2 maande gelede
Ontsnaptes kom toe nie ver nie
malmesbury manhunt
TERUG MANG TOE: 'n Gevangene laat sak sy kop soos hy na 'n van gelei word.  ~ Jonathan Lestrade

‘HULLE kyk te veel TV.”

So sê ’n antie van Malmesbury oor die 69 gevangenes wat Vrydagmiddag ’n prison break gemaak het.

Dié antie, wat anoniem wou bly, het aan Son op Sondag gesê die gevangenes sal nie ver kom nie, want daar is te veel wakker oë in haar gemeenskap.

En die antie was reg. Binne ure ná hul ontsnapping uit die Malmesbury-gevangenis is 66 van die 69 ontsnapte, verhoorafwagtende gevangenes weer aangekeer.

Gehang

Die gemeenskap van Malmes­bury het tot stilstand gekom om die polisie en korrektiewe dienste na die ontsnaptes te help soek.

Een vir een en in klein groepies is hulle na die fasiliteit teruggebring. Hul koppe het gehang en hul hande was in boeie nadat hul hoop op vryheid weer van hulle weggeneem is.

malmesbury manhunt
NIEMAND KOM WEER WEG: 'n Korrektiewe dienste beampte met 'n handvol boeie wat gebruik is om die gevangene se hande toe te kap, voordat hulle na 'n ander tronk vervoer is.

Polisielede en beamptes van korrektiewe dienste het op en af in hul voertuie gery op soek na die ontsnapte gevangenes.

Die gemeenskap is ook gewaarsku om eerder hul naaste polisiestasie te kontak as hulle die gevangenes sien en om nie die skurke self te probeer vastrek nie.

Delekile Klaas, die Wes-Kaapse streekkommissaris vir korrektiewe dienste, was Vrydag by die fasiliteit en het verduidelik omstreeks 12:15 het 69 gevangenes ontsnap nadat hulle die DKD-beamptes tydens ’n oefensessie oorrompel het.

’n Onbekende lid van die publiek het die gevangenes se ontsnapping op video vasgelê. Die persoon het in ’n bakkie net buitekant die tronk gesit.

Gesteel

“Ons is bewus daarvan dat een van die ontsnaptes ’n kar gekaap het wat later op die R300-snelweg gevind is, maar intussen is die meeste van hulle rondom Malmesbury gearresteer en ander op die roetes soos hulle die gebied probeer verlaat het,” sê Klaas.

Son op Sondag het inligting gekry oor ’n klein afleweringswa wat ook op die toneel gesteel is en later op die hoek van Kerk- en Amandelrugstraat by die laag­waterbrug gevind is.

Twee gevangenes is volgens ooggetuies in hegtenis geneem voordat hulle kon vlug.

In die video wat soos ’n veldbrand in die sosiale media verprei het, kan ’n mens sien hoe die gevangenes in hul kanariegeel tronkklere van die tronk af weghardloop. ’n Mens sien ook hoe een sy tronkdrag uittrek voordat hy laat spat.

Oorrompel

Klaas sê: “Die sentrum het ten tyde van die voorval 451 oortreders en 20 amptenare aan diens gehad.

“Die vlugtelinge het amptenare oorrompel, die sleutels gevat en drie amptenare in ’n sel toegesluit.

“Hulle het ander selle oopgemaak voordat hulle deur die hoofingang en oor die dak ontsnap het.

“Gedurende die ontsnapping het nege amptenare ligte beserings en skrape opgedoen.”

Klaas het die beamptes van die departement korrektiewe dienste, die polisie en die plaaslike gewapende reaksiemagte geloof vir hul vinnige reaksie om te verseker die meeste van die ontsnaptes word weer gearresteer.

“Die departement veroordeel die roekelose optrede van hierdie oortreders en sal daarvan seker maak dat hulle die gevolge van hul optrede dra,” aldus Klaas.

Hy het ook gesê die departement korrektiewe dienste wil die gemeenskap die versekering gee dat hy alles in sy vermoë sal doen om die saak ferm te hanteer om die oorblywende vlugtelinge so gou moontlik aan te keer.

malmesbury manhunt
WAAR IS JULLE: Drie van die 69 wie ontsnap het, was Saterdagaand nog op vrye voet.

Oorgeplaas

Hy benadruk die departement sal niks doen om gemeenskappe in gevaar te stel nie.

Terwyl Son op Sondag Vrydagaand nog by die tronk was, is sommige van die problematiese gevangenes oorgeplaas na ander maksimum-sekuriteitsfasiliteite in die streek.

Intussen sê Chrispin Phiri, woordvoerder vir die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, al die ontsnaptes is binne 76 weer gearresteer.

"Ons kan bevestig dat al die gevangene wie uit die Malmesbury korrektiewe fasiliteit ontsnap het weer gearresteer is.

"Minister Lamola bedank al die rolspelers en die plaaslike Malmesbury gemeenskap vir hul samewerking."

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters