2 maande gelede
Onse koerant ontsluit talle se groot talente
willem fransman
DIE MAN: Willem Fransman jnr. vat ’n trip down memory lane met Son op Sondag.  ~ VERSKAF

EEN rubriek, vyf skrywers, vyf verskillende agtergronde, maar één gesamentlike liefde.

Ons verwys hier na die gasskrywers van Son op Sondag se gewilde rubriek Kykie Hoorie.

Tot redelik onlangs nog was Petro Rhode, Christo Meyer, Salmon Smith, Nicolene Fouldien en Willem Fransman jnr. verantwoordelik vir die bydraes. 

En dít het hulle met toewyding gedoen. Want daar was één gesamentlike dryfveer, naamlik hul liefde vir woorde!

Kort ná die aanvang van Son op Sondag in 2009 het die redaksie besluit om hierdie rubriek te skep.

Dít was sodat gasskrywers weekliks oor sake kan skryf wat hul gemeenskap na aan die hart lê.

Christo Davids (akteur), Christo van der Rheede (toe by die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans) en Alistair Izobell (verhoogkunstenaar) het aanvanklik die rubriek behartig.

Toe raak hulle te besig.

Dit was wyle Melvin White­booi wat my onverwags een oggend gebel en gevra het of ek nie aan boord wil kom nie.

Son op Sondag se redakteur daai tyd, Edwin Lombard, het hom getaak om my te nader.

Melly het dan ook later vir Meyer voorgestel en gekontak.

Met Smith as derde persoon soek Melly toe ’n dame.

Dis toe dat ek die oproep na Rhode maak.

“Petro, ons moet ’n paar skrywers­ bymekaar kry om ‘Kykie Hoorie’ om die beurt te behartig. Ons soek ’n dame ... en jou naam is voorgestel.”

En die res is geskiedenis!

Hierdie groepie sou vir lank die kerngroep bly totdat Nicolene (wat aanvanklik net bydraes tot ‘Oom Sonnie se Stukke’ gelewer het) betrek is.

En nou ... nou staan ons by die oop graf van ’n koerant ... ’n publikasie wat soveel moontlikhede vir hierdie onbekende skrywers geskep het.

Met hul kortverhale en rubrieke in Son en Son op Sondag het Meyer, Fouldien en Smith hul skrywersbyltjies amper tot perfektheid geslyp.

Bedrywig

Meyer het verder in 2019 ’n jeugroman, Puntemasjien, sowel as ’n versameling kortverhale, Man in die Nag, gepubliseer, terwyl Fouldien laas jaar as een van die wenners van die bekende Woordfees se skrywersfeesbundel haar merk gemaak het.

Rhode (née Gordon) het self tuispublikasies uitgebring, maar was toe reeds as kreatiewe skrywer bedrywig.

My eerste bydrae vir ‘Kykie Hoorie’ was Van vis eet en lekker soen op 14 Junie 2009.

Gefikseerde Woorde, ’n bundel van my eie verskene dinkstukke in Son op Sondag, is ook in 2010 gepubliseer. En ek reken as dit nie vir my gewildheid as skrywer van Kykie Hoorie was nie, sou my oplaag nie so vinnig uitverkoop het nie.

Daar het ’n hegte vriendskap tussen hierdie vyf kreatiewe woelgeeste ontstaan. Hulle woon dikwels mekaar se boekbekendstellings of optredes by. Ook het dit tot gevolg gehad dat hulle dikwels as gassprekers uitgenooi is.

Dat hulle die laaste paar jaar hul bydraes verniet gelewer het, was seker nie algemene kennis nie. Maar ter wille van ons lesers wou ons nie ophou skryf nie!

Aan die ander kant het Son op Sondag ook vir kitsroem gesorg.

As mense hul geliefde gas­skrywer in die winkels of op straat opgemerk het, is geselsies aangeknoop. Deur middel van Son op Sondag het ons vriendskappe in gemeenskappe gevorm wat ons nou baie genot verskaf.

Die refrein “Was dit nie vir Melly (Whitebooi) nie, dan was ek nie hier nie” loop soos ’n goue draad deur ál die gasskrywers se lofwoorde.

Maar was dit nie vir Son op Sondag wat as voertuig gedien het nie, sou ’n groot gros lesers beslis nie bewus geword het van die skryftalent wat binne hul eie gemeenskappe ontsluit is nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters