5 dae gelede
Antie Koekie smyt Oudie tjop-tjop van sy troontjie af
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Antie Koekie Armoed het genoeg van haar liegbek-raadslede gehad en besluit om self in die komende plaaslike verkiesing te staan. Sy besluit om sommer dat haar kleinseun Usain Boltman haar campaign manager gaan wees. Maar staan die antie ’n kat se kans in die woeste wêreld van politiek? Geniet nou hoofstuk 2 van ELDRIDGE JASON se Verkiesingskoors in Boksville.

DIT was ’n gejaag teen die duiwel én tyd vir antie Koekie om haarself betyds geregistreer te kry.

Al haar spaargeldjies wat sy so ywerig oor die jare weggesit het vir haar oudag, het sy gebruik om die registrasiefooi te betaal.

As Usain ook nie op die OVK se website was en gesien het dat die spertyd vir kandidate se registrasie amper verstreke was nie, het antie Koekie en haar politieke aspirasies dit nie gemaak nie.

Dit vat ook nie lank voordat die hele Boksville weet antie Koekie staan ook nou in die kring van beloftemakers nie. Vir baie was dié stukkie nuus amusant, want niemand het die antie wat skoolpouses pakkies rand-chips by die skool se draad verkoop, gesien as iemand wat aan die politieke front kan spiere bult nie.

Haar geestelike leier, ouderling Young, was veral nie impressed nie en het geen geheim daarvan gemaak nie. Vroeg die Dinsdag­oggend, terwyl antie Koekie en Usain besig is om verkiesingstraktaatjies te ontwerp, steek ouderling Young daar uit.

Bybel ferm onder die arm. Met dieselfde check-hemp wat hy die Sondag in die kerk aangehad het.

Dit was vroegoggend al lekker warm, maar ouderling Young het ’n langmouhemp aand om die tattoos op sy arms te verdoesel. Spykertjappies wat hy almal tydens jare lange uitstappies na Pollsmoor­ verwerf het.

Antie Koekie het die godsman aanvanklik nie opgemerk nie en hy moes ’n paar keer keel skoonmaak om haar aandag te trek.

“My wêreld, Oudie,” roep sy verbaas uit. “Ek het nie besef dis huisbesoek vandag nie.”

Ouderling Young maak sy keel weer skoon en frons toe hy die stacks pamflette op die eettafel gewaar.

“So, dis waar, suster Koekie?

“Die sondaars van Boksville maak nie die storie op nie. U gaan ook aan die verkiesing deelneem?”

“Nee, daar skort niks met Oudie se gehoor nie, dis waar. Ek, Koekie Armoed, gaan armoede hier in Boksville ’n uitklophou gee.”

Oudie Young sit sy Bybel versigtig op die eettafel neer en wikkel sy boonste hempknoop los.

“Politiek... politiek is uit die put van die hel, soos wat ek altyd preek.

“Hoe klink dit dan suster Koekie het nooit aandagtig na my preke geluister nie? Is dit dan vir suster Koekie belangriker om die poorte van die verniet-pay-paradys binne te gaan as om deur die poorte van die hemel te gaan?”

In sy haas om sy stempel op haar af te druk, het Oudie Young een bitter baie belangrike ding uit die oog verloor: Moenie, maar móénie antie Koekie se geloof betwyfel nie.

Reg is reg en verkeerd is niemand se reg. Dís die motto waarby sy al haar hele lewe lank staan en haar kroos swaar grootgemaak en geleer het.

Dis net Mêggie wat niks ingevat het nie en elke keer as die tyd reg is vir kind kry, bestorm sy weer met verkeerde man se kind die ander tyd.

Usain skrik toe hy die storm in sy ouma se oë sien broei, spring vinnig op en mompel iets van nog Pritt gaan soek.

Antie Koekie staan stadig uit haar stoel op. Deels ouderdom, deels die gout se skuld.

Dit was ’n 50/50-skuld-saak van gebed.

Sy gee Oudie Young die skerpste van panga-kyke en loop kombuis toe geloop om die ketel aan te skakel.

In sy ywerigheid stap Oudie agterna, heel verkeerdelik onder die indruk dat antie Koekie vir hom sy gunsteling-koppie brousel gaan maak.

Maar kort nadat die ketel gekook het, plug antie Koekie dit uit en kom staan daarmee voor die godsman.

“Vir jou... vir jou...” sis sy. “Vir jou verbrand ek net hier vandag, Oudie.”

Oudie beweeg verskrik agteruit. “Whoa-whoa... kalmeer nou, suster. Wat gaan dan nou aan?” vra hy paniekerig.

“Wat gaan dan nou aan? Wat gaan dan nou aan?” papegaai antie Koekie kwaad en gee ’n tree vorentoe.

Oudie gee heelwat treë agteruit.

“Jy preek heeltyd oor hoe sleg die politiek is en herinner almal daaraan om hul tiendes te betaal. Dis al waaroor jy preek.

“Jy wil perform soos iemand wat Jesus se kroon op jou kop dra, maar vergeet hoe jy so vervuil van die tik was dat niemand anders as ék daar was vir jou nie?

“Nou wil jy my geloof en my karakter in twyfel kom trek, Oudie?

“Vir my, Koekie Armoed, wat in jou oomblik van swakheid en armoede daar was vir jou?

“Vir my wat die dag toe die magistraat jou straf, gepleit het dat hulle jou genadig moet wees?”

Oudie Young raak wasbleek in sy gesig. Sy lippe trek op ’n dun lyntjie.

Haastig loop hy na die eettafel, gryp sy Bybel en draai na antie Koekie.

“Ek was nog nooit so in my lewe verneder nie, suster Koekie,” sê hy styf.

“Ek gaan u vergewe, maar ek gaan nie vergeet nie.

“Ek gaan bid dat u nie goed moet vaar in die verkiesing nie.”

“Get lost and report yourself missing,” sê antie Koekie en mik met die ketel in sy rigting.

Oudie skrik so groot dat hy amper sy Bybel en al die rekords van sondes wat daarin gecapture is, laat val.

Strompelend vlug die ouderling die huis uit en mompel iets wat vir antie Koekie darem baie ver van ’n Bybelversie af klink en haar aan die ou, stout Oudie herinner.

’n Geskokte Usain laat die Pritt uit sy hand val en gaap sy ouma oopmond aan.

“Mamma, dit was regtig nie ’n goeie move nie,” sê hy half uitasem.

“So lief soos wat Oudie Young is om oor geld te preek, so lief is Boksville se mense ook vir hom.

“As hy Mamma se naam gaan swak maak by die kiesers...

“Oh my, hoekom het Mamma nie maar eerder vir Oudie koffie gemaak eerder as om hom te wil verbrand nie?”

Antie Koekie snork onvroulik deur haar neus – soos daai mense wat so skaamteloos na neus-diamante soek.

“Oudie ken nog min jokes en ek ken al sy files,” sê antie Koekie heel as aan.

“Dis tyd dat ons aan my manifestival werk sodat ek ’n door- to-door met die Boksvillers kan hê.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters