10 dae gelede
ANC herroep Zuma
Pres. Jacob Zuma  ~ 

DIE ANC se nasionale uitvoerende komitee, die party se hoogste besluitnemingsgesag, het besluit om pres. Jacob Zuma te herroep.

Dié besluit kom ná ‘n marathon-vergadering Maandagaand by die Saint George-hotel in Pretoria. Die vergadering was geroep om Zuma se posisie as president te bespreek.

Die ANC het gister in ‘n verklaring gesê Zuma het op beginsel ingestem om af te tree, maar wou dit eers oor ‘n tydperk van drie tot ses maande doen.

“Hoewel die NUK president Zuma se voorstel waardeer, neem hulle kennis van die periode van onsekerheid en angs waardeur Suid-Afrika gaan weens die onopgeloste kwessie van die oorgang,” lui die verklaring.

“Dié onsekerheid en angs sal die nuwe hoop en vertroue van Suid-Afrikaners sedert die 54ste nasionale konferensie van die ANC aftakel.”

Die NUK sê hulle is vasbeslote om die integriteit van die openbare instellings, politieke stabiliteit en dringende ekonomiese te herstel.

Die ANC sê in die verklaring die besluit van die NUK gee sekerheid aan Suid-Afrikaners op ‘n tyd wanneer die ekonomiese en maatskaplike uitdagings in die land dringende terugvoering nodig het.

“Dit is krities dat Suid-Afrikaners verenig is rondom die taak van groei, werkskepping en ekonomiese transformasie,” sê die verslag.

Mmusi Maimane, DA-leier, het ná die aankondiging gesê hy neem kennis van die NUK se besluit, maar dat dit geen effek op Zuma se huidige status as president van Suid-Afrika het nie.

Maimane sê Zuma kan dit eenvoudig ignoreer.

“Tensy hy sy bedanking indien, is dié herroeping nie die papier werd waarop dit geskryf is nie,” sê Maimane.

“Die feit is Zuma bly president en vir so lank as wat hy president is, gaan ons land ly.”

Maimane sê die enige manier om Zuma as president te verwyder, is vir die parlement om dit by wyse van ‘n mosie van wantroue te doen.

“Dit is die parlement wat ‘n president verkies en verwyder. Nie die ANC nie,” sê Maimane.






Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters