23 dae gelede
Alle hel breek los toe Lucien op die plaas aankom
 ~ 

HAAI, Sonlanders!

’n Nuwe Lewe is Salmon Smith se jongste Lucien-skryfstuk. Geniet die slot hoofstuk!

DAAR is moordlus in adjudant Oberholster se oë toe hy sersant Laing en Lucien van Wyk agterna gluur.

Hy het nou alles gehoor waaroor daai twee daar in die speurder se kantoor gesels het.

Hy klem sy hande in vuiste. Hy sal beslis met dié twee moet afreken voordat hulle Laing se plan uitvoer.

En dan sal hy tannie Rademeyer natuurlik ook vanaand uit die weg moet ruim. Hy sal dit moet doen sonder oom Koos se medewete. Die ou bliksem is mos hoeka vanaand by ’n kerkraadsvergadering.

DIT is net ná 23:00 toe ’n donker figuur die polisiestasie van agter af binnesluip en in die swak beligte gang afbeweeg. Voor sersant Laing se kantoor gaan staan die figuur stil en loer vlugtig rond.

Hy haal ’n loper uit sy sak en sluit die kantoor oop. Dan verdwyn hy vinnig na binne en sluit weer die deur agter hom.

’n Halfuur later stap sersant Laing sy kantoor binne. Hy kom nou net van die aanklagkantoor af waar hy Lucien van Wyk in die voorvalleboek en selregister uitgeboek het vir “verdere ondersoek”.

Daar is vanaand net een polisieman aan diens daar binne terwyl twee daar buite in die patrollievoertuig is. Gelukkig is hul dorpie maar redelik stil.

Nou wil die sersant net gou die nodige dokumente kry voordat hy Lucien uit die selle gaan haal.

Hy stop egter vierkant in sy spore toe hy adjudant Oberholster agter sy lessenaar gewaar. Oberholster is geklee in swart kamoefleerdrag en daar is ’n breë grynslag op sy bakkies.

Daar gaan ’n yskoue rilling agter Laing se rug af. Iets is nie pluis aan die hele situasie hier in sy kantoor nie. Daardie kyk in Oberholster se oë gee hom die creeps.

“Obie … W-wat soek jy dan hier in my kantoor?!”

Die grynslag op Oberholster se bakkies verbreed byna tot by sy rooi ore.

“Nee, my kollega, ek moes eers gou twee sakies hier kom afhandel.”

Hy staan van agter die lessenaar af op en kom stadig op Laing afgeloop. Hy haal ’n tou uit sy broeksak. Daar is ’n moordlustige blik in Oberholster se oë.

Laing besef nou in watter gevaar hy verkeer.

Hy retireer verskrik. “Hei, wat gaan aan met jou?” gil hy dit uit. Hy besef nóú dat Oberholster weet Lucien het met hom gepraat oor die beplande staatsgreep. Die gemors moes hulle afgeluister het.

Soos blits is Oberholster by Laing en gryp hom vas. Hy gooi die arme speurdertjie op die vloer en draai die tou om sy nek. Terwyl Laing verbete spartel vir sy lewe, trek Oberholster die tou al stywer.

“Jy en daardie vreemde laitie wil mos ’n stokkie steek voor my planne om hierdie pragtige land weer terug te wen vir my volk. Jý wat ook die kind van my volk is, is ’n verraaier! Jy verdien die doodstraf!” spoeg Oberholster dit uit. Daar is nou waansin in sy stem.

Stadig begin die lewe uit Laing dreineer. Sy spartelings raak al hoe flouer, totdat hy stil daar lê – morsdood.

Oberholster sukkel van die vloer af op en vryf sy hande ingenome teen mekaar. Hy gaan loer vlugtig in die donker gang af. Toe haal hy die selsleutel uit Laing se broeksak en gooi die speurder se lyk oor sy skouer.

Hy sukkel met hom in die gang af en by die agterdeur uit.

Met moeite prop hy die lyk in sy motor se kattebak. Weer loer hy vlugtig in die polisiestasie se jaart rond en skep eers asem.

Toe verskyn daai moordlus weer in sy oë toe hy hom omdraai en reguit selle toe loop.

Lucien spring van die klipbankie af op toe hy die groot buffel voor sy sel sien staan.

“W-wat maak jy hier? W-waar’s sersant Laing?” vra hy versigtig.

“Jou sersant is nou in ’n beter plek, jou bruin gemors!” spoeg Oberholster dit uit.

Tóé eers sien Lucien die swart kamoefleerdrag wat die polisieman dra. Hy weet sommer dat dit die Boere Bevrydingsmag se oorlogsdrag is. Toe Oberholster boonop ’n vuurwapen uitpluk en die sel oopsluit, toe besef Lucien Oberholster weet van sy gesprek met sersant Laing en dat sy uurglas nou leeggeloop het. Hy deins verskrik terug.

“Kom! Ons twee gaan nou ’n draai ry!” beveel die rooi buffel hom kortaf en rig die vuurwapen op hom.

Die rit in die motor is van korte duur. Skielik doem die laning sipresbome aan weerskante van die pad op. Toe weet Lucien dat hy vanaand hier op die plaas Swastika die teiken van die Boere Bevrydingsmag gaan wees. Hy loer na die buffel, wat sy vuurwapen sekuur op hom gerig hou en terselfdertyd bestuur.

Skielik bring Oberholster sy handradio te voorskyn. “Bravo 2, ek is binne een minuut daar met ons teiken. Kry julle solank gereed!” praat hy in die radio.

Lucien se hart sak tot in sy skoene toe hy die linie swaargewapende manne in swart kamoefleerdrag sien wat hulle inwag – ’n stuk of 20. Hy staan nie ’n kat se kans nie.

Daar is spreiligte op strategiese plekke opgestel en Lucien sien die hindernisbaan waar daar al so baie bloed vergiet is.

Hy word rof uit die motor gepluk. Sy hart wil breek toe hy sien hoe sersant Laing se lewelose liggaam uit die kattebak gelaai en op die grond gesmyt word.

Vir ’n oomblik word kajuitraad gehou. Oberholster lig vinnig sy manskappe in wat aangaan en Lu­cien sien hoe hulle hom sulke pangakyke gee.

“Raait, oom Koos Rademeyer, vat ons teiken ’n ent weg. Dan gee jy die teken wanneer ons kan begin aanval!” blaf Oberholster aan so ’n gryskop-omie.

Lucien weet sommer onmiddellik dat dit tannie Rademeyer se man hier voor hom is. Voordat hy vir sy lewe kan pleit by die oom, word hy rof aan die arm gepluk en na die hindernisbaan getrek.

“A-asseblief, Oom, ek ken Oom se vrou ... En haar lewe is nou ook in gevaar!” pleit hy toe hulle daar ver is.

Skielik verskyn daar ’n kalm glimlag op die oom se gesig. Dit laat Lucien verbaas in sy spore vassteek.

“Luister nou mooi, jong man! Ek is eintlik ’n undercover agent van die nasionale intelligensiediens. Ek het dié bose organisasie al ses maande gelede geïnfiltreer.”

Lucien se gesig helder op toe hy dít hoor. “Dankie, Vader, daar’s hoop,” hyg hy dit uit.

Oom Koos wys na ’n motor wat daar teen ’n bult staan.

“Hardloop na daardie motor. Daar is ’n sleutel in die ignition. Jaag deur die veld tot by die teerpad en dan jaag jy dat die k*k wit sit.

“Binne ’n paar sekondes gaan alle hel nou hier losbreek!”

“Dankie, Oom,” fluister Lucien met trane in sy oë.

“Moenie jou bekommer oor my vrou nie. Sy is veilig. Twee agente het haar vroeër vanaand kom haal,” salf oom Koos Lucien se gemoed.

Lucien spring weg en nael tot by die motor. Hy spring in en trek in ’n stofwolk weg.

In die truspieël sien hy hoe lede van die Bevrydingsmag al swetsend en skietende agterna storm.

Tóé breek alle hel los … swaar­gewapende army-manne en die polisie se taakmag sak meteens met pantservoertuie en helikopters op die Boere Bevrydingsmag toe.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters