Verlede maand
Antie Gerty is nie impressed met Liefde se optrede
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Liefde se besoek aan dokter Abbu draai toe nie so wonderlik uit nie. Sy change haar mind, maar toe sy wil wegkom, verloor sy haar balans ná ’n scuffle met die sangoma en stamp haar kop. Toe sy haar bewussyn herwin, is Liefde in ’n massiewe huis waar ’n omie op haar wag. ’n Omie met toumerke om die nek en wat haar darem baie herinner aan die portret van haar oorle pa wat in hul huis hang... Geniet nou hoofstuk 7 van “Liefde” deur ELDRIDGE­ JASON.

TOE Liefde haar verstand kry, was dit maar nog altyd net sy en haar ma.

Net hulle tweetjies. Niemand anders nie.

As kind het sy altyd verlangend gestaar na hoe haar vriende met hul pa’s speel. Dan wou sy by haar ma weet waar haar pa dan is.

“Jou pa het nie seep gaan koop nie, hy is in die hemel,” is haar ma se antwoord dan voordat sy die onderwerp verander. En nou, nou staan hy hier voor haar. Dit is hy, daarvan is sy seker.

Eendag toe haar ma en die anties van die kerk gesels het, het sy gehoor haar ma vertel van die dag toe haar pa hom opgehang het.

Hoekom, weet sy nie. Maar die man wat nou voor haar staan, het sulke toumerke om sy nek. Toeval kan dit mos nie wees nie.

“Waar is ek?” vra Liefde. “Is ek dood? En... hoekom lyk jy so bekend?”

Die oom staar haar aan. Liefde is eers nie seker of hy haar gehoor het nie.

Dan maak hy keel skoon, haal ’n pakkie sigarette uit en loop na die balkon waar hy uitkyk op die toneel voor hom. Liefde volg hom versigtig.

Die oom steek rustig sy sigaret aan en blaas dan die rook behaaglik uit.

“Ek hoop nie jy rook nie,” sê die oom dan. “Hierdie goed kan jou dood veroorsaak.”

“Maar is ek dan nie al klaar dood nie?” kom Liefde met haar teenvraag.

Die oom draai verbaas na haar. “Wat laat jou so dink?”

“Hellooo,” antwoord Liefde parmantig. “Ek staan hier op ’n spot wat nie lyk asof dit op aarde is nie, Uncle staan hier in ’n wit gewaad voor my en om die waarheid te sê, ek dink Uncle is my pa wat voor my geboorte gesterf het.”

Die oom verstik byna in sy rook. Hy raak aan die hoes en slaan liggies op sy bors. Die trane rol uit sy ooglede.

“Slim kind,” sê hy dan. “Slim kind wat nie ná skool by toordokters hoef te gaan uithang nie.

“Ek hou van die naam wat jou ma jou gegee het. Liefde. Pragtige naam. Ek wens net...”

Die oom bly skielik stil en staar weer voor hom uit. Dan skiet hy sy entjie oor die balkon en draai weer na Liefde.

“Home control gaan seker my kop afbyt oor hierdie rommel-strooiery, maar nou ja. Dis die laaste van my worries.

“Ek is bekommerd oor jou, Liefde. Baie bekommerd.

“Weet jy nie hoe onveilig dit is om na agterstrate te hardloop vir aborsies nie?”

Dit voel vir Liefde asof iemand die wind uit haar seile gehaal het.

“Maar hoe?” prewel-vra sy. “Niemand het dan geweet van my planne nie. Niemand!”

“Daar is baie dinge wat jy nie nou sal verstaan nie,” antwoord die oom ontwykend.

“Met die jare sal dinge duideliker raak. Maar vir nou, vir nou is dit belangrik dat jy jou oë moet oopmaak. Weet jy waar jy tans is?”

“Hoe moet ek weet?” vra Liefde gefrustreerd. “Ek het dan vroeër gevra en–”

“Net so ongeduldig soos jou ma,” val die oom haar in die rede.

“Jy sal nog leer dat ál die dinge wat jy uit die lewe wil hê, geduld vereis. Dis makliker om ’n disability te fake en in ’n Sassa-ry te gaan staan as om aan jou drome te werk.

“Maar om jou vraag te beantwoord: jy is in die hospitaal.

“Ek is hier om vir jou te sê dat dit nog nie jou tyd is nie. Dis nou net tyd dat jy jou oë oopmaak.”

“Is jy my daddy?” vra Liefde.

Die oom kyk haar aan, druk nog ’n entjie in sy mond en skud sy lighter ’n paar keer voordat hy die sigaret aansteek.

Hy tuur weer oor die toneel voor hom. “Hierdie is my gunsteling- spot waar ek alleen met my gedagtes kan wees.

“Dis swaar om elke keer gekruisig te wees, weet jy. Eens op ’n tyd, laaank gelede, was dit ’n houtkruis.

“Nou word die tags sommer so op ’n man ingeslaan op Fakebook, Twitter en daai Instagram- goeters wat nog nie eens ’n gram weeg nie.

“Maar om jou vraag te beantwoord, is ek nie maar almal se daddy nie?”

Liefde maak haar mond oop om iets te sê. Die man voor haar glimlag en sy besef dat hy die mooiste smile het.

Sy wil dit vir hom sê. Sy kyk af na die hand wat die entjie vashou en sien vir die eerste keer die letsel van die gat wat regdeur die hand geslaan is. Sy wil iets sê, sy maak haar mond oop om iets te sê, maar daar kom niks uit nie.

“Onthou,” sê die oom en blaas weer die entjie-rook uit. “Daar is nie foute in die lewe nie, net lesse te leer.

“Waar daar liefde is, is daar hoop. Moet dit nooit, ooit vergeet nie.”

Die trane rol oor Liefde se wange. Sy wil vorentoe beweeg, die oom ’n hug gee, maar dan is daar meteens ’n lig wat haar verblind. ’n Lig en stemme wat skielik al hoe harder klink...

“LIEFDE! Liefde! Haai, maar hoor die kind dan nie?”

“Mevrou, dalk moet u haar kans gee om te rus.”

“Moenie vir my kom vertel oor hoe ek met my dogter moet praat nie.

“Hierdie is my kind. My kind wat ek swaar die lewe ingebring het. Moenie kom in-chime nie.”

“Ma?” Liefde lek oor haar droë lippe. Sy beur orent, maar ’n hand druk haar sag maar ferm terug.

“Waar... waar is...?” vra sy. “Ek is dors... water, asseblief.”

Sy voel hoe iets kouds teen haar lippe gehou word en drink gulsig.

“Stadig, stadig,” sê ’n stem hier naby haar. “Sy het ’n nare ordeal gehad. Ons wil nie hê jy moet nou staan en verdrink nie.”

Liefde gewaar haar ma eenkant op ’n stoel sit. Plooie van worry sit diep ingekerf op haar gesig.

“Waar is ek?” vra sy. “En wat maak Mammie hier?”

Antie Gerty ontplof. Takt is iets waarmee sy mos nie gebore is nie.

“Wat maak ek hier? Wat maak ek hier? Ek kon nou in die biduur gewees het, maar nee, ek moet mos nou nurse-nurse speel.

“Hoe kan jy dit aan my doen, Liefde?”

“Wat doen?” vra Liefde. Sy is nie seker of haar ma weet van haar aborsie-planne nie.

“Hoe kon jy toe ook probeer selfmoord pleeg?” vra antie Gerty en raak droewig aan die huil...

Wat de hel gaan dan nou aan? wonder Liefde verskrik.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters