19 dae gelede
Lykskouing wys stapper is geskiet
Erna Gericke  ~ Foto Verskaf

ERNA Gericke is met 'n swaarkaliber-jaggeweer geskiet en is aan bloedverlies dood, het die lykskouingverslag bevind. 

Gericke (66) se lyk is Maandag op 'n staproete in Barrydale gevind nadat sy Sondagaand as vermis aangemeld is.

Kapt. Malcolm Pojie, 'n polisiewoordvoerder, sê op grond van die bevindinge het speurders van Barrydale hul ondersoek uitgebrei en het op 'n 303-jaggeweer beslag gelê.

Die polisie het aanvanklik geen vuilspel vermoed nie en het gedink Gericke is dood aan beserings wat sy op die staproete opgedoen het. Twee mans is egter later in hegtenis geneem nadat hulle in besit van Gericke se voertuig gevind is.

Die mans het reeds Donderdag hul eerste verskyning in die hof gemaak. 'n Klag van moord gaan nou by die klagstaat gevoeg word. Pojie sê verdere klagte van huisbraak en besit van vuurwapens en ammunisie kan ook later bygevoeg word.

Gericke het Sondagmiddag gaan stap en het haar kar naby Rondomskrik in Barrydale parkeer. Haar man het haar later die aand as vermis aangemeld.

Haar liggaam is Maandagoggend op die staproete gevind. - Algoa FM


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters