3 maande gelede
Weerstand bou op oor spa
OORD: Planne word opgetrek om die Calitzdorp Spa uit te verhuur. Foto’s: KEITH MEYER  ~ 

CALITZDORP. – Die ergste weerstand wat die Suid-Kaap ooit ervaar het, dreig oor die voorgenome verhuring van die Calitzdorp Spa vir 50 jaar.

Die Spa met sy genesende warmwaterbron is nou die teiken van ontwikkelaars.

En dit met die goedkeuring van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit.

Memory Booysen, burgemeester van die distriksmunisipaliteit, het die oorweging van die ondertekening van die huurkontrak in sy distriks­rede bekend gemaak.

Nou het alle hel losgebars en vrees mense die Spa gaan dieselfde pad as die Diaz Strand Resort in Mosselbaai loop wat ook deur ontwikkelaars oorgeneem en nou net vir superrykes toeganklik is.

Kitty Jacobs, ’n gemeenskapswerker wat naby die Spa woon en die hele Suid-Kaap wil mobiliseer, sê: “Dis erfgrond. Dis bloedgrond. Dit behoort aan ons voorvaders.

Sleuteltjie

“Daar is twee grondeise op daai grond wat nog nie afgehandel is nie.

“My 88-jarige ma het nou nog die sleuteltjie van die baddens. My oupa het die eerste mense daar gebad in die genesende water.

“Waarheen gaan ons mense as dit die speelplek van die rykes word? Ons gaan die Menseregtekommissie nader.”

Ook die Khoisan-stamme in die gebied gaan “tot die dood toe weerstand bied”.

Anthony Ewerts, ’n voormalige ANC-raadslid, waarsku: “Die distriksraad het nie die besluitnemingsmag oor die verhuring nie.

“Die Spa is die enigste ontspannings­gebied vir ons mense.

“Die nasionale regering kan liewer genader word vir die opgradering van die Spa as wat dit aan buitelanders verhuur word. Nogal vir 50 jaar!”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters