2 maande gelede
Man se dood is ’n raaisel vir sy mense
maria faro,abraham faro
GROOT HARTSEER: Maria Faro en Louis Thabo sê hulle het nog nie Abraham Faro se dood verwerk nie.  ~ Melinda Stuurman

‘ONS sal julle bel as jul broer dood is.”

Dié woorde, vermoedelik van ’n versorger by die Turfhall Cheshire Home in Hanover Park, spook by die familie van Abraham Faro (46).

Faro, ’n kwadrupleeg, is laas Saterdag in die huis vir gestremde volwassenes oorlede.

Hy is in 2003 in die fasiliteit opgeneem. Faro was weens ’n motorongeluk in 1999 verlam.

Albertus Bam (38), ’n neef van Faro, vertel hulle het destyds ’n plek naby Wellington gesoek omdat hulle daar woon, maar hulle was onsuksesvol. “Gevolglik is hy by dié home ingeneem.”

Bam sê hy en Faro was van kleins af baie geheg. “Ek het hom altyd vir die holidays gaan haal.

“Ek sou hom weer vir die Paasnaweek gaan haal, maar toe ek hom bel om dit te reël, het hy gesê ons kon nie weens die Covid-19-pandemie.

“In Junie het ene Naeem my gebel om te sê dit gaan nie goed met my neef nie en dat hy sy been gebreek het.

“Ek wou weet hoe breek ’n verlamde man sy been.”

Volgens Bam het die home hom ook laat weet dat Faro sedert Januarie baie siek was.

“Dit was nuus vir ons. Ons het ook gereeld met Abraham gepraat en daar was nooit praatjies van hom wat siek was nie.”

Bam sê hy het ná die gesprek met Naeem ’n paar keer weer vir Faro gebel, maar iemand anders het altyd die foon geantwoord.

“Laas week Donderdag het hulle weer vir Naeem die foon gegee. Hy het geantwoord en gesê ons moet nie weer na die home­ bel nie en dat hy sal bel as Abraham dood is.”

Verlede Vrydag is Faro se ma, Maria (64), en ’n ander neef van hom, Louis Thabo (45), na die Turfhall Cheshire Home.

Thabo vertel: “Hulle wou ons nie toelaat om hom te sien nie. Ons is na die Lansdowne-polisie toe vir hulp. Twee beamptes het ons die middag na die tehuis geneem, maar net hulle kon ingaan.”

Thabo sê een van die beamptes het aan Maria gesê: “Mevrou, as dit my kind was, het ek hom hier uitgehaal.”

Die familie het toe aan die werk gespring om Faro Maandag uit die tehuis te kry. Die Saterdagmiddag is hulle egter laat weet Faro het die oggend gesterf.

“Hoekom kon ons nie toegelaat word om met hom te praat of om hom te sien nie? Maar toe hy dood is, is ons die Maandag ingenooi,” wou die familie ontsteld weet.

Harry van Eck, bestuurder van die tehuis, sê hulle was baie sad toe Faro dood is.

“Kwadrupleë en parapleë moet elke twee ure omgedraai word omdat hulle so maklik kan bedsere kry. Hul bloedsirkulasie is baie sleg en boonop is hulle op baie medikasie, wat newe-effekte het. Die liggaam vat baie lank om te herstel.”

Hy sê om dié redes raai hulle hul inwoners aan om familie nie baie lank te besoek nie.

Septisemie

“Hy (Faro) het in Januarie 2019 van vakansie af gekom met ’n bedseer. Ons het gebattle om die seer weer gesond te kry.”

Hy sê toe Faro weer vanjaar van vakansie af kom, was daar ses bedsere wat toe septisemie veroorsaak het. Hy voeg by die familie kon Faro ingevolge die Covid-19-maatreëls nie sien nie.

’n Geregtelike nadoodse ondersoek is geopen.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling ondersoek ook die omstandighede rondom Faro se dood.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters