Verlede jaar
Vrou sterf, gesin geskok
Verdriet: Anthony Lennox kan steeds nie glo sy vrou, Johanna, is vir ewig weg nie. Foto’s: Jonathan Lestrade  ~ 

’N SAKKIE klere en ’n boodskap om jammer te sê – dís hoe Anthony Lennox uitgevind het sy vrou is oor­lede

En dít ’n volle drie dae nadat sy in die Tygerberg-hospitaal gesterf het. Met trane in sy oë vertel Lennox (60) hoe hy aanhoudend die hospitaal gebel het om navraag oor sy vrou se toestand te doen.

Sy vrou, Johanna (ook 60), is op 9 Junie in die hospitaal toegelaat. Sy was ’n diabeet en hoewel haar man en kinders tuis na haar gekyk het, was sy in baie pyn.

“Die laaste wat ek haar gesien het, was die dag toe sy opgeneem is. My hart was seer, so ek het gebel en gevra of ek haar kan besoek, maar hulle het gesê ek kan nie as gevolg van die virus.

“Ek het toe weer die Vrydag geskakel en hulle het vir my gesê my vrou is orrait,” sê Lennox.

Maar luidens die doodsertifikaat het Johanna reeds Donderdag 11 Junie gesterf.

Rochelle Lennox, Johanna se dogter, sê sy het self Sondag 14 Junie die hospitaal geskakel en daar is toe aan háár ook gesê haar ma is orrait.

“Dit kom as ’n skok dat my pa dan die volgende dag uitvind my ma is dood. Dit is mos nie reg nie. Ons voel nie lekker hieroor nie. Ek het my ma elke dag opgepas, skoongemaak en gewas. Sy wou nie hospitaal toe gegaan het nie, maar ons wou gehad het sy moet gesond raak en dit is waarom ons gesê het sy moet gaan.

“Ons is net geskok­. As my pa nie die Maandag gegaan het nie, sou ons nie geweet het nie,” sê Rochelle.

Sy sê sy het hul kontaknommers by die Bishop Lavis-daghospitaal in haar ma se lêer neergeskryf voordat sy oorgeplaas is na die Tygerberg-hospitaal.

Lennox sê hy het Maandag 15 Junie besluit om hospitaal toe te gaan om persoonlik uit te vind oor sy vrou se toestand.

“Toe ek navraag oor my vrou doen, toe kom ’n suster met ’n sakkie klere aan en toe vra ek: ‘Nou waar is my vrou dan?’

“Toe sê sy net ‘sorry’.

“Ek verstaan nie hoe my vrou kon sterf as sy net vir haar toon opgeneem was nie.”

Lennox sê hulle het by die hospitaal aan hom verduidelik die polisie is Saterdagoggend omstreeks 02:00 uitgestuur om vir hulle die doodstyding te bring.

“Niemand was hier nie, niemand het gebel nie. Ek voel baie hartseer.

“Ons was 36 jaar getroud en niemand kan nou vir my sê wat presies het met haar gebeur nie.

“My hart pyn. Dit pyn erg,” sê hy.

Die bedroefde hubby sê die dokter het hom gesê sy vrou se niere het ingegee weens die pyn wat sy moes verduur.

Laticia Pienaar, woordvoerder van die Tygerberg-hospitaal, sê die hospitaal wil sy opregte meegevoel betuig met die Lennox-familie.

“Pasiënt Lennox is op 9 Junie 2020 in die Tygerberg-hospitaal opgeneem, met gangreen en blase aan albei bene, sowel as ernstige hart- en nierversaking. Luidens verpleegnotas was sy wakker en stabiel tot 11 Junie 2020, toe haar toestand versleg het,” sê Pienaar.

Pogings

Sy sê die oorledene is op suurstof geplaas en haar toestand is gemo­nitor.

“Die pasiënt is ongelukkig omstreeks 23:00 op 11 Junie 2020 oorlede. Volgens die kliniese aantekeninge het die hospitaal die volgende pogings aangewend om die familie te kontak.

“Teen 23:00 het hulle probeer om die nommer op die registrasievorm te skakel, net om te ontdek dat dit die pasiënt se selfoonnommer is. Daar was ongelukkig geen ander kontaknommers van familielede nie,” laat hoor Pienaar.

Sy sê die standaardprosedure as die hospitaal nie kontak kan maak met die naasbestaandes nie, is om die polisie in te lig. Die Bishop Lavis-polisiekantoor is 00:45 gebel om na die huis te gaan en die familie in kennis te stel om die hospitaal te kontak.

“Die oproep is by ene konstabel Sebeje ingedien.

“Omstreeks 01:50 het ’n konstabel Ngabaza gesê dat hulle na die huis van die pasiënt gaan, maar die gesin wou nie die deur oopmaak nie,” het Pienaar verduidelik.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters