik.

“Wel,” sê landdros Uys en sit effe orent. “Die staat wil nie graag enige verdere tyd mors nie. Die idee is om jou die geleentheid vir skulderkenning te gee en ’n deal te skik.”

Hy draai na Dicky.

“Dis korrek,” sê Dicky – weer te entoesiasties na Will se sin.

“As jy skuldig pleit op die aanklagte teen jou, is ons bereid om ’n pleitooreenkoms van 25 jaar aan te gaan. Jy sal in aanmerking vir parool kom nadat jy ’n derde van jou vonnis uitgedien het.”

Oom Clive bars uit van die lag. “Hierdie is een groot grap. En ek gaan julle sê hoekom ek so sê en hoekom hierdie klagte vandag in hul moer kruip.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters