Verlede maand
Antie Magrieta marsjeer eerste die hofgebou in
 ~ 

SONLANDERS! Nee, kyk, oom Clive het sy luck getry, maar eintlik vat dit antie Magrieta om die ding te doen. Dié antie kry die landdros sover om met nuwe oë na haar seun se saak te kyk. Landdros Q.N. Uys maak dan die besluit om die volgende dag te beslis of die staat wel ’n sterk saak teen Will het. Is daar hoop vir Will? Gaan hy die saak tol? Geniet nou die voorlaaste hoofstuk van ELDRIDGE JASON­ se “Die Verhoor van Will E. Hoorie”.

DIT is nog effens donker. En hoewel die lente sonder enige fanfare aangebreek het, byt die oggendkoue nog.

Daar is nog min van ’n gewoel in Landdrosstraat. Hier en daar is daar ’n kar te sien.

Maar dit gaan ook nie lank wees voordat die papgeld-verskyners, tikkoppe, dronkbestuurders en ál die willie-hoories van die lewe ’n draai in Landdrosstraat sal moet maak om hulself in die hof te please explain nie.

Antie Magrieta, haar kinders en oom Clive is al vroeg uit die vere. Nog voordat die hofgebou se hekke oopmaak, is die viertal al daar.

Will en Maggie het gemoan dat hulle nog laat wou slaap.

Oom Clive het geskimp dat die duvet’tjie waaronder hy lê, veels te dun is... Maar antie Magrieta was ashes.

Sy staan in Landdrosstraat voor die hof opgetof in haar blinkste kerkklere. Mense wat verbyry, kan nie geblameer word as hulle dink die antie is op pad karnaval toe nie met haar paisley-rok, rooi hoëhakskoene en massiewe kerkhoed op die dif.

Selfs haar hare lê styf maar uitgekam op haar skouers.

Will is net dankbaar dat sy ma nie ’n road trip van sy hofver­skyning gemaak het deur nog eiers ook te kook en cream crackers in te pak nie.

Oom Clive staan verwese eenkant en suig aan ’n Stuyvesantjie. Kort-kort loer antie Magrieta in sy rigting en klik haar tong.

Diegene wat fyn van gehoor is, sal sweer dat sy ná elke tongklik “sleg ding” ook uiter.

Klokslag 08:30 maak die hekke oop en antie Magrieta marsjeer heel voor die hofgebou binne.

’n Halfuur later is sy ook eerste by hof 6 binne. Sy gaan sit voor, reg agter die beskuldigdebank. Will kom sit langs haar.

Oom Clive en Maggie gaan sit reg agter, baie bewus daarvan dat antie Magrieta vandag weer in die hof kan beform.

“Wat dink Mammie gaan vandag gebeur?” fluister-vra Will.

Sy ma gluur hom aan, maar sê nie ’n woord nie.

“Dink Mammie die judge gaan my darem genadig wees? Ek wil nie tronk toe gaan nie,” hou Will dik.

Antie Magrieta snork onvroulik deur haar neus en draai haar effe skuins in die bank.

“Weet jy, Will, baie mense wil hemel toe gaan, maar niemand wil doodgaan nie.

“As jy nie wil tronk toe gaan nie, hoekom loop en bevind jy jou by plekke waar allerhande onheilighede plaasvind, ha?

“Sê net daai vir my, toe. Ek kan nie verstaan nie. Swaar is jy grootgemaak, maar dan wil jy nog sulke dinge loop staan en aanvang.”

“Mammie, issit nodig om my so in die eyes te sit? Die mense kyk almal vir ons.”

“Laat die mense kyk en sommer lekker kyk,” kap antie Magrieta terug. “Ek sit jou in die eyes, ja. Jy het dan nie ore nie.

“Ek sê jou ook sommer nou al: Word die saak vandag teen jou verder gesit en jy word later tronk toe gestuur... Ek het nie geld vir entjies óf Vaseline vir jou nie.”

“Nee, wat praat Mammie dan nou van Vaseline?” vra Will in ’n temerige stemmetjie.

“Jy sukkel dan so met droë lippe. Vir wat anders sal die Vaseline dan nou wees?” vra antie Magrieta vies. Voordat Will kan antwoord, kom Dicky Lake, die staatsaan­klaer die vertrek binne. Hy knik strak in hul rigting.

“Oe, ek kan sommer sien iemand het nie ’n lekker nagrus gehad nie,” sê antie Magrieta kliphard. Soos gewoonlik.

Dicky kan nie anders as om ’n flou laggie te gee nie. Maar hy lyk verlep. En nervous.

“Stilte in die hof!” bulder die hofordonnans, sers. Wilfred Kapilfred meteens.

As doodkyk ’n persoon was, dan was dit op daai oomblik antie Magrieta met die way hoe sy sers. Kapilfred aangluur.

Landdros Q.N. Uys kom traag na binne gestap en gaan sit. Hy lyk moeg, so asof hy die wêreld en ál sy Covid issues op sy skouers dra.

Landdros Uys knik in Dicky Lake se rigting waarna dié ewe traag uit sy stoel opstaan.

“Soos dit die hof behaag, Edel­agbare,” sê Dicky tam.

“Ons gaan nie langer die hof se kosbare tyd mors nie, Edelag­bare. Ek was gisteraand nog laat besig om te kyk hoe ons die saak verder kan vat.

“Maar ek is toe deur die ondersoekbeampte ingelig dat die twee slagoffers ook intussen verdwyn het. Die staat se saak het grotendeels op hul getuienis berus.

“Die ondersoekbeampte het my meegedeel dat hierdie twee getuies se verklaring ook nooit afgeneem is nie. Hulle sou nog polisiestasie toe kom om dit te doen, maar het toe nooit so gemaak nie. Daar is nie ’n manier hoe die saak sonder hulle kan voortgaan nie.”

’n Verslane Dicky Lake gee ’n kuggie en gaan weer sit.

Landdros Uys draai na Will E. Hoorie wat in die beskuldigdebank staan.

“Meneer Hoorie, ek wil nou hê jy moet baie mooi vir my hoor,” sê die landdros in ’n streng stem.

“Jy is baie gelukkig. Ek weet nie of jy familie van die geluks­godin is en of hierdie werklik per toeval is nie, maar sonder getuies is daar nie ’n saak teen jou nie.

“Ek wonder wat het hier met die getuies gebeur.”

Landdros Uys tuur in oom Clive se rigting. Dié staar hom net stip aan.

“Hoe dit ook al sy,” hervat die landdros, “jy is vry om te gaan.”

“Glory! Halleluja!” gil antie Magrieta en vlieg op, jigboude of te not. Sy steur haar glad nie aan sers. Kapilfred se “stilte in die hof”-gesangetjie nie en storm op Will af. Will versmoor byna in sy ma se omhelsing en reuk van cheap parfuum.

Landdros Uys skud sy kop, staan op en verlaat die hofgebou.

Dicky Lake gryp ook sy stapeltjie lêers en kry koers na buite.

Toe antie Magrieta-hulle later buite staan en wag op ’n taxi, draai sy na Will.

“Will, jy weet ek glo in wonderwerke, maar ek kan nie anders as om te wonder wat presies gebeur het nie.”

“Hoe mean Ma?” vra Will en vat weer ’n hap van sy steak and kidney pie.

Antie Magrieta draai na oom Clive. “Nee, ek dink jou pa sal ons kan antwoord. Hy dink seker ek het geslaap toe hy laat laas nag die huis uit is. Het jy enigsins iets te doen net daai witnesses se verdwyning?”

Oom Clive raak vaal in die gesig. Almal draai afwagtend na hom...

  • Môre: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters