Verlede jaar
Kuila-clan wen R50 000 op game show
wenners: Eugene Hendricks, Charles Nakanie en sy vrou, Marilyn, Steve Harvey (aanbieder), Jamie Lee Gysman en haar man, Hiltonio, op Family Feud.FOTO VERSKAF  ~ 

FAMILIELEDE van Kuilsrivier is celebrities nadat hulle onlangs sowat R50 000 op die Amerikaanse komediant Steve Harvey se show Family Feud gewen het.

Wat dit alles nog merkwaardiger maak, is dat die vyf op die laaste minuut besluit het om in te skryf.

Hiltonio Gysman, wat al jare lank ’n groot fan van Harvey is, was in sy noppies toe sy vrou, Jamie Lee, hom vertel Family Feud kom Suid-Afrika toe.

Hy het gesê: “Toe my vrou vra dat ons inskryf, was ek baie opgewonde. Ek is ’n groot aanhanger en ek het al ál Harvey se shows en rolprente gekyk.

“Op die dag van die show was dit die ongelooflikste ondervinding om hom te ontmoet.

“Hy is ’n wonderlike mens en hy het ons heeltyd bemoedig. Die ondervinding was ook ’n bietjie skrikwekkend, want daar was oral kameras en ek was senuweeagtig.”

Jamie Lee het die vyf familielede ingeskryf, maar hulle moes eers video’s instuur.

“Ek het video’s ingestuur oor hoe ons die Wêreldbeker-rugbytoernooi kyk en die volkslied sing. 

Suster

“Daarna is ons na Johannesburg, waar ons nog ’n oudisie moes doen voordat ons deurgegaan het om op die program te wees,” verduidelik Jamie Lee.

Die familie het deelgeneem aan die 11de episode van die program in Suid-Afrika.

Die ander lede van die familie wat deelgeneem het, is Jamie Lee se skoonbroer Eugene Hendricks, haar oudste suster, Marilyn Nakanie, en Marilyn se man, Charles.

Volgens Marilyn was dit ’n ongelooflike ondervinding.

“Ons het soos celebrities gevoel. Ons het almal ’n dressing room gehad. Dit is waar ons grimering gedoen is.

“Ons wil baie dankie sê vir (die produksiemaatskappy) Rapid Blue, wat dit gereël het.”

Charles vertel op sy beurt die dag van die show het alles eers ’n werklikheid geword.

“Dit was ook die eerste keer dat ons Steve Harvey ontmoet het. Sjoe! Wat kan ek sê van die man? Hy is net totally amazing en briljant en hy het ons op ons gemak laat voel,” sê Charles.

Volgens Jamie Lee het hulle nie verwag hulle gaan wen nie.

“Toe ons die geld wen, was ons baie verras. Ons gebruik dit om ons huise op te knap,” sê sy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters