Verlede maand
Alles lyk skielik glad nie meer so duidelik vir Oros
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Dit lyk of Oros vir Richard Borchards opgespoor­ het en ’n lekker vet bedrag geld nou op hom wag. Maar is dit regtig so ’n easy-peasy einde van sy soektog? Geniet nou die slothoofstuk van ELDRIDGE JASON se verhaal “O. Phillip­”.

OROS druk sy oor teen die container en hoor weer die gekap.

Daar is beslis iemand binne-in die container. Daarvan is hy oortuig.

Hy stap tot aan die voorkant en sien dat daar nie ’n slot aan is nie, maar toe hy die deur wil oopmaak, gebeur daar niks nie. Uit frustrasie stamp hy sommer met sy skouer teen die deur.

’n Pyn skiet deur sy skouer. Sy skouerloop het weer nuwe lewe geblaas in ’n ou rugbybesering.

Hy vloek hardop.

“Hello? Is iemand daar?” hoor hy ’n stem aan die ander kant van die deur.

Oros besef hy gaan die deur nie alleen oopkry nie. Hy bespied die omgewing, stap ’n ent terug, en sien dan ’n figuur onder ’n flou straatlig staan. Haastig stap hy in daardie rigting.

Toe hy nadergestap kom, sien hy ’n reus van ’n man wat met sy rug teen ’n warehouse se muur leun. Haastig verduidelik hy aan dié bonkige ou met die boomstompe vir arms dat hy hulp makeer.

“Fifty bucks,” sê die ou met ’n swaar aksent.

“Fifty bucks? For what?” vra Oros en gooi sy arms in die lug.

“Time is money, my friend. Take it or leave it.”

Vies krap Oros in sy jeans se sak en hou dan oomblikke later ’n opgefrommelde R50-noot na die man uit. Daar gaat die geld vir twee biere vir later ook nou.

Die man stap saam met hom en by die container gekom, gee die ou net een stoot met sy skouer en die deur swaai oop. Oros gaap hom verbaas aan. Soms is meer spiere as breins die antwoord, dink hy verwonderd. Hy bedank sy reus van ’n Samaritaan, wat nog eers wil rondhang. Daar is agterdog in sy oë.

“Thank you,” sê Oros hierdie keer harder. “It’s all good now.”

Die man stap traag weg en toe hy uit sig verdwyn, druk Oros sy kop in.

“Jy kan maar uitkom, Mister Borchards,” sê hy kliphard toe hy moeg raak van probeer bepaal waar die persoon in die pikdonker container skuil.

Hy hoor ’n geskuifel en tree weer na buite. Oomblikke later steek Borchards sy kop uit.

Die lig is swak, maar Oros kan sien hoe verwaarloos hy lyk. Sy gesig is vuil en sy klere sal selfs sleg afsteek by dié van ’n bergie. Oros sien dadelik dat dit dieselfde klere is wat Borchards laas by die pub aangehad het.

“Wie ... wie is jy?” vra Borchards agterdogtig. En dan: “Het jy dalk iets om te drink? Water, natuurlik.”

Oros lag gerusstellend. “Ek is gestuur deur ’n beloved van u kerk. Ek neem aan jy ken evangelis Jenneker?”

Borchards knik.

“Die tyd is teen ons,” sê Oros haastig. “Voordat jou vrou jou kerk onder julle uitverkoop, sal ons moet wikkel.”

“Nou waarvoor wag ons?” vra Borchards ook lekker haastig. Sy soeke na water nou skoon vergete.

Die twee mans stap vinnig na waar Oros sy Tazz geparkeer het. Wonder bo wonder start sy kar sonder probleme en Oros trek met ’n vaart weg. Hulle moet so gou moontlik by die Butterfly-watsegoeters-kerk uitkom.

“Ek is gelos om daar dood te gaan,” prewel Richard Borchards so in die ry. Oros draai vinnig na hom en fokus dan weer op die pad voor hom.

“Dis hoekom ek bly is ek is geskei,” antwoord hy ná ’n ruk. “Met iemand soos jou vrou, hoef ’n mense nie nog friend requests op Facebook uit te stuur na vyande nie.”

Richard Borchards frons en draai na Oros. “Mary? My vyand? Waar kom jy aan daai nonsens?”

“Maar is dit dan nie hoekom evangelis Jenneker wou hê ek moet jou opspoor nie?” vra Oros, nou geheel en al confused. “Is dit nie so dat jou vrou jou kerk wil verkoop nie?”

“Is dít die storie wat Jenneker aan jou vertel het?” vra Borchards.

“En hier dog ek hy het tot sy sinne gekom. Dat hy nie meer voort sal gaan om my af te pers nie.”

Dinge is nou veels te deurmekaar vir Oros. Hy trap hard op die brieke en trek langs die kant van die pad af. ’n Kar wat knap op sy gat was, moet verwoed uit die pad swaai.

Oros skakel die Tazz af. “Oukei. Ek luister. Praat.”

Richard Borchards sug. “Ek is ook maar mens. My swakheid is die dop. En vroue.

“Jenneker het vele video’s waar ek en Mary met die vroue ... you know ...”

Hy bly ongemaklik stil. Maar as hy gedog het Oros gaan “you know”, maak hy hom laat.

“Baie vroue in die kerk slaap saam met ons soos wat die gees ons lei.”

“Jy bedoel seker soos jou zip jou verlei,” kan Oros nie help om ’n hou in te kry nie.

Hoekom sal Jenneker hom dan betaal om Borchards op te spoor, as hy heeltyd moes geweet het waar hy is?

“Jenneker kan my nie net in die container los om te sterf nie. Te veel onnodige vrae gaan opduik. Hy kan nie bekostig dat die polisie ondersoek instel nie.

“Dus moet daar ’n ander manier wees hoe hy ontslae gaan raak van my. Moet jy my vermoor?”

Oros gaap Borchards geskok aan.

“Hoeveel is jy betaal om my dood te maak?”

“Hello,” antwoord Oros kwaad, “ek is g’n niemand se killer nie.

“Ek kry R200 000 om jou op te spoor sodat jy keer dat jou vrou die kerk vir R10 miljoen verkoop.”

“Wat ’n klompie bog!” gil Borchards. “Mary ... Mary sal eerder iemand wil kry om my te soek. Dis nie sý wat die kerk wil verkoop nie. Dis daai Judas van ’n Jenneker. Brandarm en uit sy werk uit by ons aangekom.

“Toe raak hy uitgevreet, verraai ons en gaan agter ons rûe ’n transaksie aan om ons kerk vir R10 miljoen aan ’n internasionale konsortium te verkoop. In die naam van die Here, nogal.

“Maar wat ek nie kan verstaan nie, is hoekom hy jou allow om my te bevry? Tensy ...”

“Tensy wat?” vra Oros angstig. Iets klink nie meer vir hom lekker nie. Hy voel dit so aan sy bas.

“Twee vlieë met een klap,” prewel Borchards en staar hom grootoog aan. “Mary ... Jenneker het haar onder beheer. Ek is die vlieg in sy drinkwater en jy ... jy is die enigste getuie dat ek ontvoer was. Maar natuurlik. Dis sy plan!”

Oros draai half om toe hy die harde gehoot van ’n trok agter hulle hoor. Sy hart gee ’n ruk toe hy besef dat die trok met ’n stink spoed op hulle afpyl.

“Of flip, dissie plan,” hoor hy Borchards paniekerig sê.

Dis die einde van O.Phillip, dink Oros. G’n kans vir uitspring nie.

  • Jenneker het hulle met ’n heilige skaakmat geslaan ... Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters