6 dae gelede
Antie Koekie wil nou haar skeppie room ook opeis
 ~ 

HAAI Sonlanders!

Met ’n plaaslike verkiesing op hande wat alle Suid-Afrikaners weer kruisie-mal gaan hê, skop ons vandag af met ’n splinternuwe verhaal uit die pen van ELDRIDGE JASON. Hy noem dit Verkiesingskoors in Boksville. Geniet die eerste hoofstuk!

BOKSVILLE...

’n Dorp wat jy nie sommer op die mêp sal kry nie. Vergeet ook maar om vir daai antie van Google Mêps te vra. Sy gaat jou straight vra of jy judge-erig is.

’Cos why, niemand hou daarvan om in ’n boks geplaas te word nie. Wat nog van om in Boksville te bly, maar nie toegelaat te word om buite die boks te dink nie.

Aanwysings Boksville toe is skraps, om die minste te sê. As jy uit die Kaap uit ry, ry Weskus toe. Totdat jy nie meer verder kan ry nie. Totdat jou petrol opraak…

Om op die R27 verby Atlantis se crossing, verby Yzerfontein se gevaarlike indraai en verby Langebaan se One Stop te ry, mag dalk nie opwindend klink nie. Veral nie op daai dooierige pad waar die enigste opwinding die overhead-kameras is nie.

Maar as jy aanry, as jy aankap, gaan jy ’n geboks soos min teëkom. Veral met die plaaslike verkiesings van 1 November wat met sy lazy eye vir jou loer.

Urban legend wil dit hê dat Boksville die laaste plek op aarde is. Jy kan immers nie deur Boks­ville na ’n ander plek toe ry nie.

Daar word kliphard beweer dat Boksville selfs die Oordeelsdag sou vryspring omdat almal sal vergeet dáár woon ook mense.

Dat as jy ’n misdaad in die stad pleeg, kan jy in Boksville gaan wegkruip, want dit is die laaste plek op aarde waar die gattas jou sal gaan soek.

Maar die times, hy soek ook change. Selfs al is dit net kleingeld. En op Boksville heers daar ’n opgewondenheid soos min oor die komende plaaslike verkiesing. Dit ewenaar amper die excitement wat heers met die jaarlikse kerkbasaar waar die kerkbroers en -anties yweriger as gewoonlik in die nagmaal-dooswyn inklim.

In ’n klein dorpie waar almal familie van almal is, word die battle lines getrek. Soos wanneer die All Blacks en die Bokke swaarde kruis.

Hierdie keer gaan dit egter oor ’n ander kruis. ’n Kruis wat die wenner ’n seat in die munisipale raad kan besorg. ’n Prys wat die wenner skaamteloos vir vyf jaar rustig kan laat slaap – sonder enige worries of finansiële pyne waarvoor daar nie pille by die plaaslike kliniek is nie.

Krismis kom een keer ’n jaar. Dis nie elke dag Kersfees nie, maar ten minste is daar ’n 25 Desember in elke jaar. Unlike ’n raadslid wat jy een keer in vyf jaar sien.

Jy sien hom of haar net die dag as hulle aan jou deur kom klop met hul politieke T-shirt “made in China” en waar hulle sommer die hond ook groet, of met hul tong die vullis in jou straat wil wegvee.

Dan verdwyn hulle. Hulle en daai liegtonge. Asof hulle deel van die Wegraping se vyfjaarplan was.

Antie Koekie Armoed sê ’n poli­tician­ is soos ’n kar wat jy koop.

“Vir vyf jaar betaal jy getrou die paaiemint, maar proe nooit die luxury om in daai kar te ry nie. Jy word ingedoen, ingelyf tot ’n vyfjaarperiode waar jy virre pop gevat word, maar nie goed genoeg is om een van Edgars se mannequins te wees nie.”

Antie Koekie sal immers weet. Oor die 40 jaar by die plaaslike visfabriek gewerk en op die dag van haar aftrede gaan trek sy al haar swaarverdiende geld en gaan gee dit vir ’n sangoma om te vermeerder. Al wat egter vir antie Koekie vermeerder het, was haar swaarkry en kinders en kleinkinders wat haar nou nog beskuldigend aangluur as daar alwéér gebakte harders die aand op die plate is.

“Dinge kan nie so aangaan nie,” roep antie Koekie een aand gefrustreerd uit toe sy amper verstik aan een van die ekstra-fyn grate van ’n jong hardertjie waarmee een van die vissermanne haar vroeër die dag gebless het. ’n Visserman wat al hóé lank probeer om dié antie, wat taai vir trou is, in te katrol.

Net daar, terwyl sy so geloofwaardig as moontlik aan ’n stuk droë brood kou om die graat keelgat toe te lei, besluit sy om a better life for all five years long vir haarself te verseker.

So asof die noodlot dit wou hê, speel daar op daardie oomblik ’n verkiesingsadvertensie op die klein ou radio’tjie van haar wat nog met ’n PM9-bêtterie werk.

“Ons munisipaliteit werk. Saam kan ons meer doen,” sê ’n stem wat nie baie vertroue by antie Koekie inboesem nie.

Maar die saadjie was by haar geplant: Wat as sy haarself beskikbaar stel vir die verkiesing? Wat as sy haarself ook vir ’n slag vir vyf jaar skaamteloos hou en ’n lewe van gemak en min dink in die raadsaal gaan lei?

“Usain! Usain!” roep sy luidkeels die gang af na haar kleinseun. In die proses laat sy amper die visgraat weer skuins in haar keel sit, maar sy drink dadelik die glas water langs haar.

Water is die antwoord, want die Eleven in One is immers op. Usain is die soveelste kind van haar dogter Mêggie. Ook so genoem omdat sy pa nes die res van sy siblings s’n, blitsvinnig van die toneel verdwyn het toe sy ma haar in ’n ander tyd bevind het.

Al wat van die pa behoue gebly het, was die van: Boltman. Usain Boltman. ’n Seun wat vinnig is om vir sy ouma winkel toe te loop – om net so blitsvinnig die kleingeld te laat verdwyn. Maar hy is antie Koekie se favourite.

Die een met die meeste breins van die lot. Die een wat een aand sommer kliphard gevra het of Sassa vir sy ma werk.

“Ja, Oumie?” vra Usain toe hy finally te voorskyn kom.

Selfoon in die hand. Die een wat sy ouma vir hom vir sy birthday gekoop het. Oë vasgenael op sy selfoonskerm.

’n Bright klong. Sestien jaar oud en vol potensiaal wat ook verlore sal gaan indien ’n miracle nie aan hul deur kom klop nie.

“Ek het besluit ek gaan myself verkiesbaar stel virrie elections, sê antie Koekie. “Ek is op vir die politricksions se geliegtery. Hier wag ek nou nog vir die vorige councillor, Oujan Balie, om die pavements te kô pave, soes wat hy vyf jaar gelede ge-beloewe het.

“En jy gaan my help. Jy gaan my champagne manager wees.”

Usain se aandag is nou nie meer by sy phone nie. Hy gaap sy ouma geskok aan.

“Toe, toe,” spreek antie Koekie hom hard aan. “Dit baat nie jy lyk soos iemand wat ’n leë s’praais packet oopgemaak het nie.

“Jy sal daai Gôglee-Goo of watse ding daai ook al op jou phone is, moet inspan en soek vir hoe ek hierdie verkiesing kan wen, want wen, gáát ek wen.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters