Verlede maand
Antie Gerty voel dr. Abbu moet boet vir sy dade
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Liefde change haar mind en wil nie meer die aborsie laat doen nie. Die sangoma, dokter Abbu, is egter glad nie impressed nie. Toe hy Liefde aan die arm wil gryp, verloor sy haar balans en kap haar kop teen die vloer. Sy skrik wakker in ’n onbekende plek waar ’n ouerige man op haar wag. ’n Man wat sy later as haar oorle pa herken en wat aan haar sê sy het nog baie om voor te leef. Liefde skrik ná ’n ruk wakker en besef sy is in die hospitaal, waar haar ma vas glo dat sy selfmoord probeer pleeg het. Geniet nou die voorlaaste hoofstuk van “Liefde” deur ELDRIDGE­ JASON.

LIEFDE weet nie of sy moet lag, huil of moet skaam kry vir haar ma wat so perform nie.

Wat sal die vrou dan nou makeer? Het sy in die stilte begin drink of tik? Sy wat Liefde is, probeer selfmoord pleeg? Mos nie in ’n honderd jaar nie!

“Ek gaan vir Doctor Phil laat kom om met jou te praat,” sê antie Gerty en snuif in haar sakdoekie.

“Al moet hy deur die TV met jou praat, praat met jou sal hy moet.

“Ek weet nie wat jou besiel het nie. Die Vader weet, ek kan nie weer deur so ’n ordeal gaan nie. Nie ná jou pa ...”

Antie Gerty bly meteens stil en kyk verskrik om haar rond soos iemand wat iets verkeerds gesê het.

Sy gee die verpleegster ’n vlymskerp panga-kyk en die nurse maak haar haastig uit die voete.

Toe sy uit is, gaan antie Gerty voort: “Mens kan nie so alles voor almal praat nie. Daai is suster Minnie Delport se kind daai.

“Daai hele familie is deur ’n skinder-gees aanmekaar gesit.”

Liefde wil uitbars van die lag vir haar ma se sêgoed, maar haar hele lyf pyn.

“Ma moenie so sleg van ander mense se kinders praat nie,” sê sy. “Almal se kinders het mos maar hul gebreke.”

“Ja, maar sommige se kinders se gebreke is al stukkend en kan nie meer reggemaak word nie,” kap antie Gerty terug.

Sy snuif weer in haar sakdoek en loer dan agterdogtig na Liefde.

“Wat ek wil weet, is hoekom jy jouself by die rivier wou gaan ophang het, Liefde.

“Is daar probleme? Gaan dit oor daai Dino-klong en die baby?”

Liefde skud haar kop.

“Beloof Ma om my nie te judge nie?”

“Ek? Judge?” vra antie Gerty seergemaak. “My kind, hoe ken jy my dan? Ek kam mos nie my hare so nie.

“Ek is ’n Godvresende vrou wat lief is vir my medemens en besides, hierdie ma van jou het mos nooit law gaan studeer nie.”

Liefde blaas haar asem saggies uit. Sy gaan maar nie noem dat haar ma dan so pas suster Minnie se dogter swak gemaak het nie.

“Ek wou nie selfmoord pleeg nie, Ma. Ek was by dokter Abbu se spreekkamer. Ek wou–”

“Abbu-watsegoed?” val antie Gerty haar dogter in die rede.

“Is dit dan nie daai toordokter in die dorp nie? Die een waar Jan Asblik ’n paar jaar gelede sy pensioengeld wou gaan verdubbel het nie?

“Liefde, wat vertel jy my dan nou?

“Jy weet dan toordokters is mense wat daai Facebook-boeke lees.

“As hulle kamma-likes so wonderwerke kan verrig en Lotto-nommers kan gee, moes hulle almal mos nou al miljoenêrs gewees het.”

“Ek weet, Mammie,” antwoord Liefde. “Dit is nie die punt wat ek wou maak nie.

“Ek het nie nommers gaan soek om die PowerBall te wen nie.

“Ek het gegaan vir ’n aborsie, maar toe–”

Antie Gerty trek haar asem skerp in. Haar een verrimpelde hand gaan geskok na haar mond.

“Kind, wat vertel jy my dan nou?

“Aborsie ... dis mos ’n groot sonde in die oë van die Here en–”

“En dit is my liggaam en my besluit,” val Liefde haar ma in die rede.

“Mense is vinnig om jou met die Bybel oor die kop te slaan en te judge, maar hierdie mense weet nie waardeur ek gaan nie.

“Ek is die een wat swanger is en Dino wil nou te kenne gee dat ek óf sleg was óf deur die Heilige Gees met die lyf gemaak is, Mammie. Ek is die een wie se skooljaar in gedrang is. Ek gaan nie van Mammie verwag om my kind groot te maak nie.

“Maar ek het my mind gechange en toe stoot dokter Abbu my en–”

“Wat ... wat bedoel jy met hy het jou gestoot?” val antie Gerty haar dogter in die rede.

“Mammie!” antwoord Liefde geskok, maar sy kan ook nie anders as om snaaks te kry vir haar ma se vraag nie.

“Dit was nie so ’n gestotery nie. Sies vir daai vuil gedagtes!

“Hy het my gestoot dat ek val en my kop kap. Dit was in sy shop en beslis nie langs die rivier nie. Abbu ... dokter Abbu het natuurlik gedink ek is dood en hy’t my langs die rivier gaan dump, die sleg et–”

“Glad nie nodig vir vloek nie,” val antie Gerty haar kind in die rede. “Ek sal die polieste van Abbu se dinge vertel.”

“Dan weet almal mos van my pregnancy, Mammie,” sê Liefde.

“Gaan dit nie ’n probleem wees vir Mammie nie? Ek mean maar, wat gaan die kerkmense nie hiervan sê nie?”

Antie Gerty se oë skiet vol trane.

“My Liefde-kind, toe jy hier lê en die dokters sukkel om jou by te kry, het ek net weer besef hoe kosbaar jy vir my is.

“Laat die kerkmense maar sê wat hulle wil. Hulle skinder meer as wat hulle anyway die Woord nastreef.

“En destyds toe ek swanger was met jou, het hulle net so geskinder.

“Ek het hulle vergewe, maar nooit vergeet dat hulle jou pa ...”

Antie Gerty bly stil. Liefde probeer moeisaam regop skuif op die hospitaalbed.

“Mammie kan dit maar sê,” sê Liefde ná ’n ruk. “Ek weet Daddy het homself gehang. Ek het die merke om sy nek gesien.”

“Hoe?” vra antie Gerty geskok. “Ek het dan eers die volgende oggend ná jou pa se dood geboorte geskenk aan jou.”

Liefde smile. “Ek ... ek weet nie eintlik hoe om dit te verduidelik nie, maar ek het Daddy gesien.

“Hy was by my en het vir my gesê daar is niks daarmee verkeerd om my lewe te lei en my eie foute te maak nie.

“Dit was so weird. Ek dink nie ek was in die hemel nie. Rook die mense in die hemel dan?

“Daddy het dan die een ná die ander cheap entjie gerook.”

Liefde is verbaas toe haar ma uitbars van die lag. Sy kan nie onthou wanneer laas sy haar ma hoor lag het nie.

“Nee, daai klink beslis soos Sassa. Het mos altyd skelmpies die een ná die ander van daai Savannah-goete gerook, maar ek kon daai sigarette myle ver ruik.

“Ek dink nie mense wat daai goed rook, gaan ooit hemel toe nie, so jou pa is beslis nie daar nie. Maar ek en jy is hier. En dis hier waar ons die pad vorentoe moet beplan.”

  • Môre: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters