Verlede jaar
Extra oog doer hoog
Gereed: Gerhardt Albertyn sê hy sal voortgaan om die oë en ore van hul gemeenskap te wees.  ~ Jonathan Lestrade

MATROOSFONTEIN het ’n “vyfde oog in die lug” gekry om misdaad te help bekamp en die gemeenskap veiliger te laat voel.

Gerhardt Albertyn, voorsitter van Matroosfontein se buurtwag, sê dit help om ’n oog in die lug te hê teen kwaaddoeners.

“Ons kan nie oral wees nie. Ons kan ook nie alles sien nie.

“Die nuwe kamera laat ons ’n bietjie gemakliker en veiliger voel,” sê hy.

Die CCTV-kamera is onlangs in Owenstraat geïnstalleer.

Misdaadbekamping

Die plaaslike raadslid, Charles Esau, sê dit is die vyfde kamera wat hy in sy termyn uit sy wykstoekenning befonds.

“Die gemeenskap het daarvoor gevra om te help met misdaadbekamping en kinders en grootmense wat skool en werk toe gaan veilig te laat voel.

“Ek het ’n open door policy, Baie leerders het self na my toe gekom en ’n kamera gevra.

“Ek laat hulle praat. Ons moet na die kinders luister en by hulle hoor wat hulle veilig sal laat voel.

“Dwelmhandelaars en dié wat betrokke is by illegal dumping moet weet ons is op die uitkyk en ons is op hul spoor.”

Esau voeg by twee kerke waarby gereeld ingebreek word, gaan baat vind by die kamera.

“Ek hoop dit sal as ’n afskrikmiddel dien en verhoed dat daar by plekke van geloof, skole en sportvelde ingebreek word of dat hulle gevandaliseer word,” sê hy.

Volgens Esau sal dit ook die buurtwaglede help wanneer hulle op patrollies uitgaan.

“Dit is belangrik om te belê in die gemeenskap omdat mense die reg het om veilig te voel.

“Die buurtwag speel ’n groot rol en dit gee hulle die gerusstelling dat daar na hulle ook gekyk word wanneer hulle uitgaan om ander te beskerm,” sê Esau.

Albertyn sê hulle is ’n klein groepie lede in die buurtwag, maar hulle doen steeds hul bes om misdaad te voorkom.

“Ons is die oë en ore van ons gemeenskap en die polisie.

“Dit is nie altyd moontlik dat ons kan uitgaan om te patrolleer nie, daarom help die kameras baie. Dit record alles wat gebeur, dag en nag.

“Ons hoop mense sal twee keer dink voordat hulle ’n misdaad pleeg met die kameras se oë op hulle gerig,” sê hy.

Maureen Stander, ook buurtwaglid, sê hul doel is om die kwesbares in die gemeenskap te beskerm.

Beheer

“Ons hou ons oë gedurig op die kinders. Ons beveilig ons skole en ons area.

“Ons is connected met dié wat die kameras beheer.

“Ons werk lekker saam om ons gemeenskap teen misdaad te beskerm,” sê Stander.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters