8 dae gelede
Wilde vonnis in werke
Vagon Cornelius  ~ Foto Verskaf

OUDTSHOORN. – Hy kan hom klaarmaak vir life indien hy skuldig bevind word aan moord met voorbedagte rade, soos wat die staat aanvoer.

Só het regter Mushtak Parker gister in die rondgaande hooggeregshof aan Ronvigon Wildeman van Haarlem gesê.

Dis ná die slotargumente van sy regsverteenwoordiger, adv. Leandra Adams.

Adams het betoog dat Wildeman luidens sy bekentenis nie bedoel het om sy 18 maande oue seuntjie, Vagon Cornelius, met ’n klip van 18 kg dood te maak nie, maar dat dit ’n ongeluk was.

Hy het glo bedoel om die klip na die kind se ma, Merilen Corne­lius, alombekend as Hetta, te gooi.

Die staatsaanklaer, adv. Lenro Badenhorst, het egter in sy argumente gesê dit kan nie ’n ongeluk wees as ’n mens ’n groot, swaar klip bo jou kop lig en dit twéé keer op jou kind te laat val nie – soos Wildeman op 9 Februarie laas jaar na bewering gedoen het.

Verdoemend

Volgens Badenhorst is dit ook feitlik onmoontlik om so ’n swaar klip 5 m ver te gooi. Dis die afstand wat Cornelius van Wildeman af gestaan het.

Nog meer verdoemend is die getuienis dat hy net voor die bose daad aan haar gesê het: “Kyk hoe spite ek jou nou,” en daarna: “Kyk wat het ek nou aan ons kind gedoen.”

Volgens Wildeman se regsverteenwoordiger ontken hy nou dat hy aan ’n getuie, Joslyn Delport, gesê het hy het sy kind doodgemaak.

Adams het betoog daar was geen stryery of bakleiery tussen Wildeman en Hetta nie nadat hulle die oggend saam ’n liter witwyn gedrink het.

Dit was eers toe hy die middag nóg geld vir wyn by haar wou hê dat hulle gestry het.

Hy het toe haar selfoon teen ’n muur stukkend gegooi, maar die kind, wat in hul teenwoordigheid was, het geen beserings opgedoen nie.

Adams voer aan Wildeman het nie bedoel om die kind dood te maak nie en hy kan dus nie aan moord met voorbedagte rade skuldig bevind word nie.

Die regter het Adams hierop in die rede geval en gesê dis nie in geskil dat die beskuldigde aan Cornelius gesê het “Kyk hoe spite ek jou nou” en “Kyk wat het ek aan ons kind gedoen” nie.

Cornelius was volgens hom ’n geloofwaardige getuie.

Wildeman het skuldig gepleit op die aanklag dat hy ’n beskermingsbevel verbreek het en dié van opsetlike saakbeskadiging deurdat hy Cornelius se selfoon stukkend te gegooi het.

Parker het aan hom verduidelik dat hy tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis kan word indien hy aan beplande moord skuldig bevind word en tot 15 jaar indien hy nie bedoel het om sy kind dood te maak nie.

Die regter het toe bygevoeg hy het genoeg tyd nodig om sy bevinding te maak en het die saak dus tot Maandag uitgestel vir uitspraak.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters