Verlede maand
Andries verstaan nie hoekom Julia dan moes sterf
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

Gebeure Rondom ’n Hofuitspraak” is CHRISTO MEYER se jongste skryfstuk. Geniet nou die vyfde hoofstuk!

ANDRIES Boggelblaar draai sy kop hemelwaarts in die hoop dat hy iewers tussen die wolke antwoorde sal vind.

As hy net ’n verduideliking van sy Skepper kan kry, sal dit hopelik genoeg wees vir hom om sin te maak van alles. Julia was immers ’n godvresende vrou.

Sy het getrou haar tiende betaal en sou altyd ’n handjie bysit met gemeenskapsprojekte. Iemand soos sy het nie verdien om so wreed aan haar einde te kom nie.

Dalk sal ’n antwoord van Bo die seer in sy binneste effens verlig, al sal dit nie sy vrou terugbring nie. Die vrae maal deur die prokureur se brein.

Hy kan nie onthou dat hy al ooit tevore so hulpeloos gevoel het nie. Hy beskou homself as ’n mislukking wat nie daar was toe sy vrou hom die nodigste gehad het nie.

Is hy die naam eggenoot werd? As haar man was dit sy plig om sy vrou te beskerm en haar veiligheid te verseker. Hy twyfel of hy homself daarvoor sal vergewe.

Het Julia dalk na hom geroep in haar laaste oomblikke? Was daar dalk hoop in haar hart dat hy haar sou kom verlos uit die boewe se kloue?

Het sy dalk by haar moordenaars gepleit om haar lewe te spaar en haar nie leed aan te doen nie? Het hulle haar uitgelag toe hulle die vrees in haar oë sien?

Tydens elke hofsaak is hy gewoonlik vreesloos en voorbereid op enige iets wat na sy kant toe kan kom omdat hy die belange van sy kliënte op die hart dra, maar dié het hom heeltemal onkant gevang.

As Julia dalk op ’n siekbed gelê het en daar niks was wat die dokters vir haar kon doen nie, sou hy miskien haar dood makliker kon aanvaar, maar nie op hierdie onmenslike manier nie.

Hoe gaan hy dit regkry om vrede daarmee te maak? Andries het geen beheer oor die trane nie.

Hy was as kind nog so erg bedroef toe een van sy klasmaats selfmoord gepleeg het. Toe het hy ook met talle vrae geworstel soos nou. Vrae wat tot vandag steeds onbeantwoord is.

Hy’s net vlees en bloed en is nie opgewasse teen dit wat alles voorlê nie. Hy en Julia was ’n gedugte span. Moeder Natuur het weliswaar nie vir haar die baba gegee waarna sy gesmag het nie, maar hulle was gelukkig.

Julia was sy steunpilaar, sy droomvrou, sy alles. Sonder haar sal sy lewe nooit weer dieselfde wees nie.

Hoe gaan hy deur hierdie verskriklike nag kom? Om nie eens van môre en die dae, weke en maande daarna te praat nie. Vir hom gaan dit niks anders as ’n lewende hel wees nie.

In die verte lyk dit asof die man op die maan vir hom tong uitsteek. Andries kyk weg.

Hy staan met sy rug na die gewoel agter hom. Hy kan dit nie oor sy hart kry om te aanskou hoe hulle Julia se oorskot van die toneel verwyder nie.

Dit was vernederend genoeg om voor almal flou te val nadat hy in sy vrou se lewelose oë gekyk het. Vir enkele minute was hy van niks om hom bewus nie.

Toe hy bykom, het daar water langs sy gesig afgeloop. Iemand moes hom natgegooi het.

Haar moordenaars het hom nie eens gewaarsku nie. Wat het hulle besiel om so iets te doen?

Hy het gedink haar ontvoerders gaan hom bel en ’n losprys eis.

Dis tog hoe dinge in aksieflieks en spanningsromans werk. Die werklikheid is wreder as fiksie, besef hy weer.

Hoekom is Julia vermoor? Sy het niks verkeerd gedoen nie.

As die skurke ’n probleem daarmee gehad het omdat hy Carol Bonthuys se regsverteenwoordiger was, hoekom het hulle dit nie met hom uitgesorteer nie?

Hy sou ten minste sy man kon staan. Watter weerstand kon Julia bied?

Hy is in elk geval nie die regter wat die uitspraak gelewer het nie. Hoekom is hy geteiken?

Dan tref dit hom: Is regter Paulus Kabamba se lewe nie ook in gevaar nie? Julia se moordenaars het dit duidelik gemaak hulle is ontevrede omdat Carol Bonthuys onskuldig bevind is aan moord.

Dit lyk asof hulle almal wat by die saak betrokke is, leed wil aandoen. Iemand sal vir regter Kabamba moet waarsku.

“Dit wil voorkom asof die slagoffer elders vermoor en hier kom dump is,” hoor Andries hoe ’n lid van die forensiese eenheid met die ondersoekbeampte, kaptein Wimpie Windmeul, praat.

Andries wil graag meer hoor, maar hy het nie nou krag vir die polisie nie. Môre is nog ’n dag ...

HEELWAT later, nadat al die nuuskieriges en skinderbekke die toneel verlaat het, sit Andries Boggelblaar op die groot stoep voor sy huis waar hy en Julia gewoonlik gaste onthaal het.

Vanaand is niemand egter welkom by sy woning nie. Vir mense sien hy nie kans nie, ongeag of dit vriende of familie is.

Hy wil net alleen wees. Hy het tyd op sy eie nodig om sy verlies te verwerk. Toe Windmeul hom vroeër met vrae wou peper, het hy sag geantwoord: “Nie nou nie, asseblief.”

Sy hande bewe terwyl hy die soveelste sigaret aansteek.

Hy wend weer nie ’n poging aan om die trane te keer nie.

Die persoon wat gesê het ’n man mag nie huil nie, kan gerus sy kop laat lees. Hoe anders moet hy die rou seer uit sy binneste kry?

Slaap is die heel laaste ding in Andries se gedagtes. Hy het te veel om te verwerk.

Hy staar nikssiende voor hom uit en steur hom nie aan die koue wind teen sy gesig nie. Dit kom in elk geval nie na aan die koue in sy binneste nie.

Julia is dood. Vermoor. Daaraan kan hy niks verander nie. Sy sal nooit weer terugkeer nie.

Andries se selfoon lui. Hy kyk na die skerm. Unknown number.

Hy oorweeg dit om te antwoord, maar besluit om die oproep te ignoreer. Hy sal in elk geval nie goeie geselskap wees nie. Hy sal dalk onnodig in iemand se keel afspring.

Wie dit ook al is, kan môre weer bel. Hy het nie nou lus vir “Jammer oor Julia” of “Ons weet hoe jy voel” nie. Hy het belangriker goed om op te fokus.

Dan kry sy nuuskierigheid die oorhand. Wat as dit iemand is wat inligting het oor die moord en hom wil help?

“Boggelblaar,” antwoord hy.

“Groet jy nie?” Andries voel ’n rilling teen sy ruggraat toe hy hoor dis Growwestem, die een wat in beheer van die ontvoering was.

“Wat soek jy?” vra Andries.

“Niks. Ek wil net weet hoe dit voel as die skoen aan die ander voet is.

“Jy was mos windgat toe jy Clayton Bonthuys se moordenaar verteenwoordig het. Sien jy kans om die onskuld van jou vrou se moordenaar ook te bewys?”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters