5 dae gelede
Antie Magrieta is min lus vir oom Clive se stories
 ~ 

SONLANDERS! Will is skaars by die huis, toe is hy sommer weer missing. Terwyl antie Magrieta so staan en panic oor waar hy is, steek ’n onwelkome gas uit – haar langverlore man, oom Clive. Die kinders is bly om hul pa te sien, maar antie Magrieta is min impressed en wil net hê die oom moet weer ’n lange gooi. Maar dan sê oom Clive hy weet van ’n way om Will met sy hofsaak te help. Geniet nou hoofstuk 6 van ELDRIDGE JASON­ se “Die Verhoor van Will E. Hoorie”.

ANTIE Magrieta se levels van verdraagsaamheid is so dun soos die meeste mense se bankbalanse as die debietorders daarmee klaar is.

Vinnig op haar perdjie. Sy skiet uit die heup. Sy is iemand wat eers baie, baie later vrae sal vra nadat sy toeka se dae al ’n sarsie skote afgevuur het.

Terwyl die kinders oom Clive met soveel verwondering aanstaar, kan antie Magrieta nie anders as om te onthou van die tyd toe oom Clive soos mis voor die son verdwyn het nie.

Hy’t haar op die slegste van tye gelos – toe Will en Maggie nog klein was en ál wat furniture store is, gedreig het om hul meubels weens wanbetaling te kom opeis.

Die Vader weet, sy het dit vir niemand vertel nie, maar dit was die jare toe sy gewonder het of sy ook nie maar langs die pad moet gaan staan soos die girls met die kort rokkies aan nie.

Deur genade was dit nie nodig nie. Vasbyt en deurdruk het haar deurgedra. En nou wil Clive háár kinders van wie hy net die sperm donor was, valse hoop kom gee? Nie in ’n honderd jaar nie!

“Clive, jy gaan nie ná meer as 20 jaar soos Hercules hier ingewals kom en jouself die hero declare nie,” sê antie Magrieta grommend.

“Van my hart gaan ek nie ’n moordkuil maak nie. Jy was jou hele lewe lank ’n liegbek. Hoe weet ek jy praat nou die waarheid?

“Waar was jy al die jare, ha? Waar was jy?”

Uncle Clive trap ongemaklik rond en vermy antie Magrieta se intense blik. Dan draai hy na Will en Maggie.

“Sal julle ons verskoon, asseblief? Ek wil gou hierdie ding met jul ma uitklaar.”

“Die kinders gaan nêrens,” vlieg sy hom in. “Hulle is grootmense en nie meer kindertjies wat kamer toe gejaag kan word nie.

“As jy wil lieg, dan lieg jy voor hulle.”

Oom Clive sug swaar, trek sy skouers op en grawe in sy sak waar hy ’n gekreukelde pakkie Stuyvesants uithaal. Hy is op die punt om ’n entjie aan te steek toe antie Magrieta hom halt.

“Hello, hello,” sê sy kwaai. “Hier word nie in hierdie huis gerook nie. Dink jy dan hierdie is ’n pub of ’n suikerhuis?”

Oom Clive druk die sigaret terug in die pakkie en weer in sy broeksak.

“Ek is ontvoer,” sê hy dan. “Ek weet, ek weet – moeilik om te glo, maar die dag toe ek verdwyn het, was ek op pad om ’n pakkie chips te gaan koop by daai Somalian wat ’n container hier om die draai gehad het.

“Toe kom ’n kar, twee ouens spring uit en boender my in die kar en jaag weg.

“Hulle het my vir maande aangehou en so gemartel dat ek later nie eens meer geweet het wat my naam was nie.”

“Aaauw,” sê Maggie. Haar oë lyk soos Puss in Boots s’n. “My arme, arme daddy. Dit moes omtrént ’n nightmare gewees het?”

Oom Clive knik en vroetel met sy hande.

Antie Magrieta bars tot almal se verbasing uit van die lag.

“Jirre, Clive, skaam jy jou nie om só te lieg nie? As jy ontvoer is deur aliens, sou ek jou nog geglo het. Maar ontvoer toe jy chips gaan koop het?

“Wie was dan agter jou pakkie Spookies aan? Die duiwel?”

Oom Clive skud sy kop verwoed. “Onthou jy dan nie die driver job wat ek destyds gehad het nie?”

“Praat jy van daai job wat jy nes die ander net vir ’n week of twee gehou het?”

“Einste,” antwoord oom Clive en besluit om die nastiness in antie Magrieta se stem te ignoreer.

“Ek was Ballie se driver. Ek het jou nooit gesê vir wie ek werk nie, want ek weet jy sou ’n probleem daarmee hê.

“Ballie... Ballie Bokser. Die gangster-mert?” vra antie Magrieta. “Ballie wie se jongens al soveel mense laat verdwyn het?”

“Einste,” sê oom Clive.

“Dit was Ballie se jongens wat my ontvoer en gesê het as ek my voete ooit weer hier sit, dan maak hy julle almal dood.

“Sien, orals waar ek Ballie gaan aflaai het, het ek die onwettighede gesien waarmee hy besig was. En eendag, eendag het ek gesien hoe maak hulle twee mense dood. Ek... ek was nog nooit so bang in my lewe nie.”

“Maar jy was nog altyd bang vir werk,” kap antie Magrieta terug.

“Ma,” sê Will ontsteld. “Die toppie is clearly deur groot trauma. Kan Ma hom nie ’n break gee nie.”

“’n Break? ’n Break? Lyk ek vir jou soos ’n Kit Kat?” skree antie Magrieta. “Snaaks hoe almal ’n break in die lewe verdien, maar waar was die break toe ék dit nodig gehad het?

“Niemand het my ’n break gegee toe ek twee klein kindertjies moes grootmaak nie.”

Oom Clive maak hard sy keel skoon.

“Ons kan nie dat die verlede ons gevange hou en om ons nek hang soos die galg se tou nie.”

Antie Magrieta bars kliphard uit van die lag.

“Aauuw, ’n poet en you know it. Nee wat, Clive, ek het nie geweet dis moontlik nie, maar nou het ek al regtig als gehoor.

“In die meer as 20 jaar van afwesigheid is dít die beste verskoning waarmee jy kon opkom?

“Hoekom het jy nie polisie toe gegaan nie? Hoekom het jy nie vir my van jou sogenaamde dilemma kom vertel nie?

“Feit van die saak is jy het weggehardloop, my alleen gelos met al die skuld en verantwoordelikhede van kinders grootmaak... Net om jare later hierdie Fanta-blikkie-strooi aan my te kom vertel.”

Terwyl antie Magrieta so staan en ’n gasket blaas, begin oom Clive stadig sy hempsknope losmaak.

“Hmmm, nou kom ons by die waarheid uit,” sê antie Magrieta terwyl sy hom dophou. “Jy was al die jare ’n male stripper. Dís wat jy was.”

Sy raak egter stil toe die oom sy hemp heeltemal uittrek, hom omdraai en rugkant na haar toe staan. Sy staar geskok na die letsels van diep, diep houe wat all over sy rug gekerf is.

Vir antie Magrieta lyk dit nie asof daar eens ’n begin of einde aan dié letsels is nie. Oom Clive draai om en begin weer sy hemp aantrek.

“Soos jy kan sien, maak ek nie goed op nie. Ek was in die hel en wil nie hê julle moet ook daardeur gaan nie.

“Dis hoekom ek hier is om te help, want dit wat ek weet, kan Will uit die tronk uit hou. Ek sê julle: Ek wéét wie agter alles sit.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters