2 maande gelede
Wêreld vergeet van meisie
Magdelena Fortuin moet haar dogtertjie, Christo­lene, versorg. Foto: Keith Meyer  ~ 

CALITZDORP. – Christolene Fortuin is net vyf jaar oud, maar die lewe het haar klaar misgekyk.

Haar ma, Magdelena, sê die kind is erg verstandelik gestrem en kan nog nie loop of praat nie.

“Sy kry van geboorte af epileptiese aanvalle. Almal maak beloftes dat die kind gehelp gaan word, maar dit bly net woorde,” sug die ma.

Die fraaie dogtertjie met pragtige swart ogies het ’n pienk truitjie aangehad en het duidelik nie geweet wat rondom haar gebeur nie.

Sy het net sulke sagte geluidjies gemaak.

Pa Morné, wat self aan ’n chroniese siekte ly, het gesug: “Sy is net in haar eie wêreld. Maar die hele wêreld het haar gedrop.

Voltyds

“Ons gee haar al ons liefde en met my skrale ongeskiktheidstoelaag en Chrissie se kindertoelae onderhou ons haar.

“My vrou kan nie gaan werk nie, want sy kyk voltyds na Christolene.”

Volgens Magdelena is hulle belowe dat Chrissie in ’n skool vir gestremdes geplaas gaan word, maar deur die jare het daar net dadels van gekom.

Son het Eunice Strydom, hoof van die ACVV genader.

Strydom sê sy het gereël dat ’n maatskaplike werker gaan ondersoek instel na die arme Christolene se omstandighede.

Henry de Grass, Sassa-direkteur, het voorgestel Magdelena moet aansoek doen om die sorg-afhanklikheidstoelae wat beskikbaar is vir erg gestremde kinders onder 18 jaar.

“Ek sal my bes probeer om ’n huisbesoek te reël,” het De Grass belowe.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters