5 maande gelede
Antie Gerty is platgeslaan deur Liefde se nuus
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Dis ’n gesukkel soos min vir antie Gerty, wat nie net met haar man se dood moet deal nie, maar ook moet kraam. Net daar by haar huis moet antie Koekie Koekemoer, die buurvrou, haar help. En net daar, in die teenwoordigheid van die bure en paramedici, skenk die oue antie die lewe aan die fraaie baby wat sy Liefde doop. Antie Gerty is nou ’n single parent wat nie net op haar rype ouderdom pop moet speel nie, maar ook nog oom Sassa se funeral moet reël. Geniet nou hoofstuk 4 van ELDRIDGE JASON se Liefde.

OOM Sassa se funeral was toe nie ’n groot affêre nie.

Iemand in Papajaville het kwaadwillig ’n rumour versprei dat die oom dood is aan Covid en niemand van die dorpie steek toe uit by sy begrafnis nie.

Nie eens die potte kerrie en breyani wat berei is, kon Papaja­villers se arm draai nie.

In ’n way was dit net die regte medisyne wat antie Gerty nodig gehad het vir haar gebroke hart.

Só kon sy sonder nuuskierige agies en hul nasty comments afskeid neem van oom Sassa.

“Weer Ontmoet” is nie lank by die Papajaville-begraafplaas gesing nie en nadat oom Sassa onder die kluite gegooi is, het antie Gerty huiswaarts gekeer.

Al waarna sy gesmag het, was om alleen te wees.

Alleen met haar smart. Alleen met haar kleine Liefde.

Sy kon vir ure na Liefde staar en het haar voorgeneem dat sy die baby van haar na die beste van haar vermoëns sou grootmaak.

JARE later het Liefde ontpop in ’n pragtige jong langbeen-dame.

Haar skoonheid was die talk of the town, want mense kon nie glo dat die Van Neels, wat maar kroeserige mense was, so ’n gladdekop-dogter kon hê nie.

Al wat tiener-klong is, was natuurlik halsoorkop verlief op Liefde en is soos ’n hond op heat agter haar aan.

Maar antie Gerty was anderkant streng as dit by Liefde gekom het.

Die jong meisie kon net skool toe en kerk toe gaan.

Van ’n gechise was daar g’n sprake vir die outjies nie.

Aanvanklik het dit Liefde nie veel gepla nie. Na haar mening was die boys van Papajaville maar bra simpel.

Hulle wou altyd net spog oor wie van hulle se bome in die jaart die grootste papajas dra.

Maar in graad 11 het Liefde agtergekom wat dit nou presies behels om rebels te wees.

Sy het ook nou woorde soos “bestie” en “selfies” begin agterkom en haarself begin wysmaak dat dit glad nie selfish van haar is om nie meer so baie tyd in haar ma se geselskap deur te bring nie.

Antie Gerty was immers lelik aan die oud word. Haar verstand was nie meer so helder nie en baie kere het sy sommer die huis se sleutels in die yskas gebêre.

En natuurlik was die koms van Dino Lourens en sy gesin in Papajaville ook ’n ander motivering vir Liefde.

Dino en sy ouers het uit die stad na Papajaville getrek, op soek na rustigheid en vars lug.

Anders as Papajaville se boys, was Dino wêreldwys, vol selfvertroue en hy kon Engels praat.

Liefde se hart het sommer die eerste dag al woes in haar borskas begin klop toe die onderwyser Dino vra om langs haar te kom sit.

Dit was al jare ná corona en niemand het meer geworry van 1,5 m ver van mekaar af sit nie.

Om alles te kroon, het Dino-hulle net oorkant Liefde en haar ma by ou sers. Versterkdruppels se huis ingetrek.

Die cop het mos kop verloor toe hy vir ’n Kaapse mert begin uitgooi het.

Sers. Versterkdruppels het toe self die tik-stock begin uitroei en later tokkies en trokke begin vang.

Die laaste strooi was toe hy ’n broodlorrie wou vang en hoog en laag gesweer het die brood word teen hul sin aangehou.

Sers. Versterkdruppels het spoegbek in Papajaville se strate verkondig ’n sindikaat is besig met brode-handel en dat elke slice brood eintlik ’n goeie alien is wat die lewe op aarde wil verbeter.

Landdros Dipsy Lawless het egter nie vir sers. Versterkdruppels se wolhaarstories geval nie en het hom vir ’n onbepaalde tydperk Valkenberg toe gepos.

Sers. Versterkdruppels se familie het toe maar die huis in die mark gesit en getrek.

So, nou kon Dino en Liefde ná skool baie tyd saam deurbring.

Laataand het die twee op die kragboks in die straat gesit en begin droom oor hul toekoms saam.

Liefde se kop het stad toe gestaan. Sy wou ná skool nursing gaan studeer.

Dino was nie meer lus vir die stad en sy gejaag na niks nie.

Sy plan was om sy pa se besigheid ná skool oor te vat en sy eie empire te bou.

Maar so min lus soos wat Dino vir skool en studeer was, so baie lus was hy vir die mooie Liefde.

Die ou was lankal nie meer met net ’n gevry tevrede nie en het al hoe meer begin skimp vir ietsie meer.

Liefde moes behoorlik vir haar wickets cover, want so lief soos wat sy vir Dino was, wou sy haarself nie begeef in iets wat haar wonderlike toekomsplanne dalk in gevaar sou stel nie.

Maar wie kan dan nou ook vir antie Liz keer wat elke winter wil toi-toi?

Een aand toe die oumense by die kerk se kerrie-en-rys-aand is, het Liefde nie meer comebacks gehad vir Dino se as-jy-lief-is-vir-my-psalms nie en sy het toe maar ingegee.

Naïef soos wat sy was, het sy Dino geglo toe hy hoog en laag sweer dat ’n eerste binneboud-lêery nie tot swangerskap sou lei nie.

Maar toe Liefde ’n paar weke daarna nie meer haar period kry nie, het sy geweet daar is groot fout.

Sy het Dino ’n benoude Whats­App gestuur, maar hy het haar angs toegeskryf aan eksamen-stres.

Maar ’n paar weke later kon Liefde nie meer haar maandelikse storie fake nie en vertel toe haar ma van haar vermoedens.

Antie Gerty was diep geskok. Dit was immers iets wat sy nie te wagte was nie.

Sy het dan altyd so deur die gordyne geloer as Liefde en Dino buite by die kragboks gesit het.

Die next oggend is sy saam met Liefde na die Papajaville-kliniek toe waar nurse Betsie bevestig het dat dit inderdaad so was: Liefde was swanger. Met die lyf.

Antie Gerty was platgeslaan en het dadelik ’n vergadering met Dino en sy ouers gereël.

En tot Liefde se skok en wrede ontnugtering, het Dino daar voor almal ontken dat hy ooit ougat met haar gemaak het.

Liefde kon nie glo wat sy hoor nie. Dat Dino haar ná ’n steek in die steek kon laat, was te veel vir haar.

Sy het in trane uitgebars en besef sy is aan haar eie genade oorgelaat.

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters