2 maande gelede
Vroue se ID-pyn ’n gesukkel
KOPSEER: Dis ’n stryd vir Maria en Charlsia September om hul ID-probleme uitgesort te kry.  ~ Clive Pretorius

HEIDELBERG. – Die identiteit-noodlot wil maar net nie vir Maria September (57) van Diepkloof systap nie.

September, alombekend as “Max”, is ’n enkelma van drie kinders. Sy sukkel nou al sewe jaar om haarself as lewend verklaar te kry.

Son het reeds ’n maand gelede berig dat September sedert 2012 verkeerdelik as gestorwene geklassifiseer is nadat haar ma, ook Maria September, in 2012 gesterf het.

Die dogter en ma het dieselfde voorname en van.

Haar dogter Charlsia September (18) sit ook nou met die probleem dat sy nie haar identiteitsdokument kan kry nie.

Charlsia glo dat dit seker as gevolg van haar ma se spookstatus is.

Belemmer

Charlsia, ’n gr. 12-leerder, vrees dat dié uitdaging om haar identiteitsdokument te ontvang, haar loopbaan vorentoe kan belemmer.

Sy wag ook nou al amper twee jaar vir haar ID-boekie.

“Ek wil graag onderwys studeer om ons lewensgehalte te verbeter,” het Charlsia skamerig gesê.

’n Gefrustreerde September vertel: “Ek het nie eens toegang tot my geld in my spaarrekening nie omdat ek as dood verklaar is.

“Verder vrees ek dat as ek nie teen die einde van die jaar geholpe raak nie, ek nie eens vir Charlsia geldelik sal kan ondersteun wanneer sy verder moet studeer nie.”

Dié ma vertel met die hande in die hare dat sy ook nie ’n nuwe bankrekening kan open nie.

Sy sê egter haar werkgewer kon darem iets reël om haar salaris in ’n spesiale rekening te deponeer.

Die kantoor van binnelandse sake in George is al telle kere vir kommentaar genader.

Maar dié kan nie duidelike of verklaarbare redes verskaf wat die probleem met dié ID-kopseer is nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters