18 dae gelede
Almal is verstom oor oom Andrew se nuutste joppie
 ~ 

HÊPPIE New Year, almal! Kom ons hoop 2021 hou baie minder dramas vir ons in. Ons skop vandag af met Oulik en Lillik, ’n splinternuwe verhaal uit die pen van ELDRIDGE JASON. Geniet die eerste hoofstuk!

ANTIE Connie en oom Andrew was ’n baie odd couple.

En nee, dit het niks te doen gehad met die odd joppies wat die oom altyd moes doen om die pot aan die kook te hou nie.

Om nie af te dwaal van die storie nie, moet daar tog ge-mention word van die oom se joppies voordat dit die gedagtes ontglip.

Daar was mos die tyd toe die oom die PR-beampte van Almal-se-Gat Begrafnisdienste was.

Oom Andrew het destyds die oë laat rek en tonge laat klap met sy Hier’s jou Nannas-veldtog waar jy twee gate vir die prys van een kon wen. Deelnemers moes doerie jare toe net “jou gat” na 123-enwat-wat SMS en die begrafnisdiens met ’n klein bedraggie van R10 bless om in aanmerking vir die groot-gat-prys te kom.

Die kompetisie het egter gevou toe die eienaars van Almal-se-Gat agtergekom het die proceeds van die SMS’e het tekkies gekry en toe oom Andrew en antie Connie veels te dikwels daar in die GrandWest-casino opgemerk is.

Oom Andrew het hoog en laag gesweer dat hy so onskuldig soos die dood is en dat alles ’n poging is om sy goeie naam deur die modder te sleep.

Nie lank daarna nie het oom Andrew bedank en as grimeerkunstenaar by die plaaslike lykshuis begin werk. Die oom se job was om diegene wat in liederlike ongelukke omgekom het, ’n bietjie op te touch ingeval die naasbestaandes ’n open casket-afskeidspaartie vir hom of haar wou hê.

Weereens was die inwoners van Peanutbutterenjam Valley uit die veld geslaan toe hulle van oom Andrew se aanstelling te hore kom, want ieder en elk van hulle het geweet dat wat oom Andrew van make-up geweet het, ’n opgemaakte storie is.

Maar al die stories ten spyt, wou dit blyk dat oom Andrew uiteindelik sy roeping gevind het.

Almal was hoogs beïndruk met oom Andrew se vermoë om die lelikste lyk in die mooiste swaan om te dowwel.

Koppe die Gangster, wie se gesig in drive-by shooting byna heeltemal weggeblaas is, het soos ’n contestant vir America’s Next Top Model gelyk toe oom Andrew met hom klaar was.

So mooi het ou Koppe in sy kis gelyk dat mense begin skinder het oor of hy ooit oom Ben en antie Katrina Koeries se kind is.

So ook het oom Jan Hoenderhok se looks in sy kis die begrafnisgangers na hul asem laat snak en in tale laat skinder. Daar gaan maar nie veel uitgebrei word oor wat oom Jan altyd gevang doen was in die hoenderhok nie.

Oom Jan het sy hele lewe lank ’n gesig gehad wat net die duiwel kon liefhê. Kort ná sy geboorte het oom Jan se eie bloed-ma so groot geskrik toe sy in sy baba-gesiggie vaskyk dat die vrou net daar in die hospitaal ’n stroke gekry het wat op die Richterskaal gemeet kon word.

Oom Jan is in pleegsorg geplaas, maar daar was aanvanklik ’n moerse hofsaak aan die gang, want die departement van maatskaplike dienste wou aanvanklik weet of baba Jan ’n grondwetlike reg het om lelik te wees.

Regter Moegoe-Moegoe Thabane het egter beslis dat die lelike ook die reg tot suurstof het. Hy het bevind dat baba Jan in pleegsorg geplaas moet word.

Oom Jan is sy hele lewe oor sy looks gespot – veral omdat hy vir meer as 20 jaar in die Vrystaat as professionele voëlverskrikker ingespan is voordat hy weer na Peanutbutterenjam Valley teruggekeer het. Hier het hy om verstaanbare redes sy laaste asem as bachelor uitgeblaas.

Voor sy begrafnis het die plaas­like kerk ’n raffle-kompetisie gehou oor hoe oom Andrew vir oorle’ Jan in sy kis sou op-Dolly Parton. Of gruwelik daarin sou misluk.

Niemand wou egter geld waag op hierdie weddenskap nie, want baie het geglo om oom Jan as iets anders te laat lyk as ’n rilling wat langs jou ruggraat af hardloop, sou oom Andrew op water moes loop en ’n 2F Jive in ’n 2F Coke moes verander.

Anyhow, die dag van oom Jan se begrafnis het baie mense tot bekering gekom toe hulle die oom in sy kis sien lê. Die mense het glad onder mekaar gestry dat dit nie die oom is wat in sy pikswart kerkpak in die kis ten toon gestel is nie.

Pleks van twakpil swaai, was baie in die mood vir appels swaai. Baie het geglo dat oom Andrew ’n mannequin by Edgars gaan bedel het voordat die klerewinkelgroep bankrot gedala het. ’n Moerse vet moesie waarmee oom Jan op sy neus gebless is en wat nie soos ’n stopstraat in Philippi geïgnoreer kon word nie, het egter die argument gesettle.

Almal het met nuwe, bewonderende oë na oom Andrew gekyk.

As die timer daai met die dooies kon doen, wat kon hy nie met die lewendes vermag nie? Een van die eerste inwoners wat dié saadjie in oom Andrew se kop geplant het, is oom Boesman Lawack.

Hy het nie sy naam te danke gehad aan die velletjies wat hy gedra het of die korrels op sy kop nie.

Sy ouers wou destyds sy naam as Bushwaan by Home Affairs opgee, maar toe kon niemand sy naam gespel kry nie.

Al wat die beampte gehoor het, is “Boesman” en die res is his story om te vertel. Anyway, oom Boesman mag kroes gewees het, maar hy was woester as Worcester se skollies as dit by geldmaak kom.

Hoe meer geld hy gemaak het, hoe minder bereid was hy om dit met sy wederhelf, antie Gertruida, te deel.

Dit het al hoe minder saak by die oom begin maak dat antie Gertruida destyds die eerste en enigste girly was wat verby sy barb wire vir hare kon kyk.

Antie Gertruida het destyds in die naam van liefde toegelaat dat haar eie familie haar uit hul testament tippex – net sodat sy met oom Boesman kon wees.

Hoe die oom ook egter oor die jare rede gesoek het om van antie Gertruida te skei, het sy hom nooit enige redes hiervoor gegee nie.

Die antie is lief vir kerk toe gaan en voor in die koor sing. Maar sy het nooit oor enige kerkbroer se mic gesing nie.

In hul huwelikskontrak was ’n klousule dat antie Gertruida nie ’n bloue duit sou kry as sy oom Boesman die dag sou verneuk nie.

Nie dat hierdie voorhuwelikse kontrak haar ooit gepla het nie. Liefde was haar currency.

Maar vir oom Boesman was sy ’n karrentjie wat te swaar op petrol was.

Hy moes haar aan die verneuk kry, het oom Boesman gereken.

Oom Andrew was net die regte ou om seker te maak dat sy nie met ’n sent van sy weelde wegkom nie…

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters