Verlede maand
Vrou se shack brand derde keer af
VRAE: Abigail Cederstroom wil weet wie of wat elke keer haar shack laat uitbrand.  ~ Mpumi Kiva

OUDTSHOORN. – ’n Ma van ’n twee weke oue baba leef in vrees nadat haar shack vir die derde keer binne ’n maand afgebrand het.

Inwoners van die GG-plakkerskamp blameer nou tikkoppe vir die brande.

Abigail Cederstroom was gelukkig dat sy en haar baba nie in die jongste brand omgekom het nie.

Dié 32-jarige ma en haar babatjie het ten tyde van die voorvalle by een van haar bure gekuier.

Cederstroom sê vroeg in Februarie het sy van die dorp af teruggekeer en sy haar shack gekry waar dit amper tot op die grond afgebrand het.

Net ’n week ná hierdie voorval moes inwoners weer inspring om die vlamme by haar plekkie te blus.

Verskeie persoonlike besittings soos dokumentasie en klere het in die inferno uitgebrand.

Die GG-kamp is een van die informele buurte in Oudtshoorn wat nie oor elektrisiteit en sanitasiegeriewe beskik nie.

Daar word vermoed die tikkoppe wat gewoonlik items vir scrap agter Cederstroom se shack brand, is die ouens wat agter die brande sit.

Rede

Cederstroom het gesê: “Ek is bang om met my baba in daardie shack te bly, want ek weet nie waar hierdie brande vandaan kom nie.

“Mense brand altyd items hier vir scrap So, ek weet nie of daai die rede agter die brande is nie.”

’n Gemeenskapsleier, Jacky Blom, sê Cederstroom is gelukkig dat die brande uitgebreek het terwyl sy nie tuis was nie.

“Mense wat vure stook om items vir scrap te brand, los daai vure net so as hulle klaar is.

“Daai vure wat net daar brand, versprei dan na ons plekke toe,” het Blom gesê.

Volgens die plaaslike brandweerdienste is die oorsaak van die brand nog nie bekend nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters