4 jaar gelede
Weldoener sorg dat dié kinders skoolskoene kry
baie bly: Clinton Nel, Brendaline Christoffels en Wilrick Wehr ontvang hul skoene. Foto: KEITH MEYER  ~ 

LADISMITH. – Ses kaal kindervoetjies.

Dis wat Richard Claassen op ’n Son-foto gesien het en dit het sy hart geruk.

Die kinders was in ’n berig oor die afskeid van juffrou Rienie Fortuin by die Laerskool Towerkop.

Die winter se snerpende wind het Claassen sy warm hart en beursie laat oopmaak.

Hy kon die kinders met die kaal voetjies nie uit sy kop kry nie.

Claassen, wat tans in Kaapstad woon, sê: “Ek het roots in daardie omgewing en as kind het ek die koue geken.

“Toe ek die foto sien, besef ek dis nou my tyd om ’n verskil in ’n kind se lewe te maak.”

Claassen het toe die verslaggewer gebel om uit te vind wie die kinders is.

’n Oor-en-weer gebellery het gevolg om die kinders se name en skoengroottes te kry.

Toe het Claassen geld inbetaal sodat skoene en kouse vir die kinders gekoop kan word.

Die kinders, Wilrick Wehr, Clinton Nel en Brendaline Christoffels, se gesiggies het vertel van hul vreugde.

Toe Son die drie pikkewyntjies byeen bring om die skoene te oorhandig, wou klein Clinton op die daad sy skoene aantrek.

“My nuwe skoene ruik so lekker en dit blink.

“Dankie vir oom ­Richard,” het Clinton laat hoor.

’n Skaam ­Brendaline het oor haar skoentjies gevryf en saggies gefluister: “Ek is so bly en baie dankie!”

Wilrick was ewe skaam: “Dankie, oom!

“Ek gaan dit mooi oppas, want dis duur!”

Claassen is baie beskeie en sê dis maar net die manier hoe hy sy medemens behandel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters