Verlede jaar
Skool struggle sonder hoofde
LEIERLOOS: Die skoolgemeenskap van Uitsig soek dringend ’n nuwe hoof. Foto’s: Jonathan Lestrade  ~ 

UITSIG Primêre Skool sit nou sonder ’n hoof én ’n adjunkhoof nadat sy hoof einde verlede maand afgetree het.

Dis nou die gevolg selfs al het die proses om die poste te vul, reeds verlede jaar begin.

Die skoolbeheerliggaam het dié week gedreig om die skool toe te maak as ’n hoof nie onmiddellik aangestel word nie.

Son op Sondag het verlede week berig oor die vorige skoolhoof, Hermanus Mouwers (65), wat ná 43 jaar in die onderwys – 23 voor die swartbord en 20 as hoof – uitgetree het.

Geen skool kan sonder ’n leier funksioneer nie, sê die skoolbeheerliggaam (SBL).

Volgens Rosaline Chippen­dale, voorsitter van die SBL, is dit onregverdig om te verwag dat twee departementshoofde die skool moet bestuur.

Sy sê hulle het laas week ’n brief aan die distrikskantoor geskryf en gesê as daar nog nie teen Vrydag 3 Julie ’n hoof aangestel is nie, beplan hulle om die skool te sluit.

“Die skool het al lank voor die pandemie aansoek gedoen vir die twee poste om gevul te word en ons wag nou nog,” sê ’n hoogs ontevrede Chippendale.

Sy sê hulle is bitter teleurgesteld oor die stand van sake.

“Die pos vir die hoof is afgehandel en ons weet nie wat die departement verhinder om die persoon aan te stel nie.

“Ons weet daar was ’n dispuut met een van die aansoeke, maar ons verstaan nie hoekom dit so lank vat nie.

“Daar is net sóveel wat departementshoofde kan doen.

“Ons eis dat ’n hoof en onderhoof onmiddellik aangestel moet word,” sê Chippendale.

“Die skool kan nie sonder ’n hoof funksioneer nie, veral in hierdie tyd van die pandemie waarin ons nou is.

“Belangrike besluite moet geneem word. Hoe gaan ons voort om die veiligheid van leerders en onderwysers te verseker?

“Die hoof speel ’n belangrike rol hier,” sê Chippendale.

Hulle het intussen terugvoer van die departement gekry dat ’n adjunkhoof binnekort aangestel gaan word.

Onderhoude

Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), het bevestig dat aansoeke vir beide ’n hoof en adjunkhoof tussen verlede jaar en vanjaar ontvang is.

Sy sê die onderhoude met kandidate vir die hoof se pos is vroeër vanjaar gefinaliseer.

“ ’n CV is verkeerd opgeneem vir die hoof-pos, maar is intussen reggestel. Die aansoek word verwerk. Die adjunk-pos is afgehandel en dit sal binnekort gekommunikeer word,” verduidelik sy.

Hammond sê hulle het navrae oor die vertragings gekry en verduidelik Covid-19 het ook sommige prosesse vertraag. Sy sê daar is wel ’n waarnemende hoof en adjunkhoof by die skool.

“Die distrikskantoor sal die skoolbeheerliggaam en die skoolbestuur skakel oor die moontlike protesoptrede.

“Hoewel ons hul frustrasie verstaan, sal ons sorg dat dit so gou moontlik opgelos word,” belowe Hammond.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters