4 dae gelede
Antie Koekie se manifes wil net nie manifesteer
 ~ 

HAAI Sonlanders! Oudie Young se plan om antie Koekie te keer om in die verkiesing te staan, boemerang so hard, die antie wil hom met kookwater verbrand. Die godsman stap vies weg en sweer hy sal seker maak antie Koekie wen nie die elections nie. Antie Koekie is egter min gespin en is kliphard aan die beplan om stemme te werf. Geniet nou hoofstuk 3 van ELDRIDGE JASON se verhaal Verkiesingskoors in Boksville.

‘ROEP sy naam in jou omstandigheid. Roep sy naam...”

Antie Koekie bars meteens uit in ’n hoesbui wat haar I Wanna Sing Gospel-drome in sy spore stuit – tot groot verligting van Usain, wat heeltyd op sy tande moes kners oor sy ouma se singery.

Nadat Oudie Young met ’n vaart hier weg is, sing antie Koekie die een gesang ná die ander.

Tot Usain se groot verligting het sy nog nie “As die Rol Daar Afgelees Word” gesing nie, want dit sou vir hom die onrusbarende sign wees dat sy ouma vir Oudie dood wou bid. Sy ouma speel anyway nie lekker saam nie.

Hulle het nog nie juis ver gevorder met haar verkiesingsmanifes nie.

Ouma Koekie bly sê sy wil nie nou ’n festival reël nie, want sy wil nie hê mense moet dink sy celebrate lank voordat ’n wenner aangekondig word nie.

En hoe meer hy probeer verduidelik dat dit gaan oor watter beloftes sy aan kiesers gaan maak, hoe meer sweer antie Koekie dat beloftes skuld maak en dat sy op niemand se boekie ’n councillor wil word nie.

Hy’s al op die punt om tou op te gooi toe sy ouma na hom draai.

“Wat as ek staan vir world peace, soos ál die Miss Universe-meisies altyd praat. Daai meisies wat lyk asof hulle vet gaan raak as hulle net na kos kyk.

“Ek sal darem myself so uitteer en dít net om in ’n eina-klein bikini te pas...

“World peace en ’n piece of my mind... Sal mense nie daarvoor stem nie?”

Usain skut sy kop heftig.

“Dit gaan nie werk nie, Oumie,” antwoord hy beslis.

“Oumie sien dan hier is niks peace in Boksville as dit die dag Sassa payday is nie.

“Dan wil die mense mekaar verskeur vir die panty-specials by die stalletjies en om eerste by Jan Koekemoer se drankwinkel in te gaan.”

“Ook weer waar,” gee antie Koekie toe en vryf ingedagte oor haar ken.

“Die mense wíl verlei word met beloftes, Oumie. Ek het al gesien: Gee hulle ’n pakkie vleis en ’n T-shirt en hulle glo jou shi–”

“Usain Boltman!” sê antie Koekie kwaai. “Jou mond is nog nie te oud om gepeper te word nie.”

Usain skud sy kop astrant.

“As Oumie nie bereid is om hierdie game te speel nie, gaan Oumie verloor. Koortjies gaan nie stemme werf nie.

“Die mense daar in Monkey-See Village soek huise. Hulle soek verniet krag. Hulle soek straatligte in Monkey-See en heel laaste, heel, héél laaste, soek hulle maybe werk ook.

“Oumie sal vir hulle ál hierdie goed moet beloof en onthou om heel, héél laaste so by the way te praat van werk.

“Ek sien daar is nou gangsterism ook in Monkey-See. Hoe gaan Oumie die bendes uitroei? Hoe gaan Oumie vir antie Kytie help wat net drie units krag kry vir haar R20? Hoe gaan Oumie vir oom Flip Pypers help met sy drein wat so oorspoel dat dit lyk hy boer nou al met brommers?”

Antie Koekie se valstande val amper uit haar mond soos wat sy in vervoering na haar kleinseun sit en luister.

“Die oplossing is eintlik maklik,” sê antie Koekie ná ’n paar oomblikke van nabetragting.

“As daai tikkop-kinners van Flip minder hul stêre met koerantpampier afvee, sal sy drein nie verstop raak nie. Kytie moet ook minder op AllPay-dag haar disability-geld opsuip. Sy is disabled vir werk. Dís wat sy is! En sy skaam haar nie eens nie.”

Usain krap in sy hare, wat nie geskik is vir ’n Pantene-advertensie nie. Hierdie is ’n verlore battle, dink hy paniekerig.

Hy wil so graag hê dat sy ouma die verkiesing wen sodat daar iets anders as harders op hul menu is. Maar op dié oomblik is sy ouma haar eie grootste teenstander.

“Dan het ek nog nie eens gepraat van Oumie se teenstander, ou Johnny Baksteenhuis, nie. Oumie ken mos vir Johnny, die ou wat matriek gelos het om bakstene te gaan verkoop?”

“O, nee, vir hom ken ek vetterig,” antwoord antie Koekie.

“Het hy dan nie bakstene verkoop om vir hom ’n gholfbaan hier buite Boksville te bou nie?”

“Hy het baie support, Oumie,” antwoord Usain. “Monkey-See se mense glo hy gaan vir hulle Hophuise daar bou en miskien werk ook skep, want iemand moet die bôlletjies soek wat daar weggeslaan gaan word.

“Of Johnny Baksteenhuis sy beloftes gaan nakom, is nie die punt nie. Hy’t binnekort ’n rally hier waar die mense saam hom gaan dans en waar hy T-shirts gaan uitdeel.

“Die musiek gaan klop en almal gaan dans en dronk loop vote en agterna vyf jaar lank na hom soek.

“Maar dis nie die punt nie. Die punt is hy gaan wen as Oumie nie bitter gou ’n haas uit die hoed ruk nie.”

Dis in dié oomblik dat antie Koekie besef sy sal als moet gee as sy Johnny Baksteenhuis wil klop. Dat sy beloftes uit haar duim sal moet suig en mense vir vyf jaar om die bos sal moet kan lei.

Maar hoe kliphard sy ook al probeer dink, sy kan eenvoudig nie met ’n Amandla-gedagte van haar eie opkom nie.

Toe, asof daar ’n verkiesingsgodin in die heelal is, hou ’n wit Toyota Etios asvaal van die stof voor haar huisie stil. Antie Koekie skarrel voordeur toe net toe sy ’n deur hoor toeklap.

Sy sien hoe ’n jongerige outjie ná ’n gesukkel haar voorhekkie oopmaak en smile toe hy haar gewaar.

“Goeie middag... antie Koekie?” vra hy vriendelik.

“Ja?” vra antie Koekie agter­dogtig. Sy remind haarself daaraan dat die Jehovah’s Witnesses altyd net so vriendelik uitkom.

“Antie Koekie, ek is Sanele Mbakswe van die koerant Son. Ek doen stories oor ‘Rate jou Raadslid’ en ek hoor nou hier anderkant antie Koekie gaan ook vanjaar staan in die verkiesings.

“Is dit so?”

“Wel, ek kan jou sê dat ek beslis nie in die verkiesing gaan lê nie,” antwoord antie Koekie kortaf. Vir koerantmense trust sy net mooi niks nie.

“Oumie, moenie dom wees nie,” fluister Usain langs haar. “Hier is Oumie se kans om die shine in die koerant te vang...”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters