2 maande gelede
Werkers op plase word nou ingeënt
Innie wolke: Jan Lot is happy met sy jab.  ~ Keith Meyer

CALITZDORP. – Plaaswerkers is van die eerste skakels in die voedselketting en word ook as noodsaaklike werkers beskou.

Daarom het die inenting van plaaswerkers teen Covid-19­ reeds begin.

Son het Jan “Jankies” Lot (57) in die wingerde op ’n plaas buite die dorp aangetref. Hy was in die wolke.

“Aan die begin was ek ook maar skrikkerig, soos die meeste van my medewerkers. Maar ek het net besluit dis in die beste belang vir my eie gesondheid en my gesin se gesondheid. Ek het gehoor dat dit teen Covid-19 help.”

Skouer

Volgens Lot is vele van sy kollegas al ingeënt, “maar baie glo nog die wolhaarstories. Daarom is ek trots om te vertel dat ek niks oorgekom het nie. Ek moedig hulle nou ook aan om daai skouer te gaan kaal maak,” sê hy.

Verskeie plaaswerkers wat ons langs die pad ondervra het, was nog nie by ’n vaccine site nie.

“Maar as ou Jankies sy ding kon gaan haal het, moet ons seker maar ook. Netnou het ek gehoor ’n mens moet ingeënt wees sodat jy met groente en vrugte kan werk?

“Ons werkgewer moedig ons ook aan,” het Boet Saaks genoem.

Intussen is die vaccine-program in die Suid-Kaap goed op dreef.

Nadia Ferreira van die gesondheidsdepartement het haar departement se tevredenheid oor die tweede groep inentings uitgespreek.

Die derde ouderdomsgroep (35-49) sal van 1 Augustus ingeënt word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters