27 dae gelede
Weer lang delay in soldaat-saak
Wag eers: Adv. Mustaque Holland (regs) gister in gesprek met Magdaleen Titus.  ~ 

OUDTSHOORN. – Die verhoor van die vier beskuldigdes in die Preston Titus-moordsaak in die rondgaande hooggeregshof hier is gister tot groot ontsteltenis van die regter en die publiek weer uitgestel.

Dis omdat die vrou van die vermoorde soldaat nie oor die nodige geld beskik om haar advokaat te betaal nie.

Adv. Mustaque Holland het die hof meegedeel Magdaleen Titus het nie soos belowe teen Vrydag haar finansiële verpligtinge nagekom nie.

Holland het op aanbeveling van sy opdraggewende prokureurs besluit om nie voort te gaan nie tensy sy die volle bedrag teen middel Junie betaal.

Volgens hom sou Magdaleen ná die verdaging van die saak op 15 Mei van haar bates verkoop. Dit het nie gebeur nie omdat die tyd te min was. Regshulp is haar geweier.

Sy het nou vir meer tyd gevra en behoort teen middel Junie in ’n posisie te wees om haar regskoste te betaal.

Rekening

Natasha Stuurman se regsverteenwoordiger, Chris Morgan, het die hof hierna meegedeel hy is in ’n soortgelyke situasie.

Hy het gesê Stuurman se rekening is ook agterstallig. Sy wag op geld wat sy ná haar broer se dood sal kry.

Adv. Chris van der Vijver, die staatsaanklaer, het hewig kapsie gemaak teen die uitstel van die verhoor.

Volgens hom gaan Magdaleen en Stuurman se lewe voort, terwyl hulle mede­beskuldigde Justice Mooi in aanhouding is. Van der Vijver het gesê Mooi is geregtig op die spoedige afhandeling van die saak.

Volgens hom word belastingbetalers se geld vermors omdat die regter en haar span van Kaapstad na Oudtshoorn reis en onverrigter sake terugkeer.

Hy het die hof ook meegedeel Masithembe “MJ” January vrees glo vir sy lewe, is eintlik aan’t vlug en hy is van voorneme om die kwessie te laat ondersoek.

Adv. Stoffel Prinsloo, Mooi se regsverteenwoordiger, het die hof meegedeel Mooi is ook ongelukkig met die vertraging van die saak.

Regter Nolwazi Boqwana het haar diepe teleurstelling oor die situasie uitgespreek. Sy het gesê die saak kos die staat derduisende rande en die vertragings is onaanvaarbaar.

“Daar moenie buite rekening gelaat word nie dat een van die verdagtes in aanhouding is en daar nou sprake is dat January se lewe in gevaar is. Dis beslis iets wat die polisie moet ondersoek.

“Dit is ’n groot bedrag wat Titus in die hande moet kry en dis wel in die belang van geregtigheid om haar genoeg tyd te gee om dit te bekom.”

Die regter het Magdaleen se borgtog van R30 000, Stuurman s’n van R15 000 en January s’n van R10 000, asook hulle borgtogvoorwaardes, verleng.

Die verhoor is uitgestel en sal van 28 Augustus tot 20 September vanjaar op die hofrol wees.

Preston Titus is in 2017 vermoor.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters