27 dae gelede
Andries begin al wonder of die cops hul werk reg doen
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

“Gebeure Rondom ’n Hofuitspraak” is CHRISTO MEYER se jongste skryfstuk. Lees gerus nou die agtste hoofstuk!

DIS ’n maand en ’n half ná Julia Boggelblaar se dood. Andries kan steeds nie glo so baie mense het haar begrafnis bygewoon nie.

Vriende van jare gelede het van heinde en verre gekom om te simpatiseer.

Om almal weer te sien het ’n knop in sy keel gebring. So tragies soos dit is, het die dood sy eie manier van mense bymekaar bring.

Dit beteken so baie as mense wys hulle gee om.

Dit voel vir Andries asof die tyd stilstaan, asof hy slegs enkele dae gelede sy vrou aan die dood afgestaan het.

Dat hy nou ewe skielik ’n wewenaar is, voel so onwerklik soos Liverpool se kanse om sy Premierliga-titel suksesvol te verdedig.

Die pyn raak nie ligter nie. Die wond is nog rou en hy twyfel of dit ooit gaan beter word. Die verlange is onbeskryflik groot.

Hoe lank moet hy nog deur hierdie hel gaan voordat daar ’n liggie aan die einde van die tonnel verskyn? Hy onthou pastoor Lourens se woorde toe hulle eenkant gestaan het: “Jy moet moed hou, broer. Ons almal dink aan jou in jou donker tyd.

“Ons mag dit dalk nie nou verstaan nie, maar die Here gee en die Here neem. Geen mens mag ooit God se besluite bevraagteken nie. Wees sterk en bid gereeld.”

Andries weet darem nie so mooi of die Here iets met sy vrou se dood te doen gehad het nie. Hy glo ook nie dit was haar bestemde tyd om die aarde te verlaat nie.

Hy sal eerder die blaam vir alles voor die duiwel se deur lê. Soms raak pastore net goed kwyt omdat hulle verplig voel om iets te sê.

Soms praat hulle die grootste snert. En nie alle pastore is so heilig soos hulle voorgee nie. Andries het juis onlangs in Snuffel gelees van ’n pastoor wat skuldig bevind en tronkstraf opgelê is vir die verkragting van ’n jong gemeentelid.

Andries sit by die kombuistafel met ’n glas water voor hom. Sy keel is permanent droog die laaste ruk. Die min slaap begin sy tol eis. Hy vind dit bitter moeilik sonder sy vrou.

Hy mis haar geselskap. Saans lê hy tot wie weet hoe laat wakker en wanneer die slaap uiteindelik kom, teister nagmerries hom.

Geen aand gaan verby dat hy nie natgesweet wakker skrik nie. Dit voel vir hom Julia se siel sukkel om tot rus te kom.

Vanoggend het hy nie lus vir koffie nie. Dis asof die koffie sy smaak verloor het vandat Julia weg is. Dit proe nie meer dieselfde nie, al gooi hy ook hoeveel lepels suiker in die koppie.

Dan sukkel hy boonop om aan die stilte in die huis gewoond te raak. Hy mis haar glimlag, haar voetstappe, die reuk van haar parfuum.

Hy wil so graag hê Julia moet weer met hom raas omdat hy te lank na haar sin in die badkamer draai. Of haar styf teen hom vasdruk en sterkte toewens wanneer hy iemand in die hof moet teenwoordig. Of hom verras met ’n nuwe resep.

Hy is nou heeltemal op sy eie en dis verskriklik seer. Die leemte wat Julia gelaat het, sal niemand kan vul nie. Niemand sal ooit haar plek in sy hart kan inneem nie.

Andries is teleurgesteld omdat niemand nog vir sy vrou se dood aangekeer is nie. Met al die mediadekking sou hy reken die polisie sou teen dié tyd al ’n verdagte geïdentifiseer het.

Mense praat tog oor sulke sake. Daar is selfs ’n beloning uitgereik vir inligting. Iewers moet iemand wees wat iets weet. Hoekom kom niemand na vore nie?

Kaptein Windmeul het beloof hy sal met Andries in verbinding tree sodra hy meer inligting kry, maar die speurder het tot dusver nog niks van hom laat hoor nie.

Kan dit dalk wees dat ...?

Hy sidder by die gedagte. Nee, hy hoop hy is verkeerd. Daar is klaar genoeg korrupsie in die land.

Hy weier om te glo Windmeul is ’n korrupte polisiebeampte, dat moordenaars hom betaal om nie sy werk behoorlik te doen nie. Tog wonder hy. Sê nou net ...

Dan skud hy sy kop. Iemand anders miskien, nie Wimpie Windmeul nie. Hy is dan die speurder wat daai Marentia-vrou se verkragters in Nyanga gaan vastrek het.

En daai sussies van Delft wat net spoorloos verdwyn het. Dit was hy wat ontdek het hul eie oom wou hulle as seksslawe aan buitelanders verkwansel.

Wimpie Windmeul is een van die beste ondersoekbeamptes in die Kaap. Maar waarom sloer hy so met dié saak?

Die onsekerheid vreet hom op. Dis juis algemene kennis dat ’n polisiekonstabel een van die verdagtes is in die saak waar twee polisielede van Kraaifontein onlangs koelbloedig vermoor is.

Hoekom is sommige polisielede so gulsig? wonder Andries vies. Hoekom laat hulle hulle so maklik omkoop? Om jou loopbaan vir bloedgeld prys te gee is nie die moeite werd nie. Jy gaan een of ander tyd uitgevang word.

Beteken die eed wat hulle afgelê het dan niks?

Andries besluit om self te gaan uitvind hoe die vurk in die hef steek. Só kan hy darem nie aan ’n lyntjie gehou word nie.

Geregtigheid vir Julia is al wat hy vra. Hy stap een Woensdag ongenooid by Windmeul se kantoor in. Hy tref hom agter sy lessenaar aan met ’n klomp dossiere voor hom.

“Kaptein, wat gaan aan? Hoekom hoor ek niks van jou nie?” vra Andries sonder om te groet.

Windmeul kyk op. “Mnr. Boggelblaar ...”

“Los maar die formaliteite,” val Andries die speurder in die rede.

“Noem my net Andries en verduidelik of daar enige vordering in my vrou se moordsaak is.”

“Ons vorder beslis.

“Dit kan ek jou verseker.”

“Jy laat weet my dan niks.”

“Jammer, Andries, maar die ondersoek is tans in ’n gevorderde stadium. Ons wil dit nie bederf deur enige inligting bekend te maak nie

“Die stukke van die legkaart is stadig besig om in plek te val.”

“Het julle darem al ’n verdagte?” wil Andries weet.

“Meer as een verdagte, maar ongelukkig mag ek nie te veel sê nie. Ons sal binnekort ’n paar arrestasies doen. Jy sal die eerste een wees wat weet wanneer dit gebeur.”

Andries is nie seker of hy moet lag of huil nie. Hy sien die ernstige kyk in Windmeul se oë.

Hy kan nie anders as om te wonder of die wiel uiteindelik besig om te draai nie.

Gaan daar uiteindelik geregtigheid vir sy Julia wees? Gaan die wind van verandering einde ten laaste in sy rigting waai?

Hy wil die moordenaars agter tralies sien. Hulle moet boet vir sy vrou se sinlose moord.

Maar dan kom die twyfel weer: Praat kaptein Windmeul die waarheid of probeer hy hom net heuning om die mond smeer om hom stil te kry?

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters