2 maande gelede
Krag te duur, so dis bos toe
Winter: Weens hoë kragpryse skaf inwoners maar vuurmaakhout aan teen die snerpende bibberweer.  ~ _Keith Meyer

CALITZDORP. – Die winterkoue is besig om sy kloue diep by die inwoners van die land, veral die plattelandse mense, in te slaan.

Hierdie tyd van die jaar is dit ’n algemene gesig om veral vroue met draggies hout op hul kop te sien. En die moegheid is duidelik op hul gesig te sien.

Terwyl ander net ’n knoppie kan druk vir ’n heater, ’n stoof of ’n ketel om hitte te kry, moet baie mense maar bos toe om daar vuurmaakhout te soek.

Breek

Enslo Esquire, ’n inwoner, sê: “Dis harde werk. Jy gaan soggens bos toe, dan kom jy seker vier ure later huis toe met jou bossie hout op jou kop.

“Jy vat jou byl saam of ’n saag. Maar meestal trap ons maar die bosse of bome om en breek die hout met die hand.”

Krag kos R50 vir net 22 eenhede. Vir R25 kry inwoners net 11 eenhede.

Jana Windvogel, ’n huisvrou, verduidelik: “Ons maak maar vuur, want die krag is net te duur. Een-twee-drie dan is jou kragboks in die rooi.

“Dis beter om jou kos maar buite gaar te maak.

“Dan kook jy sommer water in ’n ketel terwyl die kos gaar raak.”

Siena Marits kla: “Met R25 of 11 eenhede hou ek net die ligte aan die gang.

“Party kere moet jy sommer buite vuurmaak met jou boshout sodat daar die vuurhout se lig in die huis in skyn.

“Dan hoef jy nie ’n lig aan te skakel nie. Laat los maar die yskas.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters