2 maande gelede
Wonings weg
niks oor: Jan Michaels se hele huis het tot op die grond afgebrand.  ~ 

HEIDELBERG. – Nog ’n gesin hier het byna alles in ’n brand verloor.

Die viervertrekwoning van dié gesin van Joe Slovo Park het skielik in ligte laaie gestaan.

Julia Fredericks (45), haar lewensmaat, Willem Pieters (42), en hulle twee seuns (5 en 7) het ná die brand byna net die klere aan hulle lywe.

Die brand het glo so voor 10:00 in die slaapkamer van die Hop-huis ontstaan terwyl Fredericks buite besig was en Pieters die toilet besoek het.

Fredericks weet nie rêrig wat die oorsaak van die brand is nie.

“Ek was buite besig met wasgoed. Toe ek gou iets wou gaan haal, het ek ’n brandreuk gekry. Ek het vir Willem geskree om te kyk wat fout is. Hy sien toe iets brand in die kamer.”

Wat vir hulle vreemd is, is dat geen elektriese toestel aan was nie. Die hele Joe Slovo Park se krag was in daardie stadium af weens maintenance.

Bure en die brandweer het alles in hulle vermoë gedoen om die brand te blus, maar hulle kon nie byhou nie.

Hulle kon wel die vlamme dood kry voordat dit die kombuis, een slaapkamer en toilet verwoes het.

Benewens baie van die gesin se klere is die klerekaste, beddens en dokumente daarmee heen. Pieters se suster, Magdalena Hendricks, woon by die gesin. Sy’t ook ál haar belangrike dokumente verloor.

Daar word ’n dringende beroep gedoen vir hulp aan die gesin. Francis Paige, ’n familievriend, kan gebel word by 083 995 7375.

  • Die afgelope twee weke het twee ander gesinne ál hulle besittings verloor.

Hulle wonings is ook op ’n onverklaarbare wyse deur vlamme verwoes.

In die eerste voorval is Bettie Gelderbloem (62) en haar lewensmaat, John Lepo (67), alles kwyt.

In die tweede voorval het Jan Michaels se houthuis in Slangrivier tot op die grond afgebrand.

Michaels, ’n enkelloper wat alleen bly, het blykbaar hout gaan soek om vuur te maak.

Toe Michaels (65) terugkom by sy blyplek, het hy gesien die plek is besig om af te brand.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters